Vrye Weekblad was nooit bedoel om ’n veilige hawe te wees nie

MAANDAG MET MAX

Vrye Weekblad was nooit bedoel om ’n veilige hawe te wees nie

Dwarsdeur sy loopbaan moes MAX DU PREEZ kies tussen joernalistiek as vermaak en gerusstelling, en om ongemaklike, selfs pynlike waarhede te ontbloot. Vrye Weekblad het in al sy gedaantes die regte keuse gemaak en betaal 'n duur prys daarvoor. Plus sewe goed wat jy vandag wil weet.

WAT MAAK ALI DAAR? | 15+ vrae aan Vrye Weekblad se inhoudsredakteur.

Kliek hier om te lees


1. Cyril Ramaphosa se beroep op ANC-lede om beheers oor die terugkeer van die uitgeskopte ambassadeur in Washington, Ebrahim Rasool, op te tree, het op dowe ore geval – insluitende dié van Rasool self. Hy is by sy aankoms op die Kaapstadse lughawe deur honderdes verwelkom en het aan hulle gesê hy staan by wat hy gesê het toe hy Donald Trump skerp gekritiseer het. 'n SAKP-leier, Benson Ngqentsu, het gesê dit was belangrik dat Rasool “refused to submit to rightwing populist, authoritarian Western imperialists”. Die leier van die ANC se veteraneliga, Snuki Zikalala, het vroeër in ‘n verklaring gesê: “As the ANC, our strategic position, both politically and diplomatically, should be to oppose, call out, and build alliances against the rising reactionary, imperialist moves of Trump and his allies. It is naïve to believe that you can rebuild diplomatic relations with an implacable enemy.”

2. Intussen stroom voorstelle vir Rasool se plaasvervanger as ambassadeur in die VSA in. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, stel voor die oudleier van die party wat tevore as ambassadeur in Argentinië gedien het, Tony Leon. Die DA verwerp adjunk-minister en ANC-veteraan Andries Nel. Uit die sakesektor word die naam van oud-minister Trevor Manuel genoem. Die presidensie se reaksie is dat Ramaphosa nie haastig is om die aanstelling te maak nie – “he is applying his mind”.

3. Meer as 50 000 Palestyne is al in Gaza dood nadat Israel die enklave in weerwraak op 'n Hamas-aanval op 7 Oktober voorverlede jaar binnegeval het, sê die gesondheidsowerhede in Gaza. Die meeste is vroue en kinders. Die uiteindelike getal gaan waarskynlik heelwat hoër wees, want baie lyke is onder die puin begrawe. Israel het sy bombardering en grondoffensief die naweek voortgesit nadat hy die staakvuurooreenkoms met Hamas verbreek het. 'n Senior politieke leier van Hamas, Salah al-Bardaweel, was gister een van die slagoffers.

4. Daar is 'n dringende behoefte vir die ANC en die IVP om te versoen, het die IVP se adjunk-president en minister van staatsdiens en administrasie, Mzamo Buthelezi, by die IVP se 50ste verjaardagherdenking in Ulundi gesê. Tienduisende IVP- en ANC-ondersteuners het in die laat-1980’s en vroeë 1990’s in die konflik tussen die twee partye gesterf.

5. Die SA Nasionale Weermag wil heelwat meer wit rekrute werf. Die sowat 5% wit verteenwoordiging in die laer range bereik nie die vereiste kwota nie, berig Rapport.

6. 'n Gesiene oudregter van die Amerikaanse federale appèlhof en konserwatiewe akademikus, J. Michael Luttig, sê Donald Trump het oorlog teen die Amerikaanse regstelsel verklaar. “President Trump has wasted no time in his second term in declaring war on the nation’s federal judiciary, the country’s legal profession, and the rule of law. He has provoked a constitutional crisis with his stunning frontal assault on the third branch of government and the American system of justice.”

