Hoe lyk ’n misdadiger se brein?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Hoe lyk ’n misdadiger se brein?

Suid-Afrika is blykbaar een van die slegste lande as dit kom by die behandeling van geestesgesondheid. ANESCA SMITH vertel van ’n studie waarin die verband tussen moord en breinskade ondersoek is.

Dagsê

Image: ANGELA TUCK

’n Predikant-vriend van Riebeek-Kasteel in die Wes-Kaap kla dié week oor hoe misdadigers – veral inbrekers – die kerk gereeld teiken. Dit wissel van slote wat rondom geboue gegrawe word om koperpype uit te haal tot kraankoppe wat afgekap en verkoop word. Selfs die gemeente se tuine, waar groente gekweek word om onder meer sop te maak vir die armes, word geplunder.

Hy skryf: “In ’n gemeenskap kan mense gou vir jou sê wie jôl met wie, wie kwaad is vir wie, wie watter eiendom beskadig het, wie se geld is uitbetaal en hoeveel het die persoon gekry. Wie het wie se dogter swanger gemaak en wie het vir wie sleggesê. Wie word drieuur in die oggend deur ’n getroude man afgelaai en wie kruip vyfuur die oggend uit watter huis. Hulle weet ook wie het watter siekte en watter kleur pille dié mense gebruik.

“Maar wanneer daar ingebreek word, het niemand iets gehoor, gesien, geruik of aangevoel nie – selfs as die inbreker met die grootste gemak en geraas sy ding doen.”

Ek vra hom of dwelm- en drankmisbruik op die dorp ’n rol speel. Maar ek wonder ook hoeveel aandag die Suid-Afrikaanse regering skenk aan die verband tussen misdaad en geestesgesondheidsprobleme, met inagneming van die gewelddadigheid van ons samelewing. Volgens die Mental State of the World Report van 2021 is Suid-Afrika een van die slegste lande as dit kom by die behandeling van geestesgesondheid. Slegs 5% van die land se gesondheidsbegroting word daarvoor aangewend.

Image: ANGELA TUCK

Dít terwyl wetenskaplikes wêreldwyd al hoe meer aandag gee aan en kennis opdoen oor die brein (hersens in Nederlands) van misdadigers – die sogenaamde “kriminele brein”.

In Nederland is daar byvoorbeeld vanjaar ’n soort dagkliniek geopen waarheen verdagtes gestuur word wat vermoedelik ’n neurologiese probleem het sodat ’n span deskundiges ’n uitgebreide ondersoek kan doen.

“Internasionale ondersoeke toon dat sowat 35% van aangehoudenes ’n vorm van ’n nie-aangebore breinskade (hersenletsels) het. In die gewone bevolking is dit sowat 5%,” het ’n kliniese sielkundige by die kliniek gesê.

Die verskil het vermoedelik te make met die harde lewe wat misdadigers dikwels lei. Hulle word byvoorbeeld meer gereeld aan dwelmmisbruik, geweld en roekelose gedrag blootgestel as die gewone bevolking. En dikwels al vanaf ’n jong leeftyd.

’n Ondersoek wat ’n tyd gelede in die vakblad Brain Imaging and Behaviour gepubliseer is, toon dat van die 800 deelnemers aan die studie, diegene wat moord gepleeg of probeer pleeg het, aansienlik minder grysstof het as ander oortreders.

“Meer grysstof beteken meer senuselle en gliaselle (glia is Grieks vir ‘lym’). Dit is wat jy nodig het om berekeninge te doen en inligting te verwerk – of dit nou emosionele inligting is wat jy byvoorbeeld gebruik om empatie vir ander te voel of inligting wat jy gebruik om jou gedrag te beheer,” het een van die ondersoekers gesê.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.