Van watter nuus behoort jy te weet en wat is onbelangrik?

MAANDAG MET MAX

Van watter nuus behoort jy te weet en wat is onbelangrik?

Die Putin-dissipels in Suid-Afrika sal hulle heldeverering moet herdink, skryf MAX DU PREEZ. Hy wonder ook oor of vermaak en verkoopbaarheid vir die media belangriker is as om die publiek behoorlik ingelig te hou. En daar is sewe goed wat jy vandag wil weet.

  • 26 Junie 2023
  • Daagliks
  • 12 min om te lees

Goeiedag!

1. Die opmars van Yevgeny Prigozhin, hoof van die Wagner-groep Russiese huursoldate, Saterdag na Moskou was wel ’n mislukking, maar ten minste het hy Suid-Afrika se groot kopseer laat verdwyn: Daar is geen kans meer dat pres. Vladimir Putin na Suid-Afrika gaan reis om die Brics-beraad by te woon nie. Die Internasionale Strafhof het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik, wat beteken Suid-Afrika sou hom moes arresteer as hy hier aankom.

2. Die 19de-eeuse skrywer en filosoof Ralph Waldo Emerson het eens verklaar: “When you strike at a king, you must kill him.” Geen maatskappy gaan ooit weer vir Prigozhin ’n lewenspolis verkoop nie.

3. Is dit die begin van die einde vir Putin, of die begin van ’n nuwe, meer brutale Putin? Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Anthony Blinken, sê die rebellie wys die krake in Putin se mag: “If you put this in context 16 months ago, Putin was on the doorstep of Kyiv in Ukraine, looking to take the city in a matter of days, erase the country from the map. Now, he’s had to defend Moscow, Russia’s capital, against a mercenary of his own making.” Die gewese Russiese eerste minister Mikhail Kasyanov glo weer dit is die begin van die einde vir sy ou kameraad.

4. Die frase “an act of God” verwys na ’n ongeluk of ander natuurlike gebeurtenis wat nie deur menslike handelings beïnvloed is nie. Dit is nie hoe Pierre Genis van Kaapstad dit sien nie. Hy het rustig in sy bakkie gery toe ’n groot boom ná al die reën op hom geval het. “Al wat ek kan getuig, is dat die Here ons bewaar het daai dag,” sê hy aan Netwerk24.

5. Die minister van energie, Gwede Mantashe, het ’n middelvinger aan pres. Cyril Ramaphosa gewys deur te weier om ’n memorandum van ooreenkoms met die Deense en Nederlandse eerste ministers te onderteken. Mantashe bevestig dat die presidensie hom gevra het om teenwoordig te wees en die ooreenkoms vir ’n $1 biljoen-waterstoffonds te teken, maar sê aan die Sunday Times: “I don’t sign agreements I have not seen.”

6. Die uitsaaiklagtekommissie het ’n kyker se aansoek om te keer dat MultiChoice tonele in die reeks Shaka iLembe wys waar vroue bostukloos verskyn, van die hand gewys omdat dit kultureel in konteks is.

7. Die ANC in die Wes-Kaap het Vuyiso Tyhalisisu tot nuwe leier verkies. Die dienende leier, Cameron Dugmore, was die ander kandidaat.


Dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap kan nat en koue toestande verwag met moontlike sneeu oor sommige berge. Daar is waarskuwings oor swaar reën langs die suide van die Oos-Kaapse kus wat tot oorstromings kan lei, en ’n hoë brandgevaar in dele van die Noord-Kaap. Ryp kan vanoggend in die suide van Gauteng verwag word. Dit sal mistig en deels bewolk in KZN wees met geïsoleerde buie langs die suidkus en in die aangrensende binneland.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 22°C • Johannesburg 21°C • Mahikeng 21°C • Mbombela 24°C • Kaapstad 17°C • Durban 22°C • Kimberley 23°C • Bloemfontein 21°C • Polokwane 22°C • Upington 26°C • Gqeberha 15°C • Oos-Londen 17°C.