7. Trump se spesiale gesant wat met die vredespogings in Oekraïne gemoeid is, Steve Witkoff, sê die Britse premier, Keir Starmer, se voorstel dat 'n internasionale mag 'n skietstilstand in Oekraïne monitor is bloot “a posture and a pose" en “simplistic”. Hy het in 'n onderhoud met die omstrede Tucker Carlson gesê Europese leiers dink hulle moet almal soos Winston Churchill wees. “I don't regard [Russiese Pres. Vladimir] Putin as a bad guy," sê Witkoff. “He's super smart."


Mededeling van ’n mislukte redakteur

Goeiedag!

Hier is my laaste brief aan Vrye Weekblad-lesers. Vergun my asseblief 'n tikkie melankolie en nostalgie.

Ek is vandag al 51 jaar, vier maande en 19 dae lank 'n joernalis, vandat ek 22 jaar oud was.

Ek het in dié tyd vir 'n hele klompie mediahuise gewerk, maar net een keer bedank – in 1983, toe ek uit protes van Afrikaanse na Engelstalige koerante verskuif het. Die ander kere is ek afgedank of het die publikasie waarvoor ek gewerk het, gesneuwel.

Wat 'n patetiese rekord.

Die Financial Mail was in die proses om my af te dank omdat ek aanhou skryf het oor die skandes wat die De Beers-mynmaatskappy, wat deel van die publikasie se eienaarskap was, met sy diamantontginning in Namibië gemaak het. My beriggewing het gehelp om 'n regterlike kommissie van ondersoek te loods wat my beriggewing as korrek bewys het.

Maar Tertius Myburgh, toe redakteur van die Sunday Times wat in dieselfde stal as die Financial Mail was, het my gered en as sy politieke redakteur aangestel. Hy was 'n gawe, joviale man, maar sy kwalik gekamoefleerde steun vir die ou apartheidsbewind (terwyl hy teen Klein Apartheid baklei het), was vir my onverteerbaar.

Maar toe ek wou bedank, het Ken Owen my sy politieke redakteur by Business Day in dieselfde stal gemaak. Toe ek in 1987 saam met Frederik Van Zyl Slabbert en Breyten Breytenbach aan die simboliese Dakar Safari deelgeneem en die ANC se leierskap in ballingskap ontmoet het, het Owen my afgedank.

Die Dakar-ervaring het in 1988 tot die stigting van Vrye Weekblad gelei; 'n kompromislose pionier-koerant wat knaend met die ou regime gebots het.

Daar is iets was ek nog nooit vertel het nie. Ek het deeglik besef dat die apartheidstaat en die Afrikaanse establishment ernstig aanstoot sou neem met wat ek in gedagte gehad het. Die enigste wyse, ervare Afrikaanse joernalis wat ek om raad kon gaan vra het, was Rykie van Reenen, een van die rare werklike helde van die Afrikaanse joernalistiek. Dit was Rykie se geesdriftige ondersteuning vir die projek wat my uiteindelik laat voortgaan het. Sy het boonop gesê: “Moenie luister as mense sê jy is te jonk nie, jy’s net mooi oud genoeg.” Ek was toe 35 jaar oud.

(Dalk moet ek die geleentheid gebruik om iets reg te stel: die inisiatief en voorbereiding van Vrye Weekblad was myne, maar ek het gou met 'n gewaardeerde mede-andersdenkende wat 'n ruk lank by die Sunday Times saam met my gewerk het, Elsabé Wessels, kragte gesnoer. Sy was 'n baie beter netwerker as ek en het ons eerste befondsing ingebring. In die vertel van ons koerant se geskiedenis het Elsabé nooit genoeg erkenning gekry nie.

'n Jong staatsaanklaer van Kaapstad, Karien Norval, vandag 'n prominente prokureur, was so begeester deur die idee dat sy saam met ons Johannesburg toe getrek het en die proses bestuur het. Ons het toe vir Chris du Plessis, Jacques Pauw, Koos Coetzee en Victor Munnik betrek, en dit is die span waarmee ons begin het. Kort daarna het mense soos Hennie Serfontein, Ryk Hattingh, Audrey Brown, Ina van der Linde en later ook my geliefde vriendin Martie Retief-Meiring by ons aangesluit.)

