’n Boom soos Beethoven onder die maan + ’n waarheid oor óns...

SALIGE SONDAG

’n Boom soos Beethoven onder die maan + ’n waarheid oor óns álmal in Pondoland

ANNELIESE BURGESS sit in die donker onder 'n oer-natalfikus. Die maan hang soos 'n peer in die donker. Sy lees Herman Hesse se meditasie oor bome. En woon op Menseregtedag 'n politieke rally in diep-Pondoland by waar gedagtes oor menswees en Suid-Afrikaner-wees in haar gemoed broei.

Goeiemôre

Ek groet vanoggend van 'n gastehuis bo-op 'n heuwel met ’n glimmende rivier wat wegraak in die verte op 'n draai van riete en bos. Anderkant lê die see.

Ek is in Port Edward.

Ek mymer vandag vir oulaas hier op 'n Sondag in Vrye Weekblad. Van volgende week gesels ek verder met 'n paar ander skollies (Piet, Laureen en Ali) by Binne+Land. Klik hier om jou naam gratis op die lys te sit vir ons nuusbriewe.

Ek ken KwaZulu-Natal nie soos ek die Oos-Kaap of die Wes-Kaap ken nie. Ek kom min hier. Dit voel elke keer vir my opwindend-vreemd. Ek en dr. Siyabulela Manona, 'n spesialis in grondregte en stadsbeplanning, vlieg Woensdag uit Oos-London Durban toe.

Die lug ruik anders as in die Kaap of Johannesburg. 'n Stroperige groen ruigheid. En die tropiese vibrasie van nat hitte. 

Ons ry suid. Makadamiabome, heuwels suikkerriet en wuiwende piesangboorde – verby die afrit na ’n koffieplantasie. Geel en rooi en oranje hibiskusse. En oral blinkvet botter-avokado's te koop, opgestapel in hopies langs die pad.

Die steil oprit na ons gastehuis se plaveisel kom plek-plek los. Die terracottamure is geverf met sebras en olifante en vroue wat pynappels in mandjies op hulle koppe dra. Alles is so effe plattelands-DIY op daardie manier wat jou onmiddellik tuis laat voel.

Die beste ding is die tuin. Eintlik 'n woud. Oerbome oordadig getooi met klimop in pieringgroot blare wat ek nie ken nie. Voor my kamervenster hang 'n krul rooi bloeisels, ragfyne kruissteek teen die lig.

Ek sukkel om te slaap. Gaan sit op die stoep. Die simfonie van palms het 'n ander frekwensie as die eensame gesuis van bloekoms, of die afsydige skoon hartseer van 'n koraalboom. 'n Natalfikus sug op 'n ander manier as 'n doringboom. Die dun blaartjies van 'n stinkhout fluister anders as die naalde van ’n denneboom. Of fraiings wilger. Of die geritsel van 'n moerbei se droë papierblare.

Ek het Herman Hesse se Bäume: Betrachtungen und Gedichte op my boekrak. Dit moes van my ma gekom het. Sy meditasie oor bome bevat min of meer die gunstelinge onder al my gunstelingwoorde. Daar is die heilige waarheid, en dan is daar dit wat heiligwaar is. Hierdie val in daardie kategorie (gereelde lesers sal nou al weet van my geheime verhouding met bome ... bear with me). 

For me, trees have always been the most penetrating preachers. I revere them when they live in tribes, families, forests, and groves. Even more, I revere them when they stand alone. They are like lonely people. Not like hermits who have stolen away out of some weakness, but like great, solitary men like Beethoven and Nietzsche. 

A tree says: My strength is trust. I know nothing about my fathers. I know nothing about the thousand children that every year spring out of me. I live out the secret of my seed to the very end, and I care for nothing else. I trust that God is in me. I trust that my labour is holy. Out of this trust I live.


Sigidi toe

Ons is hier vir ’n menseregte-rally in Sigidi village diep in Pondoland. In die hartland van die grond van die Amadiba-clan. So aan die rand van my joernalistieke werk doen ek mediawerk vir die Amadiba Crisis Committee (ACC), ’n gemeenskapsorganisasie wat baklei om die roete van Sanral se nuwe N2-hoofweg te verander – weg van die ongerepte kusstrook waar die plan is om die pad te laat deursny na 'n binnelandse roete wat 'n paar kilometer langer is, maar sal loop waar daar reeds 'n pad is.

