Steun vir Biden daal, en SA wil VN vra om nie net dop te hou in Gaza

DONDERDAG MET MERCY

Steun vir Biden daal, en SA wil VN vra om nie net dop te hou in Gaza

MERCY KANNEMEYER skryf oor vetes tussen vroue in die musiekwêreld. WILLEM KEMPEN het hoop vir Bafana Bafana, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 01 Februarie 2024
  • Daagliks
  • 10 min om te lees

Goeiemôre!

1. Die Federale Reserweraad het Amerikaanse rentekoerse gisteraand (SA tyd) onveranderd gelaat, maar weer aangedui dat dit in die komende maande verlaag kan word. Die Fed se beleidskomitee “does not expect it will be appropriate to reduce the target range until it has gained greater confidence that inflation is moving sustainably toward 2%," lui die verklaring.

2. Suid-Afrika wil in 'n debat in die Veiligheidsraad daarop aandring dat die Verenigde Nasies vrede in Gaza afdwing en nie net die situasie dophou nie, het Netwerk24 berig.

3. Die 63-jarige Carol de Swardt het gistermiddag 'n “pragtige, rustige dood gesterf" by die Pegasos-kliniek in die Switserse dorp Liestal, waar sy vroeër vandeesweek uit Suid-Afrika aangekom het. Die aktivis prof. Sean Davison, wat haar in haar dood begelei het, het aan News24 gesê sy was tot op die einde kalm en rustig. De Swardt het haar eie dood beplan omdat sy nie meer kans gesien het vir die daaglikse pyn en lyding weens velkanker nie.

4. Die EFF is steeds woedend oor die Wes-Kaapse hooggeregshof se uitspraak waarvolgens ses van sy senior lede nie volgende week se staatsrede mag bywoon nie. ’n EFF-aansoek wat gevra het dat die skorsing opgehef word wat ná die betogings by  verlede jaar se staatsrede aan hulle opgelê is, is van die rol geskrap. Die ses is Julius Malema, Floyd Shivambu, Marshall Dlamini, Sinawo Tambo, Vuyani Pambo en Mbuyiseni Ndlozi.

5. Die departement van minerale hulpbronne (DMRE) het 'n Kanadees-Suid-Afrikaanse konsortium aangewys om 'n digitale  mynlisensiëringstelsel vir die land te ontwikkel wat kan help om die agterstand met aansoeke vir mynbou en eksplorasie uit die weg te ruim. Die opgehoopte  beleggingswaarde van dié aansoek beloop meer as R30 biljoen.

6. 'n Openbare verhoor oor die DA se omstrede Wetsontwerp oor Provinsiale Magte is laat vaar nadat vermeende ANC-ondersteuners die verrigtinge in Moorreesburg in die Swartland ontwrig het.

7. Slegs 38% van die respondente in die nuutste Reuters/Ipsos-peiling is ten gunste van pres. Joe Biden, het Reuters berig. Dit is twee persentasiepunte laer as Desember se syfer van 40%. Die vernaamste redes wat vir die daling aangegee word, is immigrasie en kommer oor die Amerikaanse ekonomie.


Daar is 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van die Noord- en Wes-Kaap. Uiters warm toestande word ook voorspel vir dele van die Oos- en Wes-Kaap. Die binneland is meestal deels bewolk en warm, maar baie warm in Noordwes en die Vrystaat, waar buie en donderbuie verwag word. Buie word ook verwag in die Kaapprovinsies en in KwaZulu-Natal.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 30°C • Durban 27°C • Kimberley 34°C • Bloemfontein 32°C • Polokwane 26°C • Upington 35°C • Gqeberha 26°C • Oos-Londen 28°C.


Willem Kempen | Die ge-Belgde, Brose pad na Afcon-sukses


'n Mens moet maar versigtig wees om nie te emosioneel betrokke te raak by 'n span wat so vasberade is om te onderpresteer soos Bafana Bafana nie. Dit sê baie dat ons opgewonde word as ons in die stryd om die Afrikanasies-trofee die top-16 haal op 'n vasteland waar baie lande minder geld en hulpbronne het as verskeie van ons voorste klubs. Suid-Afrika was nog net een keer die Afrika-kampioene.

