My laaste overshare: My lewe het verander

DONDERDAG MET MERCY

My laaste overshare: My lewe het verander

Sy het hier en daar blerrie goed gedoen met haar briewe aan Vrye Weekblad-lesers, reken MERCY KANNEMEYER. En die pot ook lelik mis gesit. Plus sewe goed wat jy vandag wil weet.


1. Fikile Mbalula van die ANC het by 'n konferensie van die Democratic Nursing Organisation of South Africa in Boksburg die insig gedeel dat die Amerikaanse regering “alt-right” is en “fascistiese neigings" het. Mbalula het nie uitgebrei oor hoe sy dapper standpuntinname strook met pres. Cyril Ramaphosa se versoek van Maandag dat ANC-lede selfbeheersing aan die dag moet lê sodat die spanning met pres. Donald Trump se administrasie nie vererger word nie.

2. Die voormalige Fifa-skeidsregter Victor Hlungwani sê Bafana Bafana kan steeds met drie punte gestraf word omdat Teboho Mokoena strydig met sy verbod weens vroeëre geel kaarte teen Lesotho gespeel het. Al het Lesotho nie betyds geappelleer nie, kan Fifa steeds optree, meen Hlungwani. 'n Straf van drie punte vir die Suid-Afrikaners kan beteken dat Rwanda, Benin en Nigerië steeds 'n kans het om eerste te eindig in groep C om vir die wêreldbeker-toernooi te kwalifiseer.

3. Lede van verskeie parlementêre portefeuljekomitees het hulle skok uitgespreek met die verval wat hulle die afgelope week op besoeke aan persele in die land gesien het, insluitend die kantore van die departement van binnelandse sake in Rustenburg in Noordwes, die meester van die hof in KwaZulu-Natal en die Central University of Technology in die Vrystaat. Die probleme sluit in rekenaarstelsels wat lank onbeskikbaar is, brandgevaar en ander veiligheidskwessies, en chaotiese bestuurspraktyke. Die LP's het hulle kommer oor al hierdie dinge uitgespreek in die tydelike gebou waarin die nasionale vergadering gehuisves word sedert die parlementsgeboue meer as drie jaar gelede afgebrand het.

4. Suid-Afrikaanse mynbou het verlede jaar afgesluit met 12 877  minder werksgeleenthede as aan die begin van die jaar. Totale indiensneming in die bedryf het in elkeen van die vier kwartale gedaal, weens onder meer swak pryse vir platinumgroep-metale, duurder elektrisiteit en verouderde goudmyne.

5. Brittanje se prins H. “Harry" Windsor is “in skok” nadat hy bedank het as beskermheer van Sentebale (“vergeet my nie”), die liefdadigheidsorganisasie wat hy ter ere van sy ma gestig het om jong mense met MIV en vigs in Lesotho en Botswana te help. Verskeie ander lede van die organisasie se raad van trustees het ook bedank weens die voortslepende dispuut met Sophie Chandauka, wat regstappe gedoen het om haar posisie as voorsitter te probeer behou.

6. Die Russiese aanval met 117 drones op teikens oral in Oekraïne slegs ure nadat 'n ooreenkoms oor 'n gedeeltelike skietstilstand bereik is, is 'n bewys dat pres. Vladimir Putin nie regtig vrede wil hê nie, het pres. Volodymyr Zelensky gister gesê. Die ooreenkoms maak voorsiening vir 'n staking van vyandighede in die Swart See, maar is onderhewig aan verligting van sekere sanksies teen Russiese landbouprodukte.

7. Steve Hofmeyr het op sosiale media gesê hy is “hartlik siek van teleurstelling" nadat sy beplande IKOON-konsert op 29 Maart in Kaapstad se DHL-stadium uitgestel is omdat net 8 000 kaartjies verkoop is. Dit was veronderstel om 'n viering van Hofmeyr se 60ste verjaardag te wees. Dit was teen gisteraand nie bekend of die 47 000 onverkoopte kaartjies ten spyte van of as gevolg van die verdere teenwoordigheid van sogenaamde kunstenaars soos Juanita du Plessis, Karlien van Jaarsveld, Bobby van Jaarsveld, Nadine, Kurt Darren en Bok “Blerk van Bok" van Blerk is nie.