In Februarie 1994 moes ons Vrye Weekblad sluit nadat ons 'n ellelange en duur lastersaak verloor het van 'n polisiegeneraal wat ons tot apartheid se eie Dr. Mengele gedoop het, Lothar Neethling. Getuienis wat later en tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie gelewer is, het bewys dit was 'n flagrante verkragting van regspraak.

Ek is toe na die SAUK genooi waar Zwelakhe Sisulu die leisels oorgeneem en dit van 'n staatsuitsaaier na 'n openbare uitsaaier begin transformeer het. My tyd as spanleier van die Special Report on the TRC is 'n hoogtepunt van my loopbaan.

Maar ná Sisulu se vertrek in 1997 het die ANC commissars begin om die SAUK weer 'n staatsuitsaaier, 'n mondstuk van die regerende party, te maak. Ek het teruggedruk en in 1999 is ek onseremonieel afgedank – die uiteindelike rede wat die base vir my afdanking gegee het, was dat ek nie die korporasie se leierskap eerbiedig het nie, en dit was nie 'n aanklag wat ek kon ontken nie.

Ek was 'n dwars Boer; 'n moeilikheidmaker, 'n kwaadstoker, nie 'n spanspeler nie en as sulks was my kanse op indiensneming nul.

Ek het toe 'n paar dokumentêre films gemaak en boeke geskryf, en intussen, om die pot aan die kook te hou, betaalde toesprake gelewer en selfs groot korporasies met hulle onderhandelings met die mededingingskommissie gehelp – en obsene bedrae geld daarvoor gekry.

Ek het uiteindelik 'n dosyn boeke oor die geskiedenis en die politiek, dus steeds joernalistiek, geskryf en, anders as wat iemand onlangs in Vrye Weekblad se kommentaarkolomme geskryf het, het dit baie goed verkoop – op een na (oor Vrye Weekblad, met die titel Oranje Blanje Blues), het almal herdrukke en selfs opgedateerde uitgawes beleef en my laaste boek het die Alan Paton-toekenning ontvang. Ek hou van boeke skryf.

Ek was ook van 2000 vir amper twee dekades 'n weeklikse politieke rubriekskrywer, eers vir die koerante van die Independent-groep totdat my kritiek op Jacob Zuma vir hulle te erg geword het, en toe vir news24.com, Die Burger en Beeld.

Maar toe kom Arena Holdings in 2019 en oorreed my om Vrye Weekblad digitaal te laat herleef. Ek het my ou Vrye Weekblad-kameraad Jacques Pauw en my TRC Special Report-kollega Anneliese Burgess geraadpleeg en tot die projek ingestem. Jacques is na 'n paar maande weg en Anneliese verlede jaar.

Dit was nie 'n goeie huwelik nie en Arena het in 2022 besluit om Vrye Weekblad te staak.

Gelukkig was ek die eienaar van die handelsmerk, die webdomein, die argiewe en alle intellektuele eiendom. 'n Paar dae voor ons laaste uitgawe het 'n Afrikaanssprekende internasionale sakeman wat uit Londen en Washington werk, André Pienaar, aangebied om die voortbestaan van die ikoniese titel te befonds.

Vrye Weekblad 3.0 is gebore.

Dit was 'n absolute fees. Die tydsgewrig en politieke klimaat was uiteraard gans anders as dié van 1988, maar ons het die gees van die ou Vrye Weekblad laat herleef. G’n respek vir g’n niemand in gesag nie; g’n heilige koeie nie; avontuurlik, ondersoekend, eksperimenterend en energiek; en boonop 'n baie hoë premie op goeie skryfwerk. Afrikaans op sy beste en loslittigste.

Ter ere aan André Pienaar moet ek dit hier konstateer dat hy nooit probeer het om aan ons op die redaksie voor te skryf wat ons moet of nie moet publiseer nie. Die luukse van nie oor jou skouer na jou uitgewersmaatskappy hoef te loer nie, is nie vir baie joernaliste beskore nie.

