Wat die landskap van jou gesig oor jou sê

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Wat die landskap van jou gesig oor jou sê

Onse president lyk vir DEBORAH STEINMAIR al hoe meer na ’n verdwaasde aartappelmoer: rond, sonder hoeke of vastigheid.

Image: ANGELA TUCK

Ek wou skryf oor waarom ons meer ontsteld is oor ’n handvol biljoenêrs wat in ’n avontuurvaart in ’n duiktuigie omkom as oor hordes vlugtelinge wat verdrink. Ek het tot die slotsom gekom dat ons identifiseer met wat die media vir ons opdis – maar toe skryf Max besonder treffend daaroor, gister. Net nog een gedagte: Ek wil die reg hê om te rou oor rykes sowel as armes. En eintlik wil ek geen dekking van hulle lyding sien nie. Ek sal maar daaroor lees en huil in my graankos.

Toe kyk ek gisteraand na Putin op die nuus en sien ’n gesigsuitdrukking wat dr. Cal Lightman in die uitstekende TV-reeks Lie to Me dikwels uitgewys het op beeldmateriaal van moordenaars en geweldenaars: contempt, het hy dit genoem. Minagting – mondhoeke wat afwaarts trek, so ’n “fok hulle”-uitdrukking. Hoekom maak hulle nie meer reekse soos Lie to Me en The Mentalist nie?

Die studie van gesigsuitdrukkings heet fisionomie. Dit is ’n praktyk wat ’n persoon se karakter of persoonlikheid op grond van hulle uiterlike voorkoms takseer – ’n boek op sy baadjie. Gesigsuitdrukkings is ’n vorm van nie-verbale kommunikasie.

Nou ja, party mense word gebore met oë wat vanaf die buitehoeke afwaarts rem en hulle hartseer laat lyk. ’n Mens is nie verantwoordelik vir die gesig waarmee jy gebore word nie. Maar jy is verantwoordelik, glo ek, vir wat die jare met jou gesig doen. As jy ’n paar skoene elke dag dra, verander hulle vorm, sien jy duidelik die afdruk van jou skewe voet. Deur die jare verander jou resting face, soos hulle sê, jou gesiggedrag, die landskap van jou gesig. Dit neem die vorm aan van die emosie wat dit gereeld uitdruk.

Image: ANGELA TUCK

Putin se Slawiese gelaatstrekke (wat hy glo met plastiese snykunde laat beklemtoon het) lyk op sigself vir Westerlinge wreed en gevoelloos, maar dit is meer as dit. Die flits van narsistiese woede in die oë, die minagting om die mondhoeke, die somtotaal van die lyftaal is arrogant, opgeblase en megalomanies.

Onse president lyk vir my al hoe meer na ’n verdwaasde aartappelmoer: rond, sonder hoeke of vastigheid.

Ek het Michael Vlismas se boek oor Elon Musk gelees. Hy het, soos sy pa, Errol, van kleins af vir mense gesê hulle is dom en oningelig. Daardie soort minagting wys intussen ook op sy gesig.

Party mense is bloot gestraf deur gene: Koning Charles lyk soos ’n tarentaal wat broeiplek soek: rosig en ligweg ontsteld met die oë te na aan mekaar en dan moet daar nog plek gemaak word vir die neus. Die man wat tennis vir my bederf het, Novak Djokovic, se oë en neus trek ook op ’n knop saam soos ’n roofvoël s’n. Daaraan kan niemand iets doen nie, maar dis die triomfantelike flits van leedvermaak wanneer ’n opponent fouteer, die verbysterde woede wanneer hy kleitrap, wat ek oplet.

Ek wens ons kon dr. Cal Lightman invoer om ons politici se gesigte te lees en hulle motiewe te peil. ’n Profileerder. Want ek glo vas ’n mens kan ’n boek op sy baadjie takseer, veral ’n ouer, beduimelde boek.


aanlyn foto’s van verlorenvlei

die son is ’n lens flare bo verlorenvlei
die son is ’n voorstudie
die son is ’n foksterriër met ’n stok in sy bek
die son is ’n leë kampeerterrein
buite elandsbaai waar die pad
lui en onafgehandel
verbyswaai
na waar ek steeds tien is
in ’n sytak se magnesiumflits

– Tom Dreyer

(Uit: Nou in infrarooi)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.