Los die elitisme in poësie

DONDERDAG MET MERCY

Los die elitisme in poësie

MERCY KAY skrie uit in die niet.

Image: ANGELA TUCK

’n Interessante opvatting, of “hot take” soos die kinders sal sê, wat ek vandeesweek gelees het, meen daar word neergekyk op Instagram poetry en digters wat slegs op Instagram publiseer, omdat die poësieliefhebbers digkuns in ivoortorings wil hou. As jy geen idee het van enige van die woorde wat jy tot dusver gelees het nie, kom ek wys eers wat byvoorbeeld as ’n Instagram gedig geklassifiseer sal word.

Koffie

deur Mercy Kay (Vir Instagram moet jy ’n catchy naam het. “Mercy Kannemeyer” lees geensins cool genoeg vir Instagram nie.)

Mucho java
Mucho java in my rooi koppie
Gisteraand geniet ek my soppie.
Dit laat my dink aan al die mense
Die mense sonder kersfees-wense.
Maar ek is nog hier.
Al sukkel ek met my huur.
Dalk is dinge soos dit moet wees.
Binnekort hou ons weer fees.

Bostaande gedig sou perfek wees vir Instagram. Ongekompliseerd. Tot op die punt. Jy mag dalk twyfel aan my skryfvermoë, maar daar’s g’n twyfel aan die feit dat jy presies verstaan het nie, right?!

Nog ’n gedig wat as Instagram-gedig kan deurgaan, is iets wat ek in my derdejaar op universiteit geskryf het … 21-jarige ek het standvastig in die literêre waarde van die onderstaande gedig geglo.

H

              A

                             L           

                                           Looooo

Hallo!!
Skrie ek uit in die niet.
Lyk my julle het va’ my vi’giet.

Image: ANGELA TUCK

28-jarige ek weet van beter.

Die argument (oftewel hot take) meen ook dat poësie deur middel van Instagram toegankliker is as dié wat op die tradisionele manier in boekformaat uitgegee word. Nie almal wil groot literêre pryse wen nie. Sommige digters wil bloot mense bereik, hulle laat voel, hulle op ’n reis neem.

So, van waar die elitisme wat met sommige poësie gepaard gaan?

Myns insiens het dit baie te make met die maniere waarop ons aanvanklik aan poësie blootgestel word. In Afrikaans Huistaal op skool het ons slegs gróót digters bestudeer. Jou N.P. van Wyk Louw, jou Breytenbach, jou Eybers. Aan die Universiteit St*llenbosch (😉) leer ons van die Dertigers, die Sestigers, en die digters wat in die 90’s en die Nuwe Suid-Afrika publiseer. Die manier waarop ons oor poësie geleer het, was met ’n tipe heiligheid. Die Groot Verseboek het byna die Bybel kom vervang. En daar’s niks mee fout nie. Poësie leer ’n mens dissipline; dit leer jou om baie met min woorde te sê.

Ná my studentedae bly die Sestigers my nog altyd by. Ek’s ’n fan. Die tydsgees, die atmosfeer van die land wat die Sestigers raak geskryf het en die vriendskappe (sowel as vyandskappe) wat onder menige Sestigerdigter gesmee is, is bewonderenswaardig.

Ek het soveel respek vir digters. Dis nie almal wat kan doen wat julle doen nie. Of jy op Instagram publiseer of by ’n uitgewer, doen wat jy moet doen.


koeplet

behalwe jou kloppend verruklik besneë steel
kan niks meer my naterige gate heel

– Antjie Krog

(Uit: Gedigte 1989 - 1995)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.