Kom rinkink in Cullinan met skrywers en hulle boeke

BOEKEFEES

Kom rinkink in Cullinan met skrywers en hulle boeke

Ons boekeredakteur en redaksielede wil graag saam met jou feesvier in dié geskiedkundige diamantdorpie.

Image: ANGELA TUCK

HET jy al ’n Vrye Weekblad-boekefees meegemaak? Dis ’n hele naweek se plesierigheid op note wat ’n plaasbruilof na ’n makkerige affêre laat lyk.

Vanjaar vier ons die tweede VWB-Cullinan-boekefees. Cullinan is ’n dorpie so 30 km buite Pretoria – jy neem die N4 rigting Emalahleni. Daar is ’n myn, ’n rehab en ’n tronk. Daar is nie beurtkrag nie. Daar is ook vele geskiedkundige geboutjies en heelwat gastehuise en restaurante, soos die beroemde As Greek As It Gets wat aan die legendariese Stavros Vladislavic behoort. Hy is die oom van Ivan Vladisivic, wat by ons fees gaan praat oor sy nuwe boek, The Near North.

Die feesvenue is ’n geskiedkundige kerkgebou en saal in ’n boomryke tuin soos jy die dorp binnery op linkerhand, regoor die Wimpy – @Church, wat nou troues en funksies aanbied. Die kerkie is deur Sir Herbert Baker ontwerp en die Sondagoggend se poësievoordrag gebeur daar, in die gekleurde sonlig wat deur die gebrandskilderde vensters val.

Lesers kan hulle gunsteling-skrywers en VWB-redaksielede ontmoet en ’n hond uit ’n bos gesels oor boeke en die landsituasie. Kom skuur skouers!

Skrywers wat gaan praat sluit in Chanette Paul, Sidney Gilroy, Irna van Zyl, Kleinboer en S.J. Naudé. Karen Horn gesels oor haar nuwe niefiksieboek Prisoners of Jan Smuts, wat in hierdie wêreld afspeel – die Zonderwater-tronk wat eers ’n krygsgevangekamp was, is by die ingang van die dorp.

Leonie van Rensburg se Graffiti verkoop die boeke van skrywers wat optree, en vele meer. Dis informeel en kuier-kuier. Gaste sit by tafels en kos en drank kan heeldag bestel word. Dis ’n groot joligheid wat verlede jaar uitstekend bygewoon is, so bespreek nou jou kaartjies.

Hier is die volledige program. Elke praatjie kos R90 of jy kan ’n Saterdag-pakket koop teen R500, ’n moerse winskopie. 

Vrydag 10 Mei:

17:30: En tog die deuntjie draal: Gielie Hoffmann gesels op die herdenking van Koos du Plessis se verjaarsdag met sy vrou, Mornay, oor Erfdeel. Die talentvolle Mia Malherbe sing van Koos se liedjies.

Saterdag 11 Mei:

09:00: Skirminkels en speurders: Phyllis Green praat met Sidney Gilroy en Irna van Zyl.

10:00: Van rekenaarskerm na silwerskerm: Mercy Kannemeyer gesels met Zelda Bezuidenhout en Henriëtta Gryffenberg oor die verfilming van Die dekonstruksie van Retta Blom.

11:00 The Near North: Louis Gaigher gesels met Ivan Vladisivic oor sy nuwe boek.

12:00 O, die vrolike, o die SALA! Diane de Beer gesels met Onke Mazibuko oor sy bekroonde jeugboek, The Second Verse.

13:00 MIDDAGETE

14:00: Vaders wat haper: Jean Meiring gesels met S.J. Naudé oor Van vaders en vlugtelinge

15:00: Vywervrou-woeker: Ilse Salzwedel gesels met Chanette Paul oor haar 50ste roman, Anoniem, wat net hier op ons fees bekendgestel word.

16:00: Zonderwater en ver van die huis: Deborah Steinmair gesels met Karen Horn oor haar niefiksieboek oor Italiaanse krygsgevanges: Prisoners of Jan Smuts.

17:00: Psigopatiese nasie: Anneliese Burgess praat met Karl Kemp oor sy boek Why We Kill.

18:00: Kopstukke: ’n Witwarm politieke gesprek oor die verkiesing en ander sake van die dag met Piet Croucamp en JP Landman.

Sondag 12 Mei:

10:00: Boekevat: Ilse van Staden, Kleinboer, Lucinda Neethling, Alwyn Roux en Pieter Odendaal lees en sing hulle verse in die klipkerkie.

By @Church venue, Oaklaan 134. Boekwinkel deur Graffiti op die perseel, kos en drank word deurentyd bedien. Bespreek kaartjies by Quicket.

Navrae: deborah.steinmair@gmail.com

Sondagmiddag om 12:30 hou @Church ’n moedersdagmiddagete met Lidi de Waal wat haar verse opvoer saam met die kitaarspeler Leon Ecroignard. Van haar kunswerke word uitgestal. Hierdie ete word nie deur Quicket nie, maar by die eienaar, Anita, bespreek: 061 274 9743.

Image: ANGELA TUCK

Kyk, ahem, wat het kunsjoernalis Diane de Beer oor Vrye Weekblad se boekefeeste gesê:

The dazzle and dare of Deborah is what makes you an ardent fan of her outspoken columns, all of which you wish you had said. And she brings that same flair and fanciful fanfare to a book festival – which is why these Vrye Weekblad festivals are worth watching out for. And a grand addition to the Afrikaans literary scene.

Dink vir jouself! Bespreek verblyf by Lekkeslaap en kaartjies by Quicket.

Sien jou daar!

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.