Ekonomie is broos, maar resessievrese is oorbodig

MAER JARE DUUR VOORT

Ekonomie is broos, maar resessievrese is oorbodig

Al blyk ’n tegniese resessie nie Suid-Afrikaners se voorland te wees nie, is daar min twyfel dat plaaslike verbruikers weens hoë inflasie en hoër rentebetalings die gordel steeds in die afsienbare toekoms stywer sal moet vastrek, meen HUGO PIENAAR.

Vir dieselfde geld kan jy nou minder in jou mandjie laai.
Vir dieselfde geld kan jy nou minder in jou mandjie laai.
Image: REUTERS

SOOS algemeen verwag, het die Suid-Afrikaanse ekonomie in die tweede kwartaal van 2022 gekrimp. Ofskoon nie onverwags nie, was dit steeds ’n terugslag vir die herstel van die bruto binnelandse produk (BBP) ná die ongekende inkrimping in 2020.

Nadat die BBP in die eerste kwartaal van 2022 vir die eerste keer weer groter was as voor die aanvang van die Covid-19-krisis en die gepaardgaande BBP-vryval in 2020, beteken die BBP-daling in die tweede kwartaal dat die vlak van reële BBP weer tot effens laer as die vlak voor Covid geval het.

In sommige kringe word nou gevra of die jongste, redelik matige daling in die BBP eenmalig was en of dit moontlik opgevolg gaan word deur nóg ’n inkrimping in die derde en/of vierde kwartaal. Kortweg gestel: Staar ’n tegniese resessie van twee agtereenvolgende kwartale van ’n dalende BBP Suid-Afrika in die gesig?

Ek meen dis onwaarskynlik, veral in die lig van die spesifieke faktore wat die ekonomie in die tweede kwartaal gekniehalter het.

’n Rits nie-herhaalbare skokke

Die een konstante wat weer in die derde kwartaal ’n remskoen op ekonomiese aktiwiteit gaan wees, is Eskom-beurtkrag.

Teen die einde van die tweede kwartaal is Eskom gedwing om fase 6-beurtkrag in te stel. Dit was weer die geval vroeg in Julie, die eerste maand van die derde kwartaal. Nadat beurtkrag genadiglik in Augustus redelik gewyk het, is dit met mening terug in September.

Dit beteken dat kragintensiewe produksieprosesse weer in die derde kwartaal aan die pen gaan ry, terwyl verkope by winkels wat nie opwekkers het nie en dus ten tye van beurtkrag gesluit is, weer gaan ly.

Ons moet dus nie sterk groei in die derde kwartaal verwag nie, maar die ekonomie behoort wel weer in dié kwartaal – en ondanks die voortslepende beurtkrag – te groei. Daar is veral vier redes wat hierdie verwagting ondersteun:

Covid-beperkings wyk

Ten eerste is die ekonomie nou heeltemal vry van enige Covid-19-beperkings. Die kwartaal Julie tot September is die eerste kwartaal sedert die laaste drie maande van 2019 waartydens daar geen beperkings op ekonomiese aktiwiteit was nie.

Ons het reeds die kommentaar van maatskappye in die dienstesektor, insluitend Spur en Sun International, gehoor dat die wegval van al die oorblywende beperkings einde Junie ’n groot hupstoot vir hulle sakebedrywighede in die eerste weke van die derde kwartaal was.

Ofskoon daar tekens is dat die syfers weer ’n oplewing begin toon, was die Covid-infeksiekoers tot dusver ook laag in die derde kwartaal. Die afwesigheid van mobiliteitsbeperkings en die lae infeksiekoers beteken dat verbruikers nou weer gemaklik is om openbare geleenthede by te woon. Kyk maar na die stampvol stadions toe die Springbokke in Mbombela en Johannesburg teen die All Blacks gespeel het. Mbombela het blykbaar uit sy nate gebars soos wat ondersteuners na dié stad gestroom het. 

KZN herstel van vloede

Die tweede positiewe faktor vir die BBP in die derde kwartaal is dat die ekonomie, veral in KwaZulu-Natal, herstel van die verwoestende vloede in April en in mindere mate ook in Mei.

Dit is veral voertuigproduksie in KZN wat in die derde kwartaal gaan herstel nadat Toyota se groot aanleg in dié provinsie teen middel Augustus weer onder meer die gewilde Hilux-bakkie begin vervaardig het. Dis nou nadat die aanleg vir maande gesluit was vir herstel- en opruimingswerk nadat dit deur die vloede oorstroom is.

