Bobbejaan agter die bult gaan haal

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Bobbejaan agter die bult gaan haal

DEBORAH STEINMAIR skryf oor goed wat te veel soos mense lyk.

Image: ANGELA TUCK

Het jy al gehoor van die uncanny valley-effek? Dis die verhouding tussen ’n voorwerp se graad van ooreenkoms met ’n mens en mense se emosionele reaksie op die voorwerp. Mensagtige voorwerpe soos poppe wat te veel na mense lyk, maak mense ongemaklik en laat hulle weersin ervaar. “Valley" dui op die afname in die menslike waarnemer se affiniteit vir die replika.

’n Pop of robot wat te menslik voorkom, laat kykers kil en afsydig voel en laat hulle koud. ’n Babapop moet min of meer soos ’n suigeling lyk, maar darem nie presies soos ’n dooie baba nie, dan is dit net plein grillerig.

Ek wonder soms of dit van toepassing is op bobbejane: Hulle lyk soveel na mense dat dit amper voorkom asof hulle ons na-aap, spot. Ons herken soveel van onsself, maar wil nie identifiseer nie. Honde, katte of perde wat minder na mense lyk, ontlok egter liefdevolle gevoelens.

Bobbejane, met hulle gevaarlike slagtande, kan baie mak word en allerlei menslike gedrag aanleer. Daar was ’n bobbejaan, Jackie, wat ’n korporaal in die Suid-Afrikaanse weermag was tydens die Eerste Wêreldoorlog. Hy het ’n medalje en oorlogspensioen gekry en is (weens luierende PTSV) aan ’n hartaanval dood toe die weerlig in vredestyd naby hom geslaan het.

Daar was ’n ander bobbejaan, ook Jack, wat in diens van die Spoorweë was. Hy was wisselaarwagter in Uitenhage. ’n Wisselaar is ’n toestel met hefboom wat getrek word om treinspore te verander sodat ’n bewegende trein na ’n ander spoor oorgaan. Verantwoordelike werk, dus.

In ons samelewing word bobbejane toenemend ’n bedreiging, of eerder: Mense met hulle woongebiede wat aanhou uitbrei en teen berghange opkruip, bedreig die habitat van bobbejane.

Image: MAX DU PREEZ

By uitkykposte word toeriste gewaarsku om bobbejane nie te voer nie. Almal gee natuurlik nie gehoor nie. Die bobbejane het al so slim geword dat wanneer mense nader stap aan hulle motors en solank met afstandbeheer die deure oopsluit, die bobbejane die geluid van die afstandbeheerder herken, in die motors spring en vinnig buit wat daar te ete is.

Iemand het my ’n bobbejaanstorie vertel: Bobbejane het mense al hoe meer begin terroriseer by ’n gewilde piekniekplek. Vakansiegangers het graag daar uitgespan met koffie, tee en eetgoed. Skaars is jou kossies uitgepak of jou spek, frikkadel, eiers en kasie word deur harige hande voor jou neus weggeraap. Dan sit die abjaters smaaklik en vermaaklik in die boom en smul aan piekniekkos.

Veral een mannetjie het geniepsig geraak. Wanneer die skoonmakers nader staan, het die bobbejane hakskene gewys, maar later het dit nie meer gehelp nie. Toe veldwagters met hulle voertuie daar opdaag, het hulle aanvanklik koers gekies. Maar toe het die afskrikmiddel ook nie meer gewerk nie.

Hulle het toe besef die bobbejane eien die uniforms en bakkies van die Parkeraad. Klagtes het bly instroom en die veldwagters besluit om in gewone klere met ongemerkte bakkies op te daag. Hulle kom toe doodluiters aangestap met gewere – die doel was om die bobbejane te verdoof, spesifiek die gevaarlike een.

Pandemonium bars los. Mense besef nie dis veldwagters nie. Terroriste! gil iemand. Almal storm na hulle karre en druk in die hardloop afstandbeheerders vir oopsluit en inspring. Natuurlik hol bobbejaan se kind los voor, meegevoer in die massa-histerie. Bobbejane spring in die oopgesluite motors, gil, druk die toeters en skyt die sitplekke vol. ’n Kakofonie.


The Tell-Tale Heart

Confinement is part of confinement.
As it is part of worms
to go through the surface
(like death and roots),
confinement starts
at the very moment of impairment.
They say that a few inches underground
it is possible to hear all
the rumors of the world.
That they are just heartbeats, almost imperceptible
that become from one moment to the next
like a desperate pounding.
They say humidity is part of the charm,
and that it sometimes suffocates,
like the measured sadness
that comes from the impossibility
of seeing one’s own face
in the mirror.

– Carlos Soto-Roman

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.