Daar sit ek toe Saterdagoggend voor my TV-stel en bekyk die praal en seremonie van Charles III se kroning. Alles wat ek aanskou, is die simbole van die empire wat my ouma in die konsentrasiekamp gegooi en my oupa as krygsgevangene in Ceylon aangehou het.
Ek is skepties en in die versoeking om te spot met die oordrewe uniforms en kostuums (pure cosplay, soos die mense wat ek laas week by die Kaapse Comic Con sien opdrês het toe ek my laatlammetjie daar gaan aflaai het), die Disney-agtige goue koets, die ingewikkelde en op die oog af absurde rituele.
Maar hoe langer ek kyk en hoe meer die Sky News-aanbieders my help om te verstaan wat gebeur, hoe meer fassineer dit my. Die hele geleentheid weerspieël ’n kontinuïteit van meer as ’n duisend jaar.
Ek is geen aanhanger van koningshuise, van royalty nie, nie in Brittanje nie en nie hier in Afrika nie. Ek het selfs ’n renons in hoofmanne en ander tradisionele leiers wat nie verkies is nie. Ek is in my wese ’n demokraat en ’n republikein. Maar die simboliek en die oproep van ou geskiedenis is absoluut fassinerend en ek het maar by die voorspelbare nare opmerkings oor die Britse Empire, slawerny en die Anglo-Boereoorlog verbygehou.
Op Twitter skryf iemand: “Bless the reign down in Africa: Britain’s new king gets to have a big party to celebrate winning the genetic lottery and the rest of us are supposed to just forget how his family acquired all that power and wealth.”
Ja, Charles is net koning omdat hy in die koninklike familie gebore is, omdat hy die genetiese lotery gewen het. Maar dan dink ek daaraan dat dié soort nepotisme tog wyd in die moderne lewe voorkom. Die Suid-Afrikaanse sake-empires Anglo American, Pick n Pay, PSG en die Rupert-groep word byvoorbeeld almal vandag beheer deur die seuns van die mans wat dit begin het.
Die verskil is natuurlik dat dit private geld en posisies is, wat die koning van Groot-Brittanje nie is nie, maar tog. Charles is ’n superryk man sonder dat hy ooit regtig ander werk gedoen het as om ’n prins te wees, maar hy het darem ook geen politieke mag nie, hy is net ’n simbool. En te oordeel na die tienduisende mense in die strate en die vele miljoene van oral oor die aardbol wat die regstreekse TV-uitsendings dopgehou het (selfs CNN), bly hy ’n belangrike simbool.
Die seremonie is in die Westminster-abdy gehou. Op Kersdag 1066 is Willem die Veroweraar, oftewel William I, net daar as koning gekroon.
Herkou ’n bietjie daaraan: Dit is 957 jaar gelede. Hier in ons land was daar toe net ’n klompie duisend Boesman-jagters-en-versamelaars en Khoekhoen-veeherders. Die Bantoesprekende landbouers het eers so 500 jaar daarna hier aan die suidpunt begin aankom, en nog 500 jaar later my eerste Europese voorsate.
My skoonma, Teresa Hebden-Tuck, is ’n nasaat van William I. Maar my vrou het nie in die minste in die kroningsplegtigheid belanggestel nie, net so nou en dan verby gestap en sarkastiese opmerkings gemaak oor dié Boerseun wat so vasgenael na die Engelse royalty sit en kyk. “Ek is Engelssprekend, ek is nie Engels nie,” sê sy graag.
Die abdy (amptelike naam: Collegiate Church of Saint Peter at Westminster) is in 1042 deur Eduard (oftewel Edward) die Belyer laat bou, maar dit was toe al vir langer as ’n eeu ’n kerk, St. Peter’s Abbey. Edward is in 1066 dood en is in die abdy begrawe, vandag een van meer as 300 deurlugtiges wie se oorskot daar ter aarde gelaat is. Dit sluit 18 konings in, maar ook die wetenskaplikes Charles Darwin, Isaac Newton en Stephen Hawking, die komponiste George Frideric Handel en Henry Purcell, die skrywer Charles Dickens, die “ontdekker” David Livingstone en die akteur Laurence Olivier.