Oorhoofse vervaardigingproduksie is ook in die tweede kwartaal deur probleme by een van die land se belangrikste petrochemiese raffinaderye beperk. Dit was ’n tydelike terugslag en die raffinadery behoort in die derde kwartaal terug op sy pos te wees.

Langdurige staking in goudmynbedryf

’n Derde belangrike remskoen vir nywerheidsproduksie in die tweede kwartaal was die maande lange staking in die goudmynbedryf.

Dit was ’n belangrike bydraende faktor tot die inkrimping van oorhoofse mynbouproduksie in die tweede kwartaal, maar gaan nie in die derde kwartaal herhaal word nie. Dít is reeds vandeesweek bevestig toe Statistieke Suid-Afrika die mynbouproduksiesyfers vir Julie bekendgemaak het. Dit het ’n groot maand-op-maand sprong in reële goudproduksie van meer as 12% getoon.

Probleme met R350-toelae opgelos

’n Laaste belangrike punt is dat die verkope van nie-duursame goedere (voedsel en drank) in die tweede kwartaal onder druk was weens probleme met die betaling van die spesiale Covid-toelae van R350 per maand. Die probleme is nou uitgesorteer, wat beteken dat die koopkrag van die armstes, ondanks hoër inflasie, in die derde kwartaal ’n groot hupstoot gekry het.

Die positiewe impak hiervan was reeds duidelik in die verbruikersvertroue-indeks van ENB en die Buro vir Ekonomiese Onderoek vir die derde kwartaal.

Dié indeks het gewys dat die vertrouensvlakke van lae-inkomste verbruikers (diegene wat minder as R2,500 per maand verdien) mooi teruggespring het van ’n vrot indekspuntlesing van -15 in die tweede kwartaal tot ’n lesing van -3 in die derde kwartaal. Hoewel dit steeds beteken dat vertroue van lae-inkomste verbruikers laag is, was die syfer vir die derde kwartaal die hoogste sedert die eerste kwartaal van 2021.

Vir die hoër inkomstegroepe was daar ook in die derde kwartaal verligting toe die petrolprys in Augustus en September met ’n kumulatiewe R3,36/l gedaal het.

In die geheel meen ek hierdie faktore behoort voldoende te wees om te verseker dat die BBP in die derde kwartaal toeneem en dat die land dus ’n tegniese resessie sal vryspring. Ten minste vir nou.

Indien dit wel so uitdraai, kan die ekonomie steeds in reële terme vir die volle 2022 teen omtrent 2% groei. Dis nie watwonders nie, maar in die lig van vele wêreldskokke, insluitend die oorlog in Oekraïne en hoër plaaslike inflasie en rentekoerse, sal dit eintlik ’n redelike prestasie wees.

Inflasie draai, maar rentekoerspyn bly  

Gepraat van inflasie, wêreldaandelemarkte en die Johannesburgse aandelebeurs het Dinsdag getuimel ná die vrystelling van hoër as verwagte inflasiesyfers uit die VSA. Dit beteken dat dit waarskynlik nou ’n uitgemaakte saak is dat die Amerikaanse sentrale bank volgende week by die derde agtereenvolgende monetêre beleidsvergadering die uitleenkoers met 75 basispunte gaan verhoog.

Plaaslik word die jongste verbruikersinflasiesyfer (vir Augustus) eerskomende Woensdag bekendgemaak. Die verwagting is dat dit sal bevestig dat die Julie-syfer van 7,8% jaar-op-jaar die hoogtepunt in die opwaartse plaaslike inflasiesiklus was. Desondanks word verwag dat inflasie vir die volgende paar maande rondom 7% kan bly. Dit is wesenlik hoër as die Reserwebank (SARB) se inflasieteiken van 4,5%.

Selfs al wys die Augustus-inflasiesyfer ’n verstadiging in die tempo van prystoenames, gaan dit waarskynlik nie verhinder dat die SARB Donderdag weer die repokoers met 75 basispunte verhoog nie. Die prima uitleenkoers sal dan 9,75% beloop, binne trefafstand van die 10%-vlak van voor die aanvang van die Covid-skok.

Al blyk ’n tegniese resessie nie Suid-Afrikaners se voorland te wees nie, is daar min twyfel dat plaaslike verbruikers weens hoë inflasie en hoër rentebetalings die gordel steeds in die afsienbare toekoms stywer sal moet vastrek.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.