Obama kuier in Europa. En ...?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Obama kuier in Europa. En ...?

Barack Obama voel nie heeltemal na die koning Midas van ’n paar jaar gelede nie, sê ANESCA SMITH uit Amsterdam.

Image: ANGELA TUCK

’n Klomp jare gelede is ek net op pad huis toe van die parlement af toe die nuusredakteur my bel. Daar is ’n Amerikaanse senator op besoek aan Kaapstad en kan ek asseblief ’n draai maak by die Sentrum vir die Boek in Queen Victoriastraat, waar hy dié aand ’n toespraak sou lewer. 

Ek het ’n lang dag agter die rug, dit reën katte en honde in die Kaap en ek het min lus vir die storie. Dit gaan tog nie die koerant haal nie. Skoorvoetend ry ek na die sentrum waar, soos ek verwag het, net ’n handjievol mense sit en wag. 

Nadat die man sy toespraak gelewer het – nou nie juis ’n indrukwekkende een nie – gaan stel ek myself voor en ons praat ’n paar minute. Daarna maak ek my uit die voete. En soos ek voorspel het, haal die storie nie eens die volgende oggend die koerant nie. 

Dié man was natuurlik Barack Obama. Toe nog ’n onbekende senator buite Amerika op besoek aan Suid-Afrika in 2006. Destyds was hy nog nie die meeslepende, poëtiese spreker wat elke minuut goed kon benut om ’n gehoor in vervoering te bring nie. 

Hierdie week was Obama (61) op besoek aan Europa. Soos ander Amerikaanse presidente – veral uit die Demokratiese Party – verdien hy groot geld deur toesprake regoor die wêreld te gee, asook uit boeke en deals met Netflix en Spotify. Bygesê, die grootste deel van hulle inkomste gaan na verluide na welwillendheidsorganisasies. 

Sondag en Maandag was Obama in Amsterdam waar hy onder meer kaas geëet, ’n tulpeveld besoek en met ’n bootjie deur die stad se kanale gevaar het. Maandagaand het hy ’n toespraak gelewer. Die goedkoopste kaartjies het €104 gekos. As jy voor in die saal wou sit, was dit sowat €500. Die ultieme Obama-ervaring – ’n selfie – sou jou €2 750 uit die sak jaag. 

Obama in Amsterdam.
Obama in Amsterdam.

In Switserland, waar Obama Saterdagaand was, was die pryse selfs hoër. 

Maar tog voel dit of Obama nie meer heeltemal die koning Midas is van ’n paar jaar gelede nie. Hy is ongetwyfeld nog baie gewild, maar die Volkskrant berig dat hy nóg in Amsterdam nóg in Zurich daarin kon slaag om vol sale te trek. Die kaartjies was glo nie almal uitverkoop nie. 

Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, Steven Spielberg en Bruce Springsteen poseer vir 'n foto saam met personeellede van die Amar-restaurant in Barcelona.
Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, Steven Spielberg en Bruce Springsteen poseer vir 'n foto saam met personeellede van die Amar-restaurant in Barcelona.

Hy was ook in Barcelona en Berlyn, waar hy die gehoor getrakteer het op staaltjies uit sy dae in die Withuis en wat hy geleer het as president van Amerika (naamlik verandering gebeur langsaam – “more steamboat than speedboat”).  Die Nederlandse dagblad NRC beskryf Obama se toespraak hier sinies as “besaai met clichés”. 

Ek dink terug aan my vlugtige ontmoeting met Obama op daardie reënerige aand in 2006. As ek tóé maar geweet het wat ’n selfie met hom vandag werd is. Aan die ander kant, wie weet, miskien word ’n selfie met Obama in die toekoms dalk net goedkoper. 

Mooi week
Anesca


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.