Kom ons vier fees terwyl die kwik bly styg op pad na day zero

SATERDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Kom ons vier fees terwyl die kwik bly styg op pad na day zero

Ons boekeredakteur ween oor die planeet en ons almal se vuil voetspoor, deel Vrye Tyd- en Boeke-aanbiedings, 'n hoogtepunt op die komende VWB-Cullinan-boekefees, 'n aardigheid wat haar oog gevang het en 'n roerende gedig.

  • 23 Maart 2024
  • Daagliks
  • 6 min om te lees

Dis te laat vir trane

Now is the winter of our disco tent, het iemand Shakespeare se woorde verdraai. Nou is die somer van ons spyt en selfverwyt, swetend, as jy my vra. Dis bloedig warm.

Ons woon in Afrika, waarheen welgestelde bleek Europeërs tydens hulle wintermaande vlug om die son te kom aanbid. Ons hou van biltong, sonneskyn en Chevrolet. Ons sit daar warmpies in. Maar ons taal verraai dat ons ook weet warm is nie altyd ’n goeie ding nie. Om in die warm water te wees, is nie positief nie, ook nie wanneer die wêreld vir jou te warm word nie.

En dit het gebeur. Ek lees gister die maan is vol rommel van onsuksesvolle landings vanaf planeet aarde – die mens strooi vullis oral waar hy kom. Daar lê dus meer as spore op die maan. Ons vuil voetsool vergiftig selfs die ruimte.

Ons het die een bewoonbare planeet deur ons gatte getrek. En dis nie net groot monopolie-kapitaal nie, dis ons, die gewone salaristrekker wat, so gou ons dit kan bekostig, op ’n vliegtuig spring. Wat bestuur waar ons kan loop. Wat verlief was op plastiek. Wat aanhou om hompe biefstuk te verorber en berge tuna en salm vreet. Ons weet Greta Thunberg se toorn is geregverdig, maar ons wil voluit leef terwyl ons nog hier is. Laat die nageslag hulle koolstofvoetspoor verminder. Ons is soos kinders wat met wit kneukels vasklou aan die mallemeule wanneer die skougronde wil toemaak: MY beurt!

Give me one more ride on the merry-go-round.

Ons is chroniese uitstellers. Ons selfsugtige plan om die skuld en gevolge van ons leefstyl aan te gee soos ’n aflosstok het nie gewerk nie. Dis reeds te laat, en ons het nog ’n paar jaar oor in ons. Ysbere gaan dood en kinders moet uit die skool gehou word weens hittegolwe. Moeder Aarde is woedend en gooi die een vloermoer na die ander. Sy wil ons afskud. Die kuikens het huis toe gekom.

Ons deel ’n gek planeet met oligarge en oliebaronne wat hulle laat inspuit met die selle van fetusse en dik sigare rook, moorddadige psigopate wat hulle politieke teenstanders vermoor en tot diep in hulle tagtigs in die kussings bly sit. Ek kan nie meer na hulle kyk op my skerms nie: Putin met sy kosmetiese chirurgie en verskriklike kilheid. Zuma wat die gesig kry wat hy verdien het: in graniet gegiet, soos daardie beskuldigdes wat met moord weggekom het en in hulle eie onskuld bly glo, met ’n onbeskofte smirk en dooie oë. Die ander vent wat alles ontken het en wie se gesig soos ’n klipmasker begin lyk het, het homself doodgeskiet in Hermanus. Bestaan daar wel nog skaamte?

Die enigste slotsom is: Daar is te veel van ons en ons uitskot vergiftig die riviere en die see. Ons is in tamatiestraat, tot by ons ore in stront.

Die natuur het mooi begin regkom tydens die inperking. Miskien moet ons almal weer opgesluit word.

Moenie eens verder lees nie, staan op en gaan plant ’n boom - die dwase hart bly hoopvol.

Of; lees gou oor ons uitgawe:


Dis naweek en ons laaste twee afdelings stel nie teleur nie, maar verleen kleur aan jou dae. Lees Laureen Rossouw se vrae aan die coolste akademikus/ muso/ digter/filosoof Andries Bezuidenhout. Madeleine Barnard se relaas oor haar geneigdheid om in toeristelokvalle te woon, is skreeusnaaks. Emilia Smuts kook kampkos wat jou die blikbord sal laat uitlek. En FOMO gaan weer jou verbruikersdrif aanwakker. 

In die Republiek van Boeke loer ek na die Koreaanse manie, Nadine Petrick gesels met die enigmatiese Anoeschka von Meck, Linza de Jager vertel van 'n Midde-Oosterse vrouespioen in ontwerpersklere en soos altyd vestig Kerneels ons aandag op al die aanloklike nuwe publikasies op die rak. 

As jy weet van mense wat nog nie ingeteken het nie, deel asseblief 'n artikel of twee om hulle lus te maak. 


Image: ANGELA TUCK

Image: ANGELA TUCK

Die tweede VWB-Cullinan-boekefees gebeur van 10 tot 12 Mei in dieselfde venue as verlede jaar, @Church in Oakrylaan 134.

Een van die hoogtepunte, na my mening, is die Sondagoggend se poësievoorlesing in die klipkerkie. Vanjaar is daar 'n ekstra bonus: dis nie slegs 'n voorlesing (deur die legendariese Kleinboer en opkomende sterre Pieter Odendaal en Alwyn Roux nie) maar Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie, hipertalentvolle grafiese kunstenaar, digter en sanger, gaan van haar verse sing. Moet dit nie misloop nie!

Feeskaartjies kos R90 per gesprek, maar daar is ’n Saterdag-winskopie – R500 vir die hele dag se feestelikheid. Kliek hier vir die volledige program en hier om te bespreek by Quicket.

Image: ANGELA TUCK

Dit het ek raakgesien:

'n Mens is nooit te oud om 'n nuwe woord te leer nie, selfs al weet jy nie in watter konteks jy dit ooit gaan inspan nie. In 'n advertensie vir velroom vang die volgende raaiselagtige frase my oog:

Hialuroon anti-plooi duo.

Dit laat my dink aan 'n heel politiek onkorrekte liedjie wat ons as kinders gesing het:

Hakka hakka hokko hokko hiekie hiekie hê,
dis kammalielies wat die Eskimo sê.


Depth of field

“The camera relieves us of the burden of memory ... records in order to forget." — John Berger

We've retold the stories of our lives
by the time we reach Buffalo,
sun coming up diffuse and prehistoric
over the Falls.

A white morning,
sun like paint on the windshield.
You drive, smoke, wear sunglasses.

Rochester, Camera Capital of America.
Stubbing a cigar in the lid of a film cannister,
the Kodak watchman gives directions.

The museum's a wide-angle mansion.
You search the second storey from the lawn,
mentally converting bathrooms to darkrooms.

A thousand photos later,
exhausted by second-guessing
the mind which invisibly surrounds each image,
we nap in a high school parking lot,
sun leaning low as the trees
over the roof of the warm car.

Driving home. The moon's so big and close
I draw a moustache on it and smudge the windshield.
I stick my fingers in your collar to keep you awake.
I can't remember a thing about our lives before this morning.

We left our city at night and return at night.
We buy pineapple and float quietly through the neighbourhood,
thick trees washing themselves in lush darkness,
or in the intimate light of streetlamps.
In summer the planer's heavy with smells of us,
stung with the green odour of gardens.
Heat won't leave the pavement
until night is almost over.

I've loved you all day.
We take the old familiar Intertwine Freeway,
begin the long journey towards each other
as to our home town with all its lights on.

- Anne Michaels

Uit:  The Weight of Oranges / Miner's Pond.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.