Max du Preez | Vladimir gaan nooit weer na ‘Die Walküre’ kan luister nie

Saterdag se militêre insurreksie in Rusland deur die hoof van die Wagner-huursoldategroep van Yevgeny Prigozhin was bisar. Niemand weet mooi wat gebeur het en wat dit beteken nie, maar ’n paar goed staan uit:

Eerstens, dat die pantsermondering van Vladimir Putin as Sterkman nou skielik vol krake is, en tweedens dat wat deur Prigozhin en Putin in die openbaar gesê is, nooit ongesê kan word nie.

Die Putin-dissipels in Suid-Afrika – die ANC, die EFF en regse wittes – sal nou hulle heldeverering moet herdink.

Die Wagner-groep het nie net die Russiese militêre bevelshoofkwartier vir Oekraïne in Rostov oorgeneem nie; hulle het die brandstofopslagplek by die stad Voronezh opgeblaas en tot 200 km buite Moskou gevorder voordat hulle omgedraai het.

Putin se gesag is al tevore deur mense soos Alexei Navalny bevraagteken, maar Putin het hulle óf laat vermoor óf laat opsluit. Saterdag se insurreksie was die eerste keer in 23 jaar dat Putin werklik regstreeks uitgedaag is.

Hy het met ’n strak gesig aan sy nasie gesê dit is verraad, ’n messteek in die rug van Rusland en sal met alle mag gewreek word. Net ’n paar uur later het hy ingestem dat daar nie teen Prigozhin of enige van sy soldate opgetree gaan word nie.

Hy het nie self vir Prigozhin oorreed om sy opmars na Moskou te laat vaar nie en het ook nie sy generaals of senior Kremlinleiers gestuur nie. Sy marionet, pres. Alexander Grigoryevich Lukashenko van die derderangse landjie Belarus, moes dit gaan doen.

Putin gaan nooit weer as onaantasbaar beskou word nie.

Hy het op 24 Februarie verlede jaar gesê die inval is nodig om Rusland te beveilig. Intussen het Oekraïniese magte hommeltuigaanvalle op Moskou gedoen, Russiese grondgebied herhaaldelik betree en Saterdag moes die Russiese weermag strate om Moskou opgrawe om te keer dat Wagner se tenks en troepedraers die stad binneval.

Prigozhin het, net voor hy sy opmars na Moskou begin het, ’n toespraak op video opgeneem waarin hy Putin se hele rasionaal vir die oorlog in Oekraïne as vals afgemaak het. ’n Estlandse blogger, Dmitri (@wartranslated), het dit getweet:

Prigozhin het gesê die oostelike Donbas-streek is tussen 2014 en 2022 deur Putin-amptenare, die federale sekuriteitsdiens (FSB), oligarge soos Serhiy Kurchenko en Russiese generaals geplunder en besteel. Soldate is nooit behoorlik opgelei nie en die helfte van hulle salarisse is gesteel.

Hy sê die Russiese magte en vrywilligers van Oekraïne langs die grens met die Donbas het agt jaar lank op mekaar geskiet. “Nou probeer die ministerie van verdediging die gemeenskap en die president mislei en vertel die storie dat daar waansinnige aggressie van Oekraïne was en dat hulle ons saam met die hele Navo-blok gaan aanval. Die sogenaamde spesiale militêre operasie is op 24 Februarie om heeltemal ander redes begin.”

Die komende weke en maande sal leer wat van Prigozhin en sy formidabele mag van sowat 25 000 in Oekraïne en vele duisende in Jemen, Sirië, Mali, Soedan, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Libië gaan word.


Oor skinder, nuus en die openbare mening

Anyone here been raped and speaks English?

Volgens die Britse oorlogskorrespondent Edward Behr het ’n TV-verslaggewer dit geskreeu aan ’n versamelde menigte vlugtelinge wat in die chaos en geweld van Zaïre se onafhanklikwording in 1960 vasgevang is. Dit is ook die titel van sy 1978-memoires.

