Op die spoor van die suiwerste note langs die Valsrivier

WOENSDAG MET WILLEM

Op die spoor van die suiwerste note langs die Valsrivier

WILLEM KEMPEN vat die spoor van die Bothaville-Stradivarius, en wonder oor die renosters wat deesdae oral opduik.

Dominique Botha vertel in verlede week se uitgawe die pragtige verhaal van Abe Steinberg, die “laaste Jood van Bothaville" wat in die Depressiejare stoksielalleen daar aangekom het om dié Vrystaatse dorpie se skoenmaker te word.

En hoe hy saans in die agterjaart viool gespeel het: 

Oor die snare van sy instrument het die strykstok in Abe se hand die staf van Aäron geword, waaruit amandels en blomme bloei. Wat water uit klip kon slaan sodat die mense mag drink. ’n Sussende stroom van vredige verdriet het oor die dorp gespoel soos die geheime geskiedenis van angeliere ...

Dominique skryf hoe daar jare ná Abe se dood 'n brief opdaag van ene William Steinberg, wat sê Abe was sy broer, dat hy toe pas eers van sy dood verneem het, en dat die viool, vervaardig deur Antonio Stradivari van Cremona in Italië, asseblief na hom aangestuur moet word. Wat toe gedoen is, en eers nóg jare later is besef hoe waardevol dié instrument dalk was.

Maar kon 'n skoenmaker van Bothaville regtig jare lank een van die wêreld se waardevolste en mees gesogte musiekinstrumente in sy besit gehad het? Dalk sonder om dit self te weet?

Die eerste leidraad is dat William Steinberg klaarblyklik onder die indruk was dat sy broer se instrument wel 'n egte Stradivarius was. En William Steinberg sou nie vir 'n goedkoop namaaksel val nie: Hy was 'n internasionaal gerekende dirigent en self 'n bedrewe violis. Sy doodsberig in The New York Times op 17 Mei 1978 noem dat hy net meer as twee weke tevore nog die New Yorkse Filharmoniese Orkes in 'n privaat konsert gedirigeer het.

Nóg die doodsberig nóg William se inskrywing op Wikipedia noem iets van 'n broer of suster. Laasgenoemde sê wel “the Steinbergs" het in 1936 uit Nazi-Duitsland gevlug en hulle in Palestina gaan vestig in die Britse mandaatgebied wat ná die Tweede Wêreldoorlog Israel sou word. William het later sy loopbaan as dirigent in die VSA gaan voortsit, maar ek kry nêrens enige verwysing na 'n broer en suster wat hulle in Suid-Afrika sou kom tuismaak het nie.

Die volgende vraag is of daar enige boekstawing is dat William Steinberg ooit 'n Stradivarius besit het. Daar is nie, maar dit beteken nie noodwendig iets nie omdat soveel Strad-eienaars verkies om dit stil te hou uit vrees vir diefstal of ongewenste publisiteit. Baie van die instrumente word deur trusts of museums of privaat versamelaars besit, wat hulle dan weer by geleentheid aan kunstenaars beskikbaar stel wat volgens hulle waardig is om dit te bespeel. Wikipedia noem altesame 282 Stradivarius-instrumente waarvan die geskiedenis bekend is, maar oor verskeie van hulle is daar twyfel oor hulle egtheid. Kenners het selfs al gewonder of moontlik die beroemdste en waardevolste van hulle almal, die sogenaamde Messias-Stradivarius wat in Oxford se Ashmolean Museum gehou word, die ware Jakob is.

My goeie vriend Piet Koornhof, self 'n bekende konsertviolis en professor in viool aan die Noordwes-Universiteit, sê daar is ondanks vele soektogte oor die jare geen onbetwiste rekord van 'n Stradivarius wat ooit deur 'n Suid-Afrikaner besit is nie. Die “Strad" wat destyds deur 'n weldoener aan die befaamde Johannesburgse vioolonderwyser prof. Alan Solomon geleen is, het later geblyk 'n kopie te wees wat eintlik gemaak is deur Giovanni Pressenda, die “Stradivari van die 19de eeu" – sonder twyfel 'n uitmuntende instrument in eie reg, maar eers twee eeue later vervaardig.

Tot vandag toe maak die beste vioolmakers soms kopieë van die beroemdste instrumente as huldeblyk aan Amati, Stradivari, Guarneri, Bergonzi, Guadagnini of ander meesters. (Piet speel gewoonlik op 'n eietydse viool van Boris Sverdlik, wie se werkswinkel in einste Cremona is.) Ander viole is weer eenvoudig namaaksels, soms uitstekend en soms van minderwaardige gehalte. En dikwels word enigiets wat ouer as die res lyk sommer 'n Stradivarius genoem, al is daar geen gronde voor nie. Die vorige keer toe ek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein was, was daar byvoorbeeld 'n bra onindrukwekkende ou viool wat agter glas as 'n “Stradivarius" uitgestal is. As dit waar was, dan sit die museum daar met iets wat tiene miljoene dollar werd kan wees.

Op die lyste van die wêreld se waardevolste viole is daar gewoonlik ook verskeie deur Guarneri, waaronder Il Cannone, “Die Kanon", die instrument waarop die wêreld se oorspronklike bad boy rock star, Niccolò Paganini, sy lewe lank gespeel het nadat hy sy Amati op die dobbeltafel verloor het.

Die ander viool wat soms die lyste haal, is nie 'n Stradivarius of 'n Guarnerius nie, maar 'n relatief beskeie instrument wat behoort het aan Wallace Hartley, die leier van die orkes wat op die dek van die Titanic aanhou speel het terwyl die skip onder die ysige waters van die Noord-Atlantiese Oseaan verdwyn het. Hartley se lyk is twee weke later gevind met sy musiektas nog aan hom vasgemaak. Die tas het sy viool feitlik ongeskonde bewaar.

Nou ja, dit het sekerlik nog nooit vir enigiemand saak gemaak dat die laaste klanke wat aan boord van daardie gedoemde skip gehoor is, nie van 'n Stradivarius afkomstig was nie ...


The Music of Beauty

To me thy lips are mute, but when I gaze
Upon thee in thy perfect loveliness,—
No trait that should not be—no lineament
To jar with the exquisite harmony
Of Beauty’s music, breathing to the eyes,
I pity those who think they pity me;
Who drink the tide that gushes from thy lips
Unconscious of its sweets, as if they were
E’en as I am—and turn their marble eyes
Upon thy loveliness, without the thrill
That maddens me with joy’s delirium.

– James Nack

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.