Dit is 'n diep ding hierdie.

Dit gaan oor die beskerming van 'n lewenswyse waarin mense in baie nou simbiose met die natuur woon. Dit is weerstand teen sogenaamde “development" wat afgedwing word op mense wat dit nie wil hê nie. Dit gaan oor roofgierigheid en stiksienigheid. Oor ontwikkeling wat voorgehou word as vooruitgang. Maar afgedruk op mense in 'n gedaante wat hulle nie wil hê nie, óf voor gevra het nie. In die markiestent praat Nonhle Mbuthuma, segspersoon van die ACC, met ek skat so duisend mense wat te voet hierheen gekom het uit die villages, maar ook met taxi's van verder af. Sy praat in isi-Xhosa. Hier is wat ek hoor:

“Hoe wil ons ons lewens lei? Dit is hoekom ons vandag hier is. Om te besluit hoe ons wil lewe. Ons moet nie vir mense vra vir ontwikkeling nie. Ons moet ons eie ontwikkeling kies. Hoekom vra dat ander ons ontwikkel? Wanneer ontwikkeling kom, wil ons kies hoe dit lyk. Dit moet jou ontwikkel, nie iemand anders ontwikkel nie."

Daar is 'n verhoog met 'n tafel. Agter die tafel sit die hoof iNduna (hoofman) en drie iNkosanas (letterlik vertaal, “klein hoofman"). Een van hulle is 'n vrou. Sy dien ook in die uitvoerende komitee van die ACC. Op haar T-hemp staan: “We have the right to say no." Op die tafel is drie skottels. Een het krewe in. Die ander vis. En die derde, hoender.

Onder links: Cromwell Sonjica
Onder links: Cromwell Sonjica

Mbuthuma haal 'n kreef uit en hou dit omhoog.

“Sprinkane sal geld meer waardeer as jou lewe. Kom ons beskerm ons lewe, die toekoms van ons kinders. Kom ons beskerm alles waarvan ons lewe. Mense van die stad moet weet dat jy mielies plant, jy soetpatats plant, jy bokke grootmaak, jy beeste grootmaak, jy pampoene kweek, jy vrugte van die see oes. Onderhou hierdie dinge jou nie?"

Iemand uit die gemeenskap het dit vir my só verduidelik:

“Dit is soos rotse wat by 'n berg afrol. Die eerste rots was die Australiese maatskappy wat ons duine wou kom oopgrou vir minerale. Ons het hulle gestop in die hof. Die tweede rots was Shell wat wou kom seismiese opnames doen hier in die see wat vir ons heilig is en waar ons voorvaders lewe. Ons het hulle gestop. Nou is daar hierdie derde rots. Die pad, waar hulle hom wil laat loop. Deur ons mees vrugbare grond. Ons wil 'n pad hê, maar hoekom kan hy nie loop daar waar daar reeds 'n pad loop nie?"

Die gemeenskap wat die Amadiba Crisis Committee verteenwoordig glo dat die roete van die pad eintlik oor iets anders gaan. Dat dit 'n manier is om hulle grond toeganklik te maak vir die mynmaatskappye wat steeds wil kom titaan uithaal, en net hulle kans afwag. 

Die weerstand het teen 'n verskriklike prys gekom. Die voormalige voorsitter van die ACC, Sikhosiphi “Bazooka" Radebe, is in 2016 voor sy huis (en sy tienerseun) in Bizana doodgeskiet deur twee mans wat hulle as polisielede voorgedoen het. Mbuthuma  leef met gedurige doodsdreigemente en het twee permanente lyfwagte. Niemand is tot vandag toe vir Bazooka se moord aangekla nie.

Bo links: Nonhle Mbuthuma en Henk Smith ('n prokureur wat in die ACC se tegniese span dien). Regs: Songezo Zibi
Bo links: Nonhle Mbuthuma en Henk Smith ('n prokureur wat in die ACC se tegniese span dien). Regs: Songezo Zibi

Sirkels binne sirkels

Die aand op die stoep in die donker draai my gedagtes na hoekom ek hier is. Hoekom ek die uitnodiging aanvaar het om te kom help met die Amadiba se stryd. Daar was dae die afgelope ses maande wat ek gewonder het hoe ek dit gaan bybring tussen al die ander broodwinnerdinge deur. Ek het skaars grondgevat tuis ná vier weke weg, toe moes ek weer op 'n vliegtuig klim hierheen.