Ek het die abdy al ’n paar keer besoek. Die eerste keer was in 1981, maar ek moes buite tussen die skare staan, want prins Charles en Diana Spencer, toe pas verloof, het daar aangekom vir die troue van een of ander lord se seun. Ek het ’n pragtige foto van die paartjie geneem wat ek terstond aan ’n foto-agentskap verkoop het – Charles en Diana was so gatvol vir die paparazzi dat hulle vér verby die kampie met persfotograwe en tussen ons gewone mense deur gestap het.
Die ingewikkelde rituele met die kroning het die tradisies van die 16 kroningsplegtighede die laaste nege eeue gevolg. Charles moes aan antieke ringe, spore en swaarde raak en moes twee septers vashou, een vir “kingly power and justice” en een vir “mercy”. Camilla het weer ’n “rod of equity and mercy” moes vashou. Charles moes sy hand in ’n oeroue handskoen druk om hom te herinner dat die koning “gentle in power” moet wees. Nogal cool.
Die kroon wat op Charles III se kop geplaas is, is St Edward’s Crown van soliede goud, wat in 1661 vir Charles II gemaak is en 444 sierstene bevat. Die paar minute wat dit op sy kop was, was die enigste keer dat hy dit sou dra, want voortaan gebruik hy die Imperial State Crown. Dié kroon bevat die omstrede Cullinan en 2 867 ander diamante, 17 saffierstene, 269 pêrels en 17 smaragde. (Ek het nie gedink daar is nog plek in my brein vir sulke besonderhede nie.)
Charles se gewaad is eers na ’n gangster blinkgoue baadjie verander en toe na die indrukwekkende “robe of righteousness and garment of salvation”. Lekker gay, as jy my vra.
Charles moes ook die Sovereign’s Orb ronddra, ’n aardbolletjie van goud met diamante, pêrels en ander sierstene. Sjym, die teenwoordiges moes seker flashbacks gehad het van die dae toe die British Empire die magtigste ter wêreld was. En kyk hoe lyk die Brexit-eiland nou.
(Ek het gewonder wat Charles en Camilla, hy synde 74 en sy 75, sou doen as hulle wou gaan pie – die seremonie het ure lank aangehou. Plek-plek het dit gelyk asof Camilla ’n bietjie knyp, maar dalk is dit maar hoe sy lyk.)
As prins William ooit vir Charles opvolg, sou ’n mens hoop die erg godsdienstige, Protestantse wese van die kroningsplegtigheid sal aangepas word om by Brittanje se status as sekulêre gemeenskap te pas.
Die seremonie is deur ’n man gelei wat homself “Justin of Canterbury” noem – die aartsbiskop van Kantelberg (wie het besluit Canterbury moet in Kantelberg vertaal word?). Selfs die Britse eerste minister, wat ’n praktiserende Hindu is, Rishi Sunak, was verplig om uit die Bybel voor te lees. Die eerste minister van Skotland, Humza Yousaf, en die burgemeester van Londen, Sadiq Khan, wat die plegtigheid as eregaste bygewoon het, is Moslems.
Charles moes boonop plegtig sweer dat hy as koning die Protestantisme bo ander gelowe en tradisies sal bevorder. Natuurlik gaan hy dit nie doen nie, maar dit voel vreemd dat die eed nog nie verander is nie.
Dit was ’n erg sedige affêre binne die kerk – die enigste lewendigheid was ’n koortjie van agt swart mense wat hulle lywe rondgeswaai het. Wat sou die wêreld sonder swart mense gemaak het?
Ek kon ongelukkig nie tot die heel einde van die kroningsdrama kyk nie, want die rugby het begin en my innerlike Boer, Max van Kroonstad, het toe weer oorgeneem.
Maar toe was die Sharks se wedstryd teen Leinster glad nie sulke boeiende kykstof as Charles en Camilla nie.
Ek wonder of my oumas en oupas in hulle grafte omdraai omdat die Britse tradisies en geskiedenis my so boei. Sou hulle my van Anglofilie beskuldig?
Groetnis
Max
onthou jy die nag toe ons meer as enigiets
die more wou sien breek oor magersfontein?
met die wegtrek het jy nonstop gepraat
oor die verskille tussen fisante en patryse,
maar skuins ná drie was die maan kil
oor clanwilliam se water die more ver
patryse net so stom soos fisante
ons was koud en moerig
vir onsself maar meestal vir mekaar
– Tom Dreyer
Uit: “slaap solank, dan hou ek die fort”, vir Jaco Botha (1972– 2016)
(Bron: Versindaba)
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.