Was Lauren Dickason net geestesongesteld?

MAANDAG MET MAX

Was Lauren Dickason net geestesongesteld?

MAX DU PREEZ is bekommerd oor Suid-Afrikaners se geestesgesondheid, maar wonder oor die verband tussen misdaad en geestesgesondheidsprobleme.

Een van die positiefste stappe in die evolusie van ons spesie is die nuwe erkenning wat die belangrikheid van geestesgesondheid (mental health) die laaste paar dekades of so geniet.

Ek sou wou sien dat politieke wetenskaplikes, kriminoloë en ander navorsers heelwat meer aandag hieraan bestee wanneer hulle menslike gedrag ontleed, en dat joernaliste dit beter verstaan, voortdurend ondersoek en destigmatiseer.

Image: ANGELA TUCK

Toe ek jonk was, was geestesgesondheid nie ’n ding nie. Tensy ’n psigiater jou as ’n skisofreen of iets anders op sy register van ernstige geestes- of persoonlikheidsafwykings klassifiseer, moes jy maar jou pyn vat en jouself regruk.

Selfs die werklikheid van posttraumatiese stres is ontken, veral ook deur die weermag wat tienduisende jong mans na die oorlogsone gestuur het om ander te gaan doodskiet.

Ek is bekommerd dat die ernstige verval, ekstreme armoede, werkloosheid en oorweldigende misdadigheid en geweld wat Suid-Afrika tans beleef, ’n ernstige tol gaan eis wat in mense se gedrag gaan manifesteer – ek dink dit gebeur klaar.

Ek het dit in my boek A Rumour of Spring ondersoek en op die baanbrekende navorsing van die Nicaraguaanse sielkundige Martha Cabrera afgekom. Sy en haar span het in die laat 1990’s ’n veldtog van werksessies, opleiding en berading in Nicaragua gevoer, veral ná die verwoesting van die orkaan Mitch in 1998. Die land was toe al deur diktatorskappe, burgeroorloë en natuurrampe, en verkragting, gesinsgeweld en gesondheidsprobleme was algemeen. Cabrera se droom was om “spirituele herkonstruksie” aan te help.

Haar pogings het nie gewerk nie. Mense was, onder meer weens die vinnige opeenvolging van traumatiese gebeure, nie in staat om hulle ervarings te verwerk nie. As iemand nie sy/haar trauma gou kan verwerk nie, “its social consequences, the most frequent of which are apathy, isolation and aggressiveness, are only revealed over time”, skryf sy. Versamelde pyn lei tot ’n verminderde kapasiteit om te kan kommunikeer, om buigsaam en verdraagsaam te wees en te verander.

Dit laat die vraag by my ontstaan: Het alle ernstige misdadigers nie per definisie ’n probleem met geestesgesondheid nie? Dis mos nie ‘normale’ gedrag om iemand te verkrag, te vermoor, te martel of aan te rand nie?

Cabrera praat van Nicaragua as ’n “multiply wounded, multiply traumatized” gemeenskap.

Ek sou dit ook van ons Suid-Afrikaanse gemeenskap sê.

As mense oor geestesgesondheid praat, sê ek graag grappenderwys: Gelukkig is ek dood in my binneste.

Dis natuurlik nonsens; dis van niemand waar nie. Ek is van die spanningsvolle dae van die oorspronklike Vrye Weekblad (dirty tricks van die polisie, ’n rits hofsake, ’n bomaanval op ons kantoor, ’n sluipmoordpoging, eindelose stories oor moordbendes, ensovoorts) reguit oor na die SAUK, waar ek toe langer as twee jaar elke dag intiem met die Waarheid-en-versoeningskommissie gewerk het.

Aartsbiskop Desmond Tutu het my en my span aangeraai om gereeld ’n terapeut te besoek om te keer dat al die boosheid in ons vassit. Ek onthou nog my macho-antwoord, net half in ’n grap: Arch, ’n Springbokrugbyspeler gebruik nie gesigroom nie.

Al dié goed het in my lyf en my kop kom sit, maar ek het dit nie só verstaan nie. Ek is ’n hardegat-joernalis; dis wat ons doen. Ons is nie sissies nie.

En toe gaan ek vir ’n paar weke Rwanda toe. Ek was by al die plekke waar die volksmoord van 1994 op sy ergste was, plekke met uitstallings van duisende geraamtes, en het dosyne slagoffers en volksmoordenaars ontmoet en na hulle stories geluister.

By my terugkeer het ek my vrou van my ervarings begin vertel. En toe raak ek onbeheers aan die huil en kan nie ophou nie, oor al die menselyding en boosheid, maar sommer ook oor alles wat al in my lewe skeefgeloop het, van my ma se dood af toe ek vier jaar oud was. Ek het agterna besef dat die ernstige vliegongeluk waarin ek jare tevore was en die jare lange operasies wat ek moes ondergaan en waaroor ek nooit met enigiemand gepraat het nie, ook soos ’n kanker in my gemoed bly sit het.

Kloksgewys van links bo: Aileen Wuornos, Moses Sithole, Charles Manson en Jeffrey Dahmer.
Kloksgewys van links bo: Aileen Wuornos, Moses Sithole, Charles Manson en Jeffrey Dahmer.

Ek is geen sielkundige nie, maar ek verstaan dat elke mens, insluitende julle wat hier lees, noodwendig deur ’n trauma was wat ’n letsel gelaat het. Dit kan ’n liefdesteleurstelling of ’n mislukte