Ons het te lank gewag om intekenare te vra om te betaal, en toe ons dit verlede jaar doen, was ons reeds finansieel te onstabiel om bemarking te doen of spesiale projekte aan te pak. Ons moes selfs ons heerlike boekefeeste kanselleer. Ons het gesukkel om medewerkers te betaal en ons redaksie het tot 'n geraamte verklein.

Vrye Weekblad se lesers is enige uitgewer of redakteur se droom: lojaal, medelewend, intelligent, oopkop en verdraagsaam. Daar was uiteindelik net nie genoeg van hulle wat R75 per maand wou betaal nie.

En so het ons aan die einde van die pad gekom. Vrydag is ons laaste uitgawe.

Ek kan dit met groot oortuiging sê: Vrye Weekblad het in sy drie gedaantes die heel, heel beste joernalistiek ooit in Afrikaans en in Suid-Afrika gepleeg.

Ek is baie trots daarop dat ek 'n aandeel daarin gehad het, en baie dankbaar vir die redaksielede wat onder uiters moeilike omstandighede tot die einde vasgebyt het. Ek is ewe dankbaar vir die vele talentvolle mense – skrywers, denkers, kakmakers, akademici, vryskutjoernaliste – aan wie Vrye Weekblad ruimte kon bied.

Soos Piet Croucamp. 'n Skerper, indringender en meer onafhanklike denker en ontleder van die politiek is daar nie vandag in Afrikaans nie. Die outjies wat hom nou so slegsê, is vervelige intellektuele en morele dwergies vergeleke met Piet.

Ek dink nie daar gaan ooit weer iets soos Vrye Weekblad in Afrikaans wees nie. Dit is Afrikaans se verlies.

Veel is die laaste weke gesê en geskryf oor hoekom Vrye Weekblad toe nie 'n kommersiële sukses was nie. Ons was kwansuis weer nie, soos die aanklag met Vrye Weekblad 1.0 ook was, “binne hoorafstand van ons lesers” nie. Ons was te krities, te links, te liberaal, te progressief, te woke; hoe kan ons verwag dat mense ons moet lees as ons aanhou om hulle gevestigde lewens- en wêreldbeskouing uit te daag?

Dit is die ewige vraag in my beroep: tot watter mate moet jy jou leser se vooroordele bevestig, sy/haar gemaksone onverstoord laat om te verseker dat hy/sy jou aanhou lees?

Ek dog dan dis net die woke-kommando wat aandring op “safe spaces” op kampusse en elders waar niemand “getrigger” mag word nie?

Verkoop ons 'n produk soos waspoeier, of dien ons allereers 'n gesonde, feit-gebaseerde openbare mening, dit wat 'n demokrasie gesond hou?

Ja, ek is 'n mislukte redakteur. Maar as ek weer moes kies, sal dit steeds die pad wees van joernaliste wat die ongemaklike waarheid bo gewildheid en winsgewendheid gekies het.

Mense soos Maria Ressa, die Filippynse joernalis wat opeenvolgende regerings uitgedaag en 'n duur prys daarvoor betaal het. Haar uitstekende digitale publikasie Rappler is ongewild by die meeste Filippyne. (Sy het in 2021 die Nobelprys vir Vrede ontvang.)

Of iemand soos die veteraan Israelse joernalis Gideon Levy, een van die enkele Israelse mediamense wat krities is teenoor Israel se oorlog op die mense van Gaza. Levy word wyd as 'n verraaier in sy land gesien.

Hy lewer in sy jongste rubriek in die progressiewe Israelse koerant Haaretz skerp kritiek op die Israelse media se stilswye oor die lot van die Palestyne en aktiewe toesmeer van die weermag se oorlogsmisdade in Gaza.

Hy skryf: “Should Gaza still be erased from view? Should what's happening there be concealed, denied and suppressed? All just to satisfy and entertain, and avoid upsetting the audience, God forbid?” Ja, Levy is seker ook skuldig daaraan dat hy nie “binne hoorafstand van sy mense” is nie. Sot.

