Rotterdam is die cooler, jonger dog afgeskeepte sussie sonder...

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Rotterdam is die cooler, jonger dog afgeskeepte sussie sonder al die toeriste

As jy (weer) in Nederland kom, gaan ’n slag tuis in Rotterdam met sy jong, multikulturele bevolking, of Delft, wat al die bekoring van Amsterdam het, maar met veel minder toeriste, is ANESCA SMITH se pleidooi.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Wanneer vriende en familie Nederland kom besoek, raai ek hulle altyd sterk aan om ’n draai in Rotterdam te maak. Tot dusver kon ek nog g’n mens oortuig nie; vandaar dié ode aan die stad.

Hoewel Rotterdam op die oog af nie die bekoring van Amsterdam het nie, is dit veel meer gedurf. Soos Amsterdam se cooler, jonger sussie. Jy sien dit aan die argitektuur, hoe Rotterdammers aantrek, die musiek wat daar gemaak en die kuns wat daar uitgestal word.

Amsterdam bly prentjiemooi, besef ek weer toe ek verlede Woensdag ’n vriendin gaan groet en langsaam al met die volle 3 km van die Keizersgracht langs wandel. Dis een van die minder bedrywige dele van die graggordel en ná ’n hewige bui reën vroeër die oggend sus die boomryke straat, die water, die kunsgalerye, die mooi ou pande jou gemoed.

’n Paar uur later word ek weer tot die werklikheid geruk oor waarom Amsterdam die laaste paar jaar ’n bietjie van sy funky edge verloor het toe ek kortpad deur die stad loop om by die treinstasie uit te kom: Ek loop my teen ’n muur van toeriste vas. Dit is gewoonlik net 10 minute se stap, maar ek kom doodmoeg by die stasie aan – suiwer weens die mensemassa waardeur ek myself moes wring.

Waar Amsterdam se ryker dele soos old money voel, is daar iets jonks aan Rotterdam. En nie net vanweë sy aansienlike jong, multikulturele bevolking nie, maar ook vanweë die geboue.

Op 14 Mei 1940 is omtrent die hele Rotterdam deur die Nazi’s plat gebombardeer. En moenie vergeet dat daar ook bomme van die Koninklike Lugmag afgeval het weens swak berekening nie. Die enigste deel waar jy nog glimpe van die ou argitektuur sien, is in die hawebuurt Delfshaven. Daar is nog ’n kerk uit die 15de eeu, windmeule en skattige huisies. Beslis die moeite werd om te besoek. Nietemin, ná die Tweede Wêreldoorlog moes omtrent die hele stad herbou word.

Maar natuurlik is Rotterdam oud. Die stad se geskiedenis dateer van die 12de eeu toe ’n dam in die Rotterivier gebou is. Toe mense nog van seereise afhanklik was om êrens te kom, het meer as 3 miljoen emigrante via die Rotterdam-hawe op bote van Holland America na New York verkas. Talle van dié emigrante was Oos-Europeërs.

Wat is daar in Rotterdam te sien en te doen?

Eerstens, skaars 10 minute se loop van die stasie is die Kunsthal-museum (my gunsteling), wat altyd vir wisselende en fassinerende tentoonstellinge sorg. Daarnaas – en moeilik om mis te kyk omdat dit soos ’n alien-skip lyk wat aarde toe neergedaal het – is Depot Boijmans van Beuningen, wat spesiaal gebou is om die enorme versameling kuns van die Museum Boijmans van Beuningen tydelik te huisves. Laasgenoemde is weens verbouings gesluit en sal na verwagting eers in 2029 heropen.

As jy ’n foodie is, maak ’n draai by die Markthal – ’n katedraalagtige glasgebou – waar ’n wêreld van smake op jou wag: van Nederlandse haring tot Japannese ramen, Türkiyiese wraps en Chinese dumplings. Ek wag nog vir die Suid-Afrikaanse braairestaurant.

Vir panoramiese uitsigte oor die stad kan jy die Euromast-toring beklim, en moenie die geel kubus-woninge van die argitek Piet Blom met hul ongewone vorm vergeet nie. As jy wonder of dié huise enigsins bewoonbaar is, kan jy binne gaan rondloer vir ’n skamele €3. Ook geel is die wonderlike Luchtsingel, ’n voetgangerbrug van 390 m wat Rotterdam-Sentraal met Rotterdam-Noord verbind.

Die komende najaar wil ek ook weer ’n draai by Kralinge in die ooste van die stad – ’n sjiek buurt met romantiese villas en herehuise – gaan maak. Daar sal jy ook die Trompenburg-tuine en Arboretum vind, ’n paradys van agt hektaar vir tuinliefhebbers, aangelê in die styl van die Engelse landskap.

As jy dus weer in Nederland is, sal ek jou aanraai om jou verblyf in Rotterdam te reël. Jy kan altyd per trein vir ’n dag of twee na Amsterdam gaan. Of selfs beter, Delft, wat al die bekoring van Amsterdam het, maar met veel minder toeriste.

Mooi naweek

Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.