Meer as 400 mense, heelwat van hulle kinders, het 13 dae gelede ’n aaklige dood gesterf toe hulle boot aan die suidelike kus van Griekeland omgeslaan het.

Hoeveel het jy daarvan gelees/gehoor in die media wat jy gebruik?

Wat ek wel met min twyfel kan konstateer, is dat seker elke mens wat hier lees deeglik kennis dra van die mini-duikboot met vyf mense wat laas week na die wrak van die Titanic aan die kus by Newfoundland op pad was en deur die waterdruk vermorsel is.

Wanneer Rusland missiele en bomme op Oekraïniese dorpe en stede laat reën, neem ons deeglik kennis, selfs as net een of twee mense sterf. Sowat 9 000 burgerlikes het die afgelope 16 maande in dié konflik gesterf.

Ons kyk byna daagliks na tonele van die gevegte in Oekraïne en pres. Volodymyr Zelensky voel soos ’n ou bekende.

In Soedan is sowat 5 000 mense net in die afgelope drie maande in die gevegte tussen die magte van twee krygshere dood en is meer as 2 miljoen mense ontheem. Honderdduisende ly honger. Weet jy enigiets van dié oorlog?

Die meer as 700 mense op die vissersboot wat by Griekeland omgeslaan het, was vlugtelinge, meestal van Pakistan, Egipte en Sirië. Net 104 is gered.

Die mans op die Titan-duikboot was skatryk Amerikaners.

Dis nogal skreiend, nie waar nie?

Maar dit is ook nie so eenvoudig nie.

Dit is dalk ’n goeie tyd om te besin hoe ons in die media namens die publiek besluit wat is nuus en wat is nie, waarvan behoort jy te weet en wat is onbelangrik.

Dalk moet ons sommer ook besin oor die vraag of vermaak en verkoopbaarheid vir die media belangriker is as om die openbare mening behoorlik ingelig te hou.

Dis die ou vraag waarmee ons meer ernstige joernaliste deurentyd worstel: The public interest or the interest of the public?

Dis die ou vraag waarmee ons meer ernstige joernaliste deurentyd worstel: The public interest or the interest of the public?

Is die gesondheid van ’n oudrugbyspeler in die waakeenheid werklik groot voorblad-hoofopskrifte en daaglikse opdatering werd? Hoe belangrik is ’n deelnemer aan Die Housewives van die Wynlande se skinderstories oor haar kollegas?

A, skinder.

Ek was nog altyd ’n “ernstige” joernalis. Ek het nog nooit oor celebrities of mense se privaat skandes geskryf nie, tensy dit ’n politieke relevansie het. Maar laat ek my nie hier hoogheilig hou nie. Ek skinder self ook maar en geniet soms ander se sappige skinderstories.

Die evolusionêre sielkundige Robin Dunbar skryf in ’n insiggewende referaat, “Gossip in Evolutionary Perspective”, dat skinder, of geselsies oor sosiale onderwerpe, Homo sapiens se weergawe van primate se grooming van mekaar is en ’n belangrike evolusionêre rol speel.

“Were we not able to engage in discussions of these [social and personal] issues, we would not be able to sustain the kinds of societies that we do. Gossip in this broad sense plays a number of different roles in the maintenance of socially functional groups through time,” skryf sy. Ander navorsers praat weer van skinder as “cultural learning”.

As skinder so ’n belangrike deel van ons as mense se daaglikse lewe is, dan kan ons seker nie die media kwalik neem dat hulle hulle ook soms daaraan skuldig maak nie?

Ek sou egter wou redeneer dat ons in die media versigtig moet wees om nie sommer net skinderstories oor bekendes of belangrikes as belangrike nuus aan te bied nie.

Terug by oorloë en rampe.

Die aanhaling van Edward Behr hier bo wys iets uit wat gewone verbruikers van media nie altyd goed verstaan nie. As ’n joernalis nie toegang tot ’n nuustoneel het nie, as jy nie die mense op so ’n toneel verstaan of met hulle kan kommunikeer nie, kan jy nie regtig behoorlik verslag daaroor doen nie.