’n Nuusbrief oor nuusbriewe

Dit het my ure gevat om aan iets vir my laaste brief te dink. Hoe groet ek hierdie platform, hierdie lesers, hierdie kollegas? Ek’s mos nogals ’n sentimentele enetjie. So jy kan jou indink dit was nie ’n maklike proses toe Willem Kempen my laas week herinner aan die sperdatum vir my laaste skryfstuk nie. En omdat ek tot melankoliek en sentiment geneig is, gaan loer ek maar in my ander briewe. 

Plek-plek het ek darem ’n blerrie goeie job gedoen! Al moet ek dit nou self sê! Hier en daar het ek die pot ook darem lelik misgesit. Dankie dat julle my nie daarmee laat wegkom het nie! Dankie ook aan daai een lastige antie in ons pad wat vir my ouers vertel het: “Hoe skryf klein Mercy dan nou oor sulke wille goed?” Dit was net seks! En die keer toe ’n (wit) man my in die Checkers voorkeer oor ek iets oor sy tipe geskryf het! Uit ons gesprek kon ek nie uitmaak of ek oor witheid of straight-geid of geloof geskryf het nie. 

Aangesien ek in die meerderheid van my ander briewe kronies ge-overshare het, is dit dan net gepas dat ek dieselfde in hierdie een doen. Sien dit as my laaste overshare – ’n klein update oor my lewe. 

Dit gaan geweldig goed met my. Baie jammer aan diegene met wie dit nie goed gaan nie. Dit het vir ’n rukkie nie so goed gegaan nie. “Nie so goed gegaan nie” is ’n moerse understatement. Dit het plein kak gegaan, man! Kom ek begin daar. Ek was op moedverloor-se-vlakte. Ek wou met alle erns terug Mosselbaai toe gaan na my ouers toe en my lewe oor begin. Weg uit Johannesburg uit. Weg van die boelies in die boardrooms af. Weg van valse vriende. Weg van daai ou in die nagklub wat een aand iets in my drankie gegooi het. Weg uit my kop uit. 

Toe gaan ek Kenia toe. Ontmoet die ongelooflikste mense. Sien die omstandighede waarin mense leef. Sien hoe mense ondanks hulle omstandighede steeds elke oggend opstaan en die lewe kies! Ek bestee baie tyd aan my joernaal. Vermy sosiale media. Haal net weer bietjie asem. En wonder bo wonder. Ek trek die wa deur die drif. 

Begin by die Universiteit van Johannesburg klasgee. Skryf in vir ’n PhD. Skielik is ek weer omring met lig. Die lig van mense wat so helder skyn dat jy geen ander keuse het as om ook lig te wees nie. Kollegas wat elke oggend met ’n glimlag regstaan om my, ’n groentjie in alle opsigte van die woord, moed in te praat. Mense wat vangnette word. Medesterwendes wat kies om saam-saam hierdie mallemeulerit van die lewe aan te pak. 

Ek voel nou weer soos my ou self. Daai Mercy wat in 2013 by Hoërskool D.F. Malherbe in Gqeberha se hekke as matrikulant uitgestap het. Daai Mercy wat sorgeloos in die strate van Stellenbosch as dramastudent gewandel het. Die Mercy wat met sterre in haar oë in 2022 Johannesburg toe getrek het. Die einste Mercy wat so lief is vir hierdie land en haar mense dat sy haarself nêrens anders wil vestig nie. Hierdie Mercy wat hier vol dankbaarheid en met ’n traan in die oog hierdie laaste brief skryf. Ek wil nie meer opgee nie. My ma sê ek het presies uitgedraai soos sy op 19 Oktober 1994 10 voor 10 die oggend in Mosselbaai se provinsiale hospitaal by my geboorte gebid het. 

Mag die lig jou ook vind en mag jy wanneer die lewe druk, die krag vind om terug te druk. 

Dankie, Vrye Weekblad, julle het my lewe onomwonde verander.

Mercy


Almanak

Agter ’n kamerdeur
hang die aptekersalmanak
oorvol onsigbare gedenkdae
waarvan net sý nog weet:
háár troudag, feestelik,
maar sestig jaar gelede;
verjaarsdae van ’n man, nou dood
en kinders die wêreld oor.
So sit sy dagin, daguit, soms
met haar hande in haar skoot,
maar steeds word dag en datum,
waarvan net sý weet,
jaarliks op die kalender aangestip:
geboorte van ’n baba aan wie sy
slegs die dood kon skenk.

– Eunice Basson

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou. Ons hoor graag van jou, maar hou by ons kommentaarbeleid.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.