Ek het verlede jaar instinktief net ja gesê. Maar ná die paar dae hier, weet ek nou hoekom ek ja gesê het. Die afgelope jare het ek tot 'n inkering gekom, 'n tipe spirituele ding wat niks met godsdiens te doen het nie. 'n Distillering oor wat belangrik is vir my. En wat sin maak in 'n wêreld waarin elkeen van ons maar net 'n stofspikkel is in die eindelose kosmiese sirkel van die ewigheid.

Die wêreld is by 'n kantelpunt. Die drill-baby-drill-wêreldbeskouing van hotel- en gholfbaanbouers wat dink ons kan net aanhou vat en afkap en afbrand en grou en grawe en sementgooi en die aarde ontgin vir minerale en brandgoed neem ons na 'n afgrond. Trouens, ons staan op daardie afgrond.

Ek staan nou aan die ander kant van die growwe dissipels van eindelose ontginning, militant met my vuis in die lug, en sê: Ek luister na die bome. 

When a tree is cut down and reveals its naked death wound to the sun, one can read its whole history in the luminous, inscribed disk of its trunk: in the rings of its years, its scars, all the struggle, all the suffering, all the sickness, all the happiness and prosperity stand truly written, the narrow years and the luxurious years, the attacks withstood, the storms endured. And every young farmboy knows that the hardest and noblest wood has the narrowest rings, that high on the mountains and in continuing danger, the most indestructible, the strongest, the ideal trees grow.


The noblest wood

Ons vergader Vrydagoggend vir koffie by die KFC in Port Edward. Ek is deel van die Amadiba Crisis Committee se tegniese span, 'n klein groep beroepsmense – kenners op verskeie gebiede en meeste van ons met wortels in die aktivisme van die '80's en '90's. Ons wag vir Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi en voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Scopa). Hy kom die rally bywoon en sal ook die vergadering toespreek. Ons ry soontoe in 'n konvooi.

'n Groot tent is langs die plaaslike skool opgeslaan. Die vure brand al. Dit voel só bekend Suid-Afrikaans. Vroue wat groente skil en groot potte roer. Die goed geoliede masjien van 'n plattelandse saamtrek. Stoele word uitgepak. In een van die klaskamers oefen die skoolkoor vir hulle optrede later.

Ons hou vergadering saam met Zibi. Die armoede van die gemeenskap word weerspieël in die gestrooptheid van die klaskamers. Mens durf nie dié swaarkry verromantiseer nie. Daar is min of meer niks behalwe skoolbanke en 'n swartbord in elke klaskamer. En 'n paar handgeskrewe plakkate teen die muur. Die skool is deur die gemeenskap gebou. Letterlik, steen vir steen. Daar is geen staatshulp nie, hoor ek, behalwe die betaling van die sewe onderwysers se salarisse. (Ek sit en wonder of daar nie 'n manier is waarop ons as die Sondagbrief-gemeenskap iets kan doen om te help nie. Die skool kort álles. Van boeke tot speelgoed tot skryfbehoeftes. Anyway, dit eers daargelaat.)

Gesange, spesifiek die tradisie van roep-en-antwoord-liedere (ingoma) is 'n integrale deel van enige Xhosa-byeenkoms. Elke soort geleentheid soos bruilofvieringe, inisiasieseremonies, oesfeesvieringe of geestelike byeenkomste het sy eie tipe ingoma.

Dit is 'n manier om gedeelde waardes uit te druk, mondelingse geskiedenis te bewaar en tradisionele danse te begelei. Ek sit op die gras voor die eerste ry stoele sodat ek foto's kan neem, en voel, nie vir die eerste keer in my lewe nie, oorrompel deur die perfekte harmonieë wat deur die gehoor vloei. Die voorsanger is een van die leiers van die ACC, Cromwell Sonjica. 

“Jy kan nie hier in Pondoland inkom en doen wat jy wil nie," sing hy. “Nee, jy kan nie hier inkom en doen wat jy wil nie," is die antword. “Dit is ons lewe," sing hy. “Dit is ons lewe," antwoord die gehoor, en die harmonieë vleg deur die roep-en-antwoord. 'n Rivier wat om boomstompe en klippe loop, af met 'n waterval, dan stadig weer om 'n draai na 'n stil poel. Ek wens ek kon die woorde beter ontrafel. My kennis van isi-Xhosa is nie genoeg om by te hou by die diep-Xhosa nie.