Die onlangse bloedige oorloë of konflikte in lande soos Ethiopië, Soedan, die DRK, Iran, Haiti en Jemen is grootliks ontoeganklik vir joernaliste, in kontras met Oekraïne, waar ’n joernalis in relatiewe veiligheid en uit ’n vyfsterhotel verslag kan doen.

Maar ons mag dit nie as verskoning gebruik om nie ons allerbeste te doen om dié konflikte onder lesers/kykers se aandag te bring nie. Al Jazeera het byvoorbeeld ’n span in Soedan wat waardevolle verslagwerk doen, terwyl die meeste Westerse (en Suid-Afrikaanse) media dit grotendeels ignoreer.

Ons as joernaliste moet alewig iemand soek wat ’n storie ’n mens se gesig kan gee, ’n persoonlike verhaal wat die groter storie uitbeeld, anders word dit ’n stuk met syfers en verklarings waarin min mense gaan belangstel. En dié mens moet verkieslik fotogenies wees en ’n taal praat wat die joernalis en/of gehoor kan verstaan. Dit klink kru, maar in die praktyk werk dit so. Verbruikers van media moet dit verstaan en verreken wanneer hulle iets lees.

’n Relevante faktor is dat die taksering van hoe nuuswaardig iets is, beïnvloed word deur hoe onverwags of ongewoon dit is. In Sydney of Stockholm is ’n enkele moord nuuswaardig; in Suid-Afrika word gemiddeld 80 mense elke dag vermoor.

Wat myns insiens belangrik is, is dat ons as joernaliste altyd moet besef dat ons keuses van berigte en die prominensie daarvan ’n groot invloed op die openbare mening het.

’n Voorblad-hoofberig stuur die boodskap dat die storie baie belangrik is, veel belangriker as die storie op bladsy 2 of 17. ’n Sportster se gesondheid of manewales is dus belangriker as ’n konflik of ’n probleem wat vele mense se welsyn aanraak.

As ons beriggewing die indruk skep dat vyf skatryk Amerikaners se lewens belangriker is as honderde vlugtelinge s’n of dat mense wat in Soedan sterf minder werd was as mense in Oekraïne, versterk ons vooroordele en ondermyn ons ’n gebalanseerde openbare lewens- en wêreldbeskouing.

Dit het my ’n paar maande gelede opgeval dat die meeste van ons plaaslike media veel groter prominensie verleen het aan ’n berig oor ’n massaskietery in Amerika waarin agt mense dood is as aan ’n skietery in ’n township-sjebeen in Suid-Afrika waarin ses mense afgemaai is.

Ons as joernaliste kan nie maklik die verskoning gebruik dat ons lesers/kykers meer in gebeure in die Weste as in die globale suide belang stel nie – dit is grotendeels weens óns toedoen dat dit die geval is. As jy daagliks van Donald Trump en Joe Biden en van Boris Johnson en Rishi Sunak lees, stel jy outomaties meer daarin belang as in die staatkunde van ons vasteland, Asië of Suid-Amerika waarvan jy nooit iets te lese kry nie.

Ons mediamense se daaglikse keuses bepaal in ’n groot mate waaroor ons gemeenskappe praat en dink.

Ons moet dié verantwoordelikheid baie ernstiger opneem.


– until the sea shall free them

by gladdeklip staan ons na 'n see
wat voor ons hier was en ná ons sal sloer
'n see sonder opinies oor sonsopkomste
of -ondergange of drywende sakke
'n see wat vere voel vir vlae
of stuurmanne of rampsalige passasiers
'n see wat onophoudelik beduie
met rooi en wit anemone
maar soos my pa verseg om enigiets te sê

– Tom Dreyer

(Uit: Nou in Infrarooi)


Kom luister hoe twee legendariese kamerade klets oor die ou dae, en vandag. Het jy al bespreek vir ons eerste VWB-Clarens-boekefees? Kliek hier vir Quicket. Bespreek sommer nou verblyf ook, want die dorp raak vol! Sien jou daar.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.



Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.