Wanneer ’n vrou die skuld vat vir ’n man wat nie sy mind kon...

DINSDAG MET MERCY KANNEMEYER

Wanneer ’n vrou die skuld vat vir ’n man wat nie sy mind kon opmaak nie

Sy is nie ’n Camilla-apologeet nie, sê MERCY KANNEMEYER, maar dis onregverdig dat Charles III se vrou soveel haat moet verduur.

Image: ANGELA TUCK

In die geheim loer ek so af en toe na wat die royal family alles aanvang. Die hele familie is fassinerend. Behalwe vir Andrew wat opgesluit moet word, is die res van die familie interessant. En wanneer daar ’n event is – soos die dood van die koningin of die kroning van die koning die afgelope naweek – sien ek altyd uit daarna om te kyk wat almal gaan aantrek, hoe almal in die publiek gaan vertoon, en hoe die familie se dinamika gaan uitspeel.

Dis as’t ware skouspelagtig. Dink jou net in. Die commitment aan ’n orde. Die kyk-noord-en-fok-voort-houding wanneer daar soveel kritiek teen jou familie is. Die familie is in hierdie ding in gebore, en ons het mos nou gesien met Harry dat wanneer jy daarteen opstaan, die media jou absoluut gaan verwoes.

Image: @LUCKISONYOURSIDEX

Na afloop van die koning se kroning hierdie naweek val dit my weer by hoe uitgesproke talle mense oor Camilla en Charles is. Veral Camilla. Van jongs af onthou ek dat Camilla die vark in die sprokiesverhaal was. En toe ek nou verstand kom kry, kom ek agter dat Camilla die skuld vat vir ’n man wat nie sy mind kon opmaak nie. Die liefdesdriehoek tussen Charles, Diana en Camilla het destyds ’n onaangename prentjie van Camilla in ons ma’s se koppe geplant. Tot vandag toe word daar in menige huishouding met die grootste afsku van Camilla gepraat. En wat was Camilla se eintlike fout nou? Dat sy verlief geraak het op die verkeerde persoon? Dat sy haar man verneuk het en dat sy ’n ander vrou se man afgevat het? (Net so terloops, niemand kan iemand anders se man afvat nie. ’n Man wat afgevat wíl wees, gaan afgevat word.)

Verstaan my bitter mooi. Ek is nie ’n Camilla-apologeet nie. Dit is net geweldig onregverdig dat Camilla soveel haat ontvang, terwyl Charles net so deel van die ding was! As Camilla se verhouding met Charles nie in die spotlight was nie, sou ons gesê het Charles is ’n royal vark. As die ander vrou in die affair nie prinses Diana was nie, sou ons heel waarskynlik ook nie so baie omgegee het nie. Maar nou was dit Diana. Die mees geliefde prinses wat al ooit bestaan het. Diana is gans te vroeg dood, en as sy nog gelewe het, sou ons waarskynlik met ander oë na die hele royal family gekyk het.

Moenie vir Camilla haat net omdat sy op die einde vir Charles gekry het nie. Wie wil anyway vir Charles hê?


A frail hepatica

A frail hepatica
Shyly holds its fragrance
Beneath the fresh morning dew.
So, Elizabeth.

– Jun Fujita


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.