ANC, UDF het nie vir selfde ideale geveg

MAANDAG MET MAX

ANC, UDF het nie vir selfde ideale geveg

Die ANC het vir mag vir homself en die swart meerderheid geveg; die UDF wou al die mense vrymaak en in ’n oop demokrasie laat gedy, skryf MAX DU PREEZ by geleentheid van die 40-jarige viering van die UDF se stigting dié week.

“Ons moet die gees van die UDF laat herleef.” “Ons het ’n nuwe soort UDF nodig om ons demokrasie te red.”

Hoeveel mense het dít nie al die laaste paar maande met groot gewag verklaar nie? Dit sluit mense in wat destyds gretig was dat die UDF deur die staat vermorsel word, selfs mense wat teen die onderhandelde skikking van 1994 gekant was.

Ja-nee, mense, ek hoor julle versugting en desperaatheid. Maar soos ons die stigting van die UDF 40 jaar gelede, op 20 Augustus 1983, herdenk, moet ons darem ook reg onthou wie en wat die UDF was.

Dit was ’n beweging van miljoene Suid-Afrikaners en honderde gemeenskaps-, beroeps-, arbeids- en geloofsorganisasies wat gemobiliseer is om apartheid onwerkbaar te maak.

Dit was ’n onwrikbaar nie-rassige “broad church”, ’n konglomerasie van mense oor ideologiese, etniese, geloofs- en klasgrense heen met één doel: om wit heerskappy te beëindig en die mense, ál die mense, hulle self te laat regeer.

Tienduisende UDF-aktiviste is in die sewe jaar van die beweging se bestaan tronk toe gestuur, die oorweldigende meerderheid sonder verhoor. Honderde het met hulle lewe geboet. Dit was die destydse veiligheidspolisie se nasionale sport om UDF-aktiviste te ondermyn, lastig te val en hulle lewe te ontwrig, omtrent altyd op onwettige maniere.

Die UDF was noodwendig ’n radikale, soms militante beweging – hoe kon dit anders wees as die doel was om die status quo van meer as drie eeue met ’n een-mens-een-stem-demokrasie in ’n eenheidstaat te vervang?

Alewige soek na mandaat

Ek onthou hoe gefrustreerd ek destyds soms was met die UDF se obsessie met raadplegende demokrasie: die alewige soek na ’n mandaat van die ondersteuners, die uitstryk van verskille, die soeke na konsensus oor strategie, die aansteek en doodslaan van vure.

Daar is in dié sewe jaar meer werksessies en klein en groot vergaderings gehou as in die vorige 100 jaar in Suid-Afrika.

Frustrerend, ja, maar dit was wat die UDF gemaak het wat dit was: ’n werklik nasionale beweging met sy wortels diep in die gemeenskappe. Die UDF het aan die mense behoort, nie aan ’n leier of leiers of partystrukture nie.

Ek het dit al van vele verhoë af gesê en in baie artikels geskryf: Dit is seker nie iets wat forensies meetbaar is nie, maar ek het in my eie gemoed geen twyfel nie dat die UDF in sewe jaar baie meer gedoen het om apartheid te laat verbrokkel en die Nasionale Party na die onderhandelingstafel te dwing as wat die ANC en Umkhonto we Sizwe in die twee dekades voor 1990 gedoen het.

Die UDF, soos ek dit persoonlik ervaar het en soos dit deurgaans deur leiersfigure verwoord is, was nié die “binnelandse vleuel” van die ANC nie. Dit was nie ’n ANC-inisiatief nie. Dit is nie uit Lusaka bedryf nie.

Dit was natuurlik ook darem nie heeltemal los van die ANC nie. Daar was ’n breë begrip dat die twee organisasies dieselfde einddoel het en ’n hele klompie klipharde ANC’s was altyd in die UDF woelig. Daar was onder baie selfs ’n oorromantisering van die “vryheidsvegters in ballingskap” en van die UDF-leiersfigure het by geleentheid in Lusaka gaan flikflooi.

Image: ANGELA TUCK

Ontkenning van politieke realiteite

Die enigste warm argument wat ek ooit met my gewaardeerde ou vriend Van Zyl Slabbert gehad het, was in die maande toe hy en Alex Boraine die Dakar-beraad met die ANC in 1987 beplan het. Ek het dié inisiatief sterk gesteun en aktief daaraan deelgeneem, maar ek het vir Van Zyl gesê dat om net met die ANC te gaan praat en nie ook ’n soortgelyke simboliese ontmoeting met die interne UDF te hê nie, ’n ontkenning van die politieke realiteite is.