Die sangomas van die gemeenskap dans in 'n lang ry in. Die skoolkoor sing. Daar is speeches. Elke nou en dan is daar 'n reaksie op wat gesê word – uit die gehoor, in sangvorm, en dan sing almal saam. 

Ek het nie regtig die woorde om te verduidelik hoe diep dit my roer nie, behalwe om te sê dat dit vreugdevol en waardig en beautiful is – gewortel in tradisies wat generasies en generasies terug strek. Nie net die musikale tradisie nie, maar ook 'n tradisie van weerstand onder die Amapondo-mense teen inmenging van buite wat strek tot terug in koloniale tye.

Bo regs: Nonhle Mbuthuma
Bo regs: Nonhle Mbuthuma

Die verrigtinge word afgesluit met gebed (nes die boerebyeenkomste op die platteland waarmee ek grootgeword het). En dan eet 1 000 mense of so beeskerrie en gestoofde hoender. Pampoen en groenbone. Aartappels, rys, boneslaai, beetslaai en kool. En fyngekapte tamatie, uie en bietjie chili (dieselfde kos wat jy by enige byeenkoms sal kry waar die raakvattervroue van die Vroue Landbouvereniging in charge is).

Jissie mense, daar is soveel wat ons Suid-Afrikaners met mekaar verbind, maar ons bly nog so verwyderd van mekaar se wêrelde. 

Toe ek gisteraand (weer) nie kan slaap nie, en (weer) op die stoep sit, is daar 'n waarheid wat in my hart woord word. Hierdie werk is 'n voorreg. En om hier te kon wees, op hierdie dag, op hierdie plek was 'n voorreg. En ek is dankbaar dat ek deel mag wees. Daar is sirkels binne sirkels. En hierdie is 'n sirkel wat ek moet voltooi.

Ek is aan die kant van die bome. En aan die kant van die Amadiba-mense. Hulle fight is 'n fight vir ons almal. Vir 'n ander manier om na die wêreld te kyk. En vir wat belangrik is om 'n goeie lewe, een van betekenis, te kan lei. 

Trees have long thoughts, long breathing, and restfulness, just as they have longer lives than ours. They are wiser than we are, as long as we do not listen to them. But when we have learned how to listen to trees, then the brevity and the quickness and the childlike hastiness of our thoughts achieve an incomparable joy. Whoever has learned how to listen to trees no longer wants to be a tree. He wants to be nothing except what he is. That is home. That is happiness.

Daarmee groet ek vir oulaas hier.

En sê vir oulaas, Salige Sondag

AB


Sometimes

Sometimes
if you move carefully
through the forest,
breathing
like the ones
in the old stories,
who could cross
a shimmering bed of leaves
without a sound,
you come to a place
whose only task
is to trouble you
with tiny
but frightening requests,
conceived out of nowhere
but in this place
beginning to lead everywhere.
Requests to stop what
you are doing right now,
and
to stop what you
are becoming
while you do it,
questions
that can make
or unmake
a life,
questions
that have patiently
waited for you,
questions
that have no right
to go away.

– David Whyte


Lees

“The New Yorker House Style Joins the Internet Age,” 'n kort stuk deur Andrew Boynton oor The New Yorker se styl-opdaterings (“in box" is nou “inbox"! Nooit gedink ons sou die dag sien nie 🤣). Ek het ook gelag oor hulle “teen-ager" behou. Wow. En hulle bly verknog aan 'n deelteken, soos in “reëxamination”. 

Beaver wild release: a milestone for nature recovery in England

Ná eeue van afwesigheid begin bewers terugkeer na die Engelse landskap. Die soogdiere, wat tot op die rand van uitwissing gejag is, word nou teruggebring na riviere en vleilande, saam met hulle rykdom ekologiese voordele. 

Is planting trees “DEI"? Trump administration cuts nationwide tree-planting effort

Nes jy dink dinge kan nie weirder raak nie, dan lees jy dié. I rest my case, Your Honour.

Luister

Eddy Grant is 'n Guyaans-Britse sanger. Toe hierdie anti-apartheidliedjie vrygestel is, het dit 'n groot treffer in Europa geword, maar dis verban in Suid-Afrika. “Jo'anna" verwys na Johannesburg en die liedjie het die hoop om verandering in Suid-Afrika uitgespreek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.