As ek in die vermaaklikheidsbedryf wou gewees het of wins wou najaag, sou ek nie 'n joernalis geword het nie.

Nee, dit is darem nie heeltemal so wit en swart nie. Filantropiese joernalistiek het sy eie beperkinge, soos selfopgelegde sensuur om nie skenkers te vervreem nie. Die ideaal is dat 'n koerant op sy/haar eie bene moet kan staan, ten minste moet kan gelyk breek, al is dit met die hulp van feeste, promosies, funksies en ander aktiwiteite.

Dalk is Netwerk24.com se resep om nuusberigte met stories uit Huisgenoot, Sarie en Weg af te wissel en sterk op misdaad, sport en Afrikaanse celebrities te fokus, die antwoord – ek neem aan die hoop is dat ten minste sommige lesers ook die moeite gaan doen om van die meer substansievolle artikels te lees. My persoonlike gevoel as Netwerk24-leser is dat die resep die joernalistieke aanbieding ietwat trivialiseer.

Maar moenie jou aan my steur nie. Daar is nie meer plek vir puriste en idealiste soos ek nie.

My persoonlike dampkring is nou nie juis jou tipiese AfriForum-ondersteuner nie. En dit was vir my die grootste teleurstelling: dat soveel van my Afrikaanssprekende vriende en kennisse nie Vrye Weekblad gelees het nie, maar eerder Daily Maverick of Amerikaanse of Britse publikasies. Engels is mos beter, net omdat dit Engels is.

Die droom dat Afrikaans 'n eie soort The New Yorker, FT Magazine, The Spectator of The Atlantic kan hê, lê aan skerwe.

So moes ek eintlik in die Engelstalige media aangebly en op 65 met 'n vet pensioen afgetree het? Ek is immers ewe tuis in Engels as in Afrikaans en praat aan huis Engels met die liefde van my lewe?

Ha! Nee, die 12 jaar van Vrye Weekblad in sy drie gedaantes was vir my ontsaglik kosbaar en opwindend. Ek sou dit vir niks wou verruil nie. Ek is Afrikaans en verlief op my taal. Om in Afrikaans met die drome, vrese en probleme van ons samelewing om te gaan, is veel meer outentiek as om dit in Engels te probeer doen.

My oupa Johannes du Preez is dood lank voor ek gebore is, maar ek verbeel my graag hy sou my verstaan het. Hy was 'n bloedjong kryger in die Anglo Boereoorlog, 'n moeilikheidmaker in die krygsgevangenekamp in Ceylon en het lank in die tronk gesit omdat hy aktief aan die Rebellie van 1914 deelgeneem het. Ek het hardegat-gene.

Die mense wat ek deur Vrye Weekblad ontmoet en mee saamgewerk het, het my lewe oneindig verryk. Die kameraderie van my kollegas was kosbaar.

Ek het inderdaad tot dusver 'n besonder geseënde lewe gehad.

Wat gaan ek nou doen? Wel, ek gaan volgende maand vir die eerste keer in ses jaar vakansie hou. Ek kook deesdae elke aand vir my gesin 'n smulmaaltyd en het na my ou liefde, beeldhouwerk, teruggekeer (dankie vir die aansporing, Rudolf Gouws). Ek gaan 'n slag fiksie lees en baie tussen die pikkewyne, bobbejane en dassies stap. En as ek tot verhaal gekom het, sal ek besluit wat is volgende – dit is nou benewens die twee boekprojekte waaraan ek al lankal werk.

Ek sal Vrydag in ons laaste uitgawe 'n finale vaarwel skryf.

Groetnis

Max


Vlug en aankoms, II

Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
wel te bestaan het van kroon tot toon.
Genoeg om te gelewe het, vol ontsluit,
ook net een maal, genoeg om dalk
vreedsaam in 'n stille bemoeiing
met die eenmaligheid van doodgaan
dalk te kan dink: ek was eenmaal

eenmaal was ek 'n mens.

– Wilma Stockenström

Uit: Van vergetelheid en van glans

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.