ANC-leiers soos Thabo Mbeki, Mac Maharaj en Pallo Jordan het tydens ons gesprekke in Dakar die UDF inderdaad tot ’n soort “plaaslike ANC-inisiatief” afgemaak, ’n slim taktiek van die Politburo en die Kommunisteparty. Dit was presies wat die apartheidsregering en die veiligheidspolisie ook gesê het.

En toe word die verbod op die ANC in 1990 opgehef en die leierskap keer terug Suid-Afrika toe.

Die UDF is gou onseremonieel en sonder veel teenstand van die UDF-leiers ontbind en in die ANC ingelyf.

Ingesluk en uitgekots.

Ek blameer myself vandag nog dat ek toe, as die redakteur van ’n struggle-koerant wat na aan die UDF gestaan het, nie hard en duidelik hierteen geprotesteer het nie.

Dalk, en dis nie lekker om dit te sê nie, was ek ook effe verblind deur die romantiek en glamour van die brawe bannelinge wat ná drie dekades huis toe kom.

UDF keelaf gesny

En dalk is ek verblind deur Nelson Mandela die Heilige, onder wie se leierskap die UDF keelaf gesny is.

Ek het die meeste ANC-leiers toe al geken en was ’n gereelde besoeker aan Lusaka tussen 1984 en 1989. Ek het gewéét die politieke kulture van die ANC en die UDF het hemelsbreed verskil; dat die Sowjet-styl en “demokratiese sentralisme” en die UDF se gemeenskapsgebaseerde weerstand moeilik versoenbaar was.

Dit was, as ek terugkyk, ’n fenomenale groot historiese fout waarvoor Suid-Afrika duur betaal.

Hier is UDF-voorbok Allan Boesak daaroor: “So now, some in the ANC realise the enormity of that mistake, for it is the ‘spirit of the UDF’ you are now all looking for. That, however, is the very spirit you have tried to banish, 32 years ago.”

Boesak het onlangs ook onthul dat die ANC die ontbinding van die UDF met ’n partytjie in die ou Carlton-hotel gevier het. “How fitting, and how ineffably sad. So I have to ask myself, are these the same people who are now calling for the revival of the UDF?”

Die bruin gemeenskap, wat na aan die hart van die UDF was, se reaksie was om vier jaar later in groot getalle vir die ou Nasionale Party te stem.

Ek het groot respek vir mense in die ANC en Umkhonto we Sizwe wat hulle lewe vir die bevrydingstryd gegee het.

Politieke mag

Maar in 2023 kyk ek terug en kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat die ANC in sy wese eintlik vir politieke mag vir die swart meerderheid en die ANC as beweging geveg het eerder as vir ’n waarlik vrye en demokratiese Suid-Afrika.

ANC-leiers vandag en oor die jare heen het baie ander praatjies gemaak, maar die bewind van Jacob Zuma as president het dié werklikheid duidelik en dramaties gedemonstreer.

As iemand wat die UDF as sy enigste werklike politieke tuiste gesien het, glo ek dat Suid-Afrikaners wat die UDF se ideale gekoester het en werklik in ’n Suid-Afrika glo waar burgers se menswaardigheid en welstand die hoogste waarde is, finaal met die ANC moet breek.

En hulle moet die durf van die UDF van die 1980’s aan die dag lê en dit sigbaar doen en sê.

Die ANC is nie meer rehabiliteerbaar nie. Die ANC het drie dekades gehad om Suid-Afrika uit die as van kolonialisme en apartheid te help opstaan, maar kyk hoe lyk ons nou.

Die hef aan lê voor.

Max


herinnering jongensfontein

ses wit fonteine breek uit die kalkrand
en loop deur some bronkors af see toe,
en verdwyn
so soetjies in die sout soos 'n man in 'n vrou
of 'n vrou in 'n man
en nóg kom die meisiekinners in die oggend verby
en pluk hande vol groen af vir die aandkos
en noem die
name op, die onbeplandes:
bromkors, pepergras
                ja, wat nog?
seeseleie,
kalkslaai
kres

– Petra Müller
(Uit: om die gedagte van geel)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.