Dagsê
Skoonmoeder vrees ná ’n val dié week dat sy haar vinger gebreek het en bel die huisarts.
In Nederland is dit nie ongebruiklik dat die ontvangsdame wat die telefoon beantwoord jou sommer ongevraagd van mediese raad dien nie. Klaarblyklik moet die dokter so min as moontlik lastig geval word met siek mense en so.
Ontvangsdame: “Mevrou, kan u nie ’n lappie om die vinger draai nie? U verwag tog nie dat ons u weens ’n beseerde vinger hospitaal toe moet verwys nie?”
Skoonmoeder (verontwaardig): “Hoe weet u wat fout is met my vinger as daar nie ’n ondersoek gedoen is nie? Het u ’n mediese opleiding gevolg?”
Ontvangsdame: “Maar ek verstaan nie hoekom u nie ’n parasetamol kan neem nie?” Ná ’n lang oor-en-weerdery word daar uiteindelik skoorvoetend ’n afspraak gemaak.
Nêrens voel jy jou as Suid-Afrikaner meer soos ’n vreemdeling in Jerusalem as wanneer jy ’n Nederlandse huisarts moet besoek nie. Ons almal weet Suid-Afrika se openbare gesondheidsorg kan hel op aarde wees vir diegene wat nie mediese versekering kan bekostig nie. (Daar is ook goeie klinieke, verpleegsters en dokters wat ondanks beperkte hulpbronne hul bes doen.)
Maar as jy dit wel kon bekostig (en ek neem aan Suid-Afrikaners wat kan bekostig om Nederland toe te verkas, kon oor die algemeen ook goeie mediese sorg in Suid-Afrika bekostig), is die diens wat jy by dokterspraktyke in Nederland kry ’n ontnugtering:
Jy dink jy kom na ’n Eerste Wêreldland en verwag eersteklas-gesondheidsorg, net om agter te kom daar is toe wel nog talle dinge in Suid-Afrika wat beter is as in Europa.
Aan die begin van die corona-pandemie word ek siek. Vyf maande lank skrik ek elke oggend met keelseer wakker en ontwikkel elke aand ’n hewige koors. Dit word so erg dat ek naderhand skaars 10 meter kan loop sonder om swak te voel. Eers ná sewe besoeke aan die huisarts – die laaste keer sleep ek my man saam om dreigend na haar te staar – stem sy in om my na ’n spesialis te verwys.
Want o ja, hier kan jy nie sommer ’n afspraak by ’n spesialis maak nie – selfs nie eens ’n ginekoloog nie. Die poort na hierdie soort dienste word met man en mag deur die huisarts bewaak. Boonop, kan jy nie sommer na enige dokterspraktyk gaan nie. Jy registreer by een en dáár sal jy bly tot Jesus terugkeer.
Dis ook nie asof Suid-Afrikaners net kleinserig is nie. Op sosiale media wemel dit van klagtes en grappies onder buitelanders oor die Nederlandse gesondheidstelsel. Of meer spesifiek hoe moeilik dit is om ’n Nederlandse huisdokter te oortuig dat jy werklik siek is.
Mense kan dit nie kleinkry dat Nederlanders so gelate die situasie aanvaar nie. So nou en dan tref jy dit gelukkig en kry ’n studentedokter te sien – dié is nog ten minste entoesiasties oor hul werk en pasiënte.
Ek vra skoonmoeder waarom kom die mense nie in opstand oor basiese sorg nie. Sy haal haar skouers op en sê: “Tja.”
Klaarblyklik het dinge begin skeefloop toe die regering die gesondheidsorg aan die privaat sektor begin uitbestee het en hom weinig met die gehalte van die sorg bemoei het. Dieselfde gebeur met openbare vervoer. Die belang van die gewone burger is ver te soek. Solank hy of sy maar gemelk word vir geld.
Dié week lees ek in die koerant dat die aantal Nederlanders wat hulself “autonoom” verklaar – onafhanklik van die staat en wat weier om belasting te betaal – aan die groei is. Hul getalle staan nou op ongeveer 10 000.
Ja, ek weet jy kan jou nie van die staat ontkoppel nie, maar sommige dae het ek uit pure frustrasie lus om self by dié klub aan te sluit.
Mooi naweek
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.