Die Vreugdeprojek

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die Vreugdeprojek

Vreugde en dankbaarheid gaan hand aan hand (dink) ANNELIESE BURGESS en vertel oor haar gewaarwording dat happiness eintlik maar ’n vlakkerige konsep is.

Image: ANGELA TUCK

In 2008 skryf Gretchen Rubin die New York Times-topverkoper The Happiness Project. Vir 12 maande toetsbestuur sy die verskillende rate vir en navorsing oor wat mense gelukkig maak en kyk of dit haar happiness-vlakke verhoog. (Die subtitel van haar boek is: “Why I spent a year trying to sing in the morning, clean my closets, fight right, read Aristotle, and generally have more fun".)

Van my Weskus-kiekies.
Van my Weskus-kiekies.

Ek kan nie onthou hoekom ek die boek toe gekoop het nie, maar ek onthou wel dat dit my uiteindelik geïrriteer het omdat die retoriek rondom geluk − veral in die Westerse selfhelp-kanon dat mense die reg op geluk het en dat die nastreef daarvan alles anders troef −  redelik oppervlakkig is. Verder is die veronderstelling dat daar 'n resep is om heeltyd gelukkig te wees tog ooglopend snert. Net so min soos wat daar 'n formule is om ryk of super-produktief te word (wat is dit met die Amerikaanse obsessie om meer in minder tyd “gedoen” te kry?).

Wat ek wel (vir myself) weet, is dat die beste wat hierdie lewe ons bied 'n lappieskombers van momente is. Groot en klein geluk, maar ook verlies en verdriet, erkenning en miskenning, sukses en mislukking, vergenoegdheid en onvergenoegdheid, sekerheid en onsekerheid, begeerte, liefde en verwerping. Alles aanmekaar gestik met 'n purper draadjie van die lewe se deurgangsrites. 

En gelukkigheid en vreugde, weet ek ook, is glad nie dieselfde ding nie.

Vreugde is 'n klein woord. Happiness is 'n grênd konsep. Happiness reageer; vreugde is innerlik en doelbewus en oorwoë. Vreugde is moontlik in tye van swaarkry en hartseer. Gelukkigheid is uiterlik. Jy kan dit nastreef soos Rubin met haar jaar lange toetsprojek gedoen het, maar vreugde kan jy kies. 

My doelbewuste reis met vreugde begin Julie verlede jaar. Ek onderneem 'n alleentoer van twee weke van die Weskus. 'n Geliefde in my lewe is terselfdertyd op 'n alleentoer deur Namibië. Ons begin vir mekaar foto's stuur van klein momente op ons onderskeie langpaaie. 'n Koppie koffie op die strand. Die verlatenheid van die woestyn. 'n Pot mossels op die vuur. 'n Eindeloos-strekkende vaalgrys teerpad. Vir myne begin ek die hutsmerk #ichoosejoy gebruik. En oor die twee weke raak ek al hoe meer vreugdefiks. Ek begin goed sien wat ek nie vantevore sou nie. En voel.

Die dag van my pa se begrafnis. Heel bo loop die neefs en niggies terug van die begraafplaas.
Die dag van my pa se begrafnis. Heel bo loop die neefs en niggies terug van die begraafplaas.

'n Paar weke ná my terugkeer van die Weskus-avontuur is my pa oorlede. En in die rou hartseer van my pa se begrafnis voel ek iets wat ek eienaardig genoeg net as vreugde kan bestempel. Vir my pa se liefde en die goeie lewe wat hy gehad het. Ek sien die mooigeit van sy eenvoudige dennekis; en die gerf perskebloeisels en doringtakke wat ek bymekaar gemaak het vir sy kisruiker. Later voel ek dit weer toe ek kyk hoe my broers my pa se graf met opgerolde hempsmoue en plaasgrawe toegooi. Vreugde en dankbaarheid, besef ek, gaan hand aan hand. 

So, in plaas van 'n Happiness Project, onderneem ek nou 'n Vreugdeprojek. As jy op Instagram is, kan jy my #vreugdeprojek hier volg. Ek gaan vir die volgende 30 dae een foto deel van iets wat my daardie dag vreugde gegee het. Soos die groot bedding jolige opslag-jakobregops in my tuin vanoggend. Doen jy sommer dieselfde en tag my. En as jy nie op Instagram is nie, WhatsApp of e-pos vir my jou foto's na annelieseburgess@vryeweekblad.com. Dan maak ons dit sommer 'n Vrye Weekblad-projek.

Die jakobregops in my tuin gisteroggend.
Die jakobregops in my tuin gisteroggend.

Ware vreugde (dink ek) is 'n grenslose, lewensomskeppende bron waaruit ons kan put. Maar nes die liefde (dink ek) vereis dit ontvanklikheid en oorgawe, en nes die liefde (dink ek) vereis dit 'n keuse.

Maar dan weer, wat weet ek? Behalwe dat ek nou doelbewus vreugde kies.

Salige Sondag.

Anneliese
WhatsApp: 083 413 6573


Our Two Silences

Silence
flows into me and out of me
washing my past away. 
I am pure already, waiting for you. Bring me
your silence.

They will doze off
nestled in each other's arms, 
our two silences.

Anna Swir (1909-1984). Uit die bundel Talking to My Body, vertaal uit Pools deur Czesław Miłosz en Leonard Nathan. 


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.