Daar is 'n lang lys van redes vir dié alewige gesukkel: Die energie en dryfkrag van Suid-Afrikaanse sokker lê in die klubs, nie op nasionale vlak nie. Elke groot klub is iemand se persoonlike empire, en klubs stel selde die nasionale belang bo hulle eie. Die grootbase van die PSL en Safa het mekaar alewig aan die keel beet.

En Bafana gaan vinniger deur afrigters as Johannesburg deur burgemeesters. Die huidige een, die Belg Hugo Broos, het onlangs in 'n onderhoud beweer hy het al vier keer vergeefs probeer om al die PSL-afrigters om 'n tafel te kry sodat hulle oor die rol van die klubs in sy nasionale strategie kan praat. Die PSL boikot hom, sê Broos, en stuur nie eens sy briewe aan die klubs nie: “As a result, I was denied entry to the Orlando Pirates stadium three times. Can you imagine that?"

Maar tóg, daar was 'n energie en 'n geesdrif in die lug met 'n paar van Bafana Bafana se onlangse Afcon-oorwinnings wat dit 'n slag lekker maak om na hulle te kyk. En wat 'n mens laat hoop hulle kan weer die trofee wen, of minstens Saterdag se kwarteindstryd teen Kaap Verde (amptelike bevolking: 561 901).

Klein treetjies op 'n slag, ouens...


Image: ANGELA TUCK

Genees in vrede

Die pop- en rapwêreld is verlede week oorheers deur die vete tussen Nicki Minaj en Megan Thee Stallion. In my vrye tyd het ek dié sogenaamde “beef” tussen twee van my gunsteling- swart vroulike rappers getrou gevolg. Hier volg waarom dit ook vir ons saak maak.

Die rapwêreld in Amerika is dekades lank deur mans oorheers. Dink nou maar aan Tupac Shakur, Jay Z, Kanye West, Lil Wayne, 50 Cent, Snoop Dogg, Rick Ross en dies meer. As jy “black American rappers” op Google intik, is Nicki Minaj die enigste vrouenaam wat tussen tientalle mans s'n opkom.

Nicki, Megan, Cardi B, Saweetie en Doja Cat verteenwoordig ’n belangrike demografie binne die boys' club van Amerikaanse rap. Hulle musiek is dikwels bemagtigend vir vroue, hulle omhels sensualiteit en seksualiteit en vier vrouwees op hulle manier. Die laaste deel kry almal nie altyd reg nie (soos in die geval waarvan ek hieronder van gaan vertel).

So, terug na Nicki en Megan. Dié twee het al beide op hulle eie maniere met die gereg te doen gehad. In 2020 is Megan deur Tory Lanez in die voet geskiet. Letterlik. Die saak is in ’n Los Angeles-hof aangehoor en Lanez is uiteindelik tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Dié voorval het Megan se aanhangers vervreem, omdat Lanez ook heelwat  volgelinge in die rapwêreld het. Ieder geval. Nicki se man, Kenny Petty, is glo ’n veroordeelde verkragter en dis daar waar Nicki ook met die gereg gebots het.

Megan en Nicki was vriende, maar soos dinge in die vermaaklikheidsbedryf soms gaan, het kompetisie tussen die twee ’n geweldige uitval veroorsaak. Die een sê aanlyn dié oor daai een, en kort voor lank waai die beskuldigings en mense begin praat uit die huis uit.

In Megan se onlangse liedjie “Hiss” rap sy oor hoe mense vals stories oor haar opmaak en verwys na iemand wat destyds saam met R Kelly gedans het. Op X begin Nicki se aanhangers toe snuf in die neus kry. Nicki spring op die bandwagon en begin beskuldigings na Megan se kant toe gooi. Sy stel ook die liedjie “Big Foot” vry, wat op Megan gemik is. Sy noem Megan onder meer “big foot” (Megan is lank en dra ’n groter skoen as Nicki) en voer aan dat Megan op haar coat tails gery het om roem te verwerf.

Megan se argument was dat haar liggaam natuurlik is, terwyl Nicki al menige operasie ondergaan het om te lyk soos sy lyk. Megan se aanhangers het dit onder Nicki se aandag gebring dat sy liefs nie van ander vroue sleg moet praat terwyl haar man ’n verkragter is nie.  

En hier is hoekom hierdie beef saak maak – hoekom doen ons vroue dit die heeltyd aan mekaar? Ons haal mekaar uit, praat dikwels sleg van ander se  liggame, praat uit die slaapkamer uit en kompeteer so hard met mekaar dat ons soms fokus op ons eie journeys verloor (ek haat die woord journeys, maar nou ja.)

