Goeiemôre!
Die dokter sê: Gaan soek jou saligheid waar die lewe sin maak. Wel, die rus was nog altyd elders en hodofiele doen wat hodofiele doen. Die afgelope 18 maande het ek 76 000 km op die Jimny gesit en nog ongeveer 20 000 km op die Defender. Die Oos-Vrystaat is ’n hartsaak en Lesotho se bergpasse toets my 2004-TD5 se uithouvermoë tot die uiterste. Terloops, daai T staan vir Turbo. En, as jy dit nie geweet het nie, ry Lesotho toe met jou bejaarde (387 000 km) Defender.
Karavaanparke en kampeerplekke werk goed, want die baarmoeder-agtige dubbelbed in die Defender slaap lekkerder as die een in my huis. Soggens is my voertuie die eerste wiele by die koffiewinkel en teen die tyd wat die eienaar met mossiepoep-oë oopsluit, wag ek al ’n uur lank met beheersde ongeduld. Oor ’n koppie koffie en kaartboek karteer my hart ’n roete. Met die dokter se prognose in my binnesak kry ek koers na die Noord-Kaap.
Met ’n emosionele verknogtheid wat ek al vir 21 jaar nie kan afskud of beheer nie, draal ek langer as wat nodig is in Potchefstroom, by my seun. Dis nie altyd vir hom lekker as sy pa groet soos iemand wat vir ewig weggaan nie, maar hy raak gewoond daaraan. Met my dogter in Hongkong praat ek ’n paar keer per dag. My seun loop nou nie juis met sy hart op sy mou nie en swye afgewissel met kort, saaklike gesprekke is meer sy wyse van kommunikasie. My gebroedsels gee al die sin aan die lewe wat nodig is om soggens op te staan. As hulle verdwyn, begrawe ek myself.
Any case.
Die Land-Rover ploeg deur die platteland. Op Kuruman ontmoet ’n boer van die distrik my; hy het maande gelede laat weet hy wil geloofsake met my gesels. Sy sin vir die wetenskap is geneties en sy frontale lob ploeg moeiteloos deur komplekse idees en gedagtes. Dit word ’n ontsaglike leersame twee uur.
Megaboer Piet Karsten van Kanoneiland en sy verstommend deernisvolle vrou, Sandra, se gasvryheid is merkwaardig. Piet ken nie van kleinburgerlike geselsies nie en sy vrae is ryp gefermenteer in beleë vate; dit is altyd ’n uitdaging om jou cliché-argumente staande te hou in Piet se geselskap. By die Kalahari Vleishuis op Keimoes koop ek ’n kardoes biltong en die bestuurder sit met plattelandse liefde gratis koeksisters by my aankope.
Van daar is dit na Kenhardt en die Boesmanland se Brandvlei. Die Engel-yskas het net baie water en avo’s in. Daar is ’n vreemde behae daarin om langs ’n pad urine te passeer in die absolute, doodse stilte van die natuur. Die Land-Rover se enjin koel hoorbaar af. Op Calvinia gee ek ’n twee uur lange aanlyn klas vir die nagraadse studente; hulle dink ek is in Potchefstroom.
Nieuwoudtville in die Bokkeveld is vir my nuut, maar duidelik is dit ’n botanis se droom: Die kombinasie van bergagtigheid en blomme is ’n versadigde genade. Die Hantam- Nasionale Botaniese Tuine is ’n miernes van blomme-entoesiaste. Sir Richard Attenborough het sy The Secret Life of Plants hier geskiet, vertel ’n boer my deur sy Cruiser se venster. Hy het eintlik stilgehou om te hoor of ek genoeg olie vir my Land-Rover het. Iewers in die omgewing nie ver van Nieuwoudtville nie ontmoet die suurbos van die Noord-Kaap en vetplante van die Karoo; die Renosterveld staan ruig in die kleigrond in die rigting van Malmesbury.
Dalk is dit net ’n poging om die seisoen te bemark, maar die koffiewinkeleienaars van Nieuwoudtville tot in Langebaan vertel die blomme is vanjaar mooier as ooit. “Moet net nie voor elfuur gaan kyk nie, die son moet die blomme eers wakker maak.”
Die glansogies en geel bulbinellas (ook katsterte genoem) staan in plate. Die gousblomme blom in die meer sanderige areas. Daar is suurvye en ’n oormaat veelkleurige bokbaaivygies. Geofiete is skaars, maar die elandsvy en die geel magrietjies staan so ver as wat die oog kan sien. Die afwisselende pers en wit sporries is my gunsteling en waarskynlik ook die wit botterblomme. Die wit, geel en pers soetuintjies is orals.
In Langebaan gaan groet ek die geduldigste stem vir komplekse begrip in die Unie; die kenner van militêre teorie Abel Esterhuyse. Midde die teoretisering van militêre strategie probeer ons ’n rugbywedstryd op die televisie volg. Abel drink sy whisky on the rocks; ek sweer dit is alkoholvry, vertel ek myself soos die bottel se bodem sigbaar raak. Kort ná middernag trek ek die Land-Rover in by ’n kampterrein, Leentjiesklip, en dut vir vyf minute agter die stuurwiel voor ek die “pisvelle” regtrek om warm te slaap.
Douvoordag vat ek pad, rigting Melkbosstrand, waar Vrye Weekblad ’n boekefees hou. Op pad, 20 km van Velddrift, doem ’n padstal op, Weskus Spens! Gewapen met my statiene en suikerpille bestel ek my gunstelingdis: pap en kaiings; ekstra botter, asseblief. Skelm gooi ek twee versoeters oor die pap, hoekom die soet vir my so lekker is, weet die duiwel alleen. Ek gee weer klas vir 90 minute en ry verder.
Die eerste aand in Melkbos parkeer ek die Land-Rover in die Ou Skip-karavaanpark. Op my ouderdom is dit belangrik dat die toilet snags nie maratonafstand moet wees nie en dit reën vir ’n deel van die nag hartlik op die Defender se dak.
Dan ruk alles tot stilstand; Vrye Weekblad het my ingeboek in ’n lodge met al die gemak en gerief van bevoorregting denkbaar. Die Vrye Weekblad-boekefees is georganiseer deur die mees deurwinterde vryskutjoernalis wat ek ken, Ilza Roggeband. Die hardebaard-joernalis Foeta Krige vlieg Kaap toe vir sy eie redes en vra of hy ’n “lift kan bum” terug Gauteng toe. Jip, jy kan, maar was jy al in Nieuwoudtville en het jy al die blomme gesien? Kom ek gaan wys jou.
Groete
Piet
Our Real Work
It may be that when we no longer know what to do
we have come to our real work,
and that when we no longer know which way to go
we have come to our real journey.
The mind that is not baffled is not employed.
The impeded stream is the one that sings.
– Wendell Barry
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.