Goeiemôre
Anderdag bring kollega Piet vir my 'n pakkie heerboontjies saam van sy padreis deur die Kalahari en Weskus waaroor hy 'n paar Sondae terug so mooi geskryf het.
Ek het gevra hy moet gaan inloer by die Rooistal op die plaas Vensterklip net buite Elandsbaai, want my kosbare boontjievoorraad is op.
Dit was hoeka in die plaasrestaurant daar dat ek die eerste keer heerboontjies geëet het, op 'n perfekte alleenwees-Sondag in die groen winter van verlede jaar.
Die heerboontjie-en-lensiesop met crème fraîche is een van die lekkerste goed waaraan ek nog ooit my mond gesit het. Voorgesit in 'n klein, swart driepootpotjie met vuurgeroosterde plaasbrood. Ek kon nie glo dat iets so eenvoudig so smaaklik kan wees nie. Die boontjies is romerig met 'n vleiserige aardsheid. Soos 'n botterboontjie, maar meer kompleks.
Jana Louw, die eienaar van en kok by Vensterklip, het my vertel dat dit sonder vleis of aftreksel gemaak word. Ek het daardie Sondag by Jana in die kombuis gesit terwyl sy die een wonderlike dis ná die ander tafel toe stuur. Die spyskaart is Mexikaans-met-'n-Sandveld-kinkel. Dit klink vreemd, maar dit wérk: 'n Sandveldse Caeserslaai met bokkoms. Weskus-ceviche met rissie en sitrus. Nacho's met plaaslike varkvleis. Lamsvleis met chimichurri.
Heerboontjies is 'n ware, inheemse Suid-Afrikaanse erfenisboontjie, maar is nie eintlik buite die Sandveld bekend nie. Ek en 'n fotograaf-vriendin het by Rina Theron, kenner van Sandveld-kos- en inheemse plante, op haar plaas Aan het Berg by Leipoldtville gaan kuier om meer oor die kontrei se kos te wete te kom.
Rina sit vir ons middagete voor. Boere-hummus (van heerboontjies gemaak, natuurlik!), veldkool-smoor en 'n duinespinasiepiekel. 'n Brandnetelsop met klappermelk. Waterblommetjie-tempura. Stowesnoek met heerboontjies en 'n spekboom-en-marankie-blatjang.
Ons stap deur haar inheemse kruietuin en haar lappie heerboontjies. Ons pluk sakke suurlemoene en pomelo's van die swaargelaaide bome in haar vrugteboord. En voor ons ry, drink ons koffie saam met dik snye spekboomkoek (naas die Vensterklip-potjie, is dit die beste ding wat ek in daardie drie weke se plattelandse omswerwinge geproe het).
In haar kookboek Sandveldkos: Kosnostalgie en stories van gister skryf Rina oor haar soeke na die oorsprong van die heerboontjie. Sy het op verskillende stories en weergawes afgekom. Die algemeenste siening is dat die naam van Jan van Riebeeck af kom, wat die “Here van die Kaap” was.
Maar die heerboontjie word dikwels ook die goewerneursboontjie genoem, wat weer verwys na Simon van der Stel, wat dit die eerste keer na die Kaap sou ingevoer het.
“Volgens oorlewering moes die boere ook 'n gedeelte van hulle oes aan die goewerneur afstaan as belasting en dit kan ook die moontlike verklaring van die naam wees," sê sy.
“'n Ander moontlike verklaring is dat dit toentertyd die gebruik was dat boere grond by ander boere gebruikleen het en dan moes hulle 'n gedeelte van hulle oes aan die eienaar afstaan as vergoeding."
Volgens haar word die boontjie baie keer verwar met die lima- of botterboontjie, en selfs C. Louis Leipoldt, in Polfyntjies vir die proe, praat van die heerboontjie as 'n marmeragtige bont boontjie, wat nie dieselfde is as die groot, romerige, plat heerboontjie met die swart spikkeltjie nie.
Rina was op haar dag een van die voorste aartappelboere in die Sandveld, en sy sê heerboontjies hou van die arm, effense suur sanderige leemgrond van die kontrei. En interessant genoeg is dit bestand teen insekte en siektes omdat dit natuurlike sianied bevat (wat gelukkig teen oestyd nie meer 'n faktor is nie).
Die verbouing daarvan is ook geweldig arbeidsintensief omdat die bone oneweredig ryp word, en moet dus met die hand geoes word. En daar is ook 'n staaltjie oor 'n koninklike konneksie aangesien daar volgens oorlewering jaarliks 'n voorraad heerboontjies vanaf die plaas Langfontein (wat vandag steeds heerboontjies aanbou) na die Buckingham-paleis gestuur is.
Die helfte van Piet se boontjies word vandag gekook (ek is snoep met my voorraad). Ek het dit oornag geweek en dit sal nou met 'n knippie koeksoda gekook word totdat hulle sag is. Dis vrekwarm hier vandag, so ek gaan 'n slaai maak met 'n soeterige, suurlemoenerige vinaigrette en hande vol kruie en mikrogroente. Miskien met van die ingelegde artisjokke in my koskas. En wat van fyngekapte ansjovis? Ek sal nog besluit. Op 'n dik sny geroosterde ciabatta.
As jy ooit die kans kry, gaan eet by Vensterklip. Daar is ook kothuise op die plaas te huur en dis heerlik om daar te bly. Sodra my dogter haar laaste matriekeksamen geskryf het, wil ek beslis weer soontoe gaan.
Salige Sondag.
Anneliese
Pathways
Understand, I’ll slip quietly
away from the noisy crowd
when I see the pale stars rising, blooming, over the oaks.
I’ll pursue solitary pathways
through the pale twilit meadows,
with only this one dream:
You come too.
- Rainer Maria Rilke
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.