Ek sal graag van mans en gender nonconforming mense wil hoor – doen julle dit ook aan mekaar? Ons is nou al in die hoeveelste golf van feminisme en nog steeds kry sommige vroue dit net nie reg om gesonde en volhoubare verhoudings te handhaaf nie. Megan en Nicki, ek wens julle alles van die beste toe. Gaan genees in vrede.


Op julle merke, gereed, kliek!

Ná 16 maande se gratis lees, gaan Vrye Weekblad van komende Vrydag af agter 'n betaalmuur moet inskuif. Jy gaan net ons uitgawe van 2 Februarie volledig kan lees as jy ingeteken is.

Dit was 'n groot belegging wat ons tot nou toe gratis gehou het, maar nou moet ons dit begin verhaal.

Vrye Weekblad se langtermyn-oorlewing is nou in jou hande. 'n Klein bedraggie elke maand gaan beteken ons gaan gesond en lewenskragtig bly en net beter en beter word.

En ek bedoel klein. R75 vir vier uitgawes, dus R18,75 vir 'n hele naweek se leesgenot, bruikbare inligting en waardevolle idees en menings. (Dit is meer as die helfte minder as wat jy vir jou Sondagkoerant betaal.)

Maar ons spring weg met 'n baie spesiale aanbod: teken vir ses maande in en betaal net R275, dus R11,45 per uitgawe, amper R4 minder as vir 'n brood.

Soos ons laas week verduidelik het, wil Vrye Weekblad sy verbintenis tot 'n beter samelewing ook op 'n praktiese vlak dien, en gaan ons jou vra of jy bereid is om R5 per maand ekstra te betaal wat ons dan aan Ladles of Love en Gift of the Givers gee vir noodleniging aan behoeftiges of om honger en ondervoede kinders kos te gee.

As jy ja sê vir die R5, betaal jy dus R80 per maand. Die R5 is reeds ingereken in die spesiale aanbod van R275 vir ses maande.

En dan is daar ons Staatmakers, lesers wat al aangedui het hulle wil graag meer as die minimum bedrag betaal om ons gesonde oorlewing te verseker. Staatmakers kry 'n hele paar byvoordele:

  • Hulle kan kies of hulle 5 artikels per maand wil stuur aan vriende en kennisse wat nie intekenare is nie; en of hulle iemand wil borg wat nie kan bekostig om in te teken nie.
  • Staatmakers word deel van 'n WhatsApp-groep en kry elke week 'n vars video van my en kollega Anneliese Burgess, plus ander binne-inligting en insae.
  • Staatmakers kan al ons boeke- en ander feeste gratis bywoon.
  • Staatmakers kry 'n wapentjie langs hulle name wat hulle status reflekteer as hulle in ons kommentaarseksie kommentaar lewer.
  • Staatmakers word uitgenooi om ons via die WhatsApp-groep te laat weet watter soort artikels of onderhoude hulle graag sou wou sien.

Die Staatmaker-tarief is R180 per maand, wat die maandelikse R5 vir honger kinders insluit.

En, les bes, as jy regtig nie R75 per maand kan bekostig nie, maar tóg elke week wil lees wat ons aanbied, vra ons jou om 'n boodskap aan Theuns Venter by theuns@vryeweekblad.com te stuur. Ons sal dit hoogs vertroulik hanteer en sal jou via die Staatmakers se bydraes borg.

'n Laaste woord aan my vriende wat dit breër het as die meeste van ons: julle kan gerus vir 'n jaar lank inteken vir R960, of R2 160 in die geval van Staatmakers.

Ja, jy kan per EFT betaal as jy nie jou kredietkaart of debietorder wil gebruik nie.

Dit is baie maklik en eenvoudig om in te teken, maar as jy enige vrae het of êrens in die proses vasbrand, WhatsApp vir Theuns by 071 170 8927 of stuur 'n e-pos na theuns@vryeweekblad.com. Theuns is 'n gawe en geduldige man, hy sal graag help.

Daar gaat ons. Is jy in?

Kliek hier om in te teken.


15

kyk, rondom die wond in die grond
waar die boom afgekap is
nou die ene duistere distansie
krabbel 'n raserny miere
in 'n raaisel van radeloosheid
nog dae daarna

- Breyten Breytenbach

Uit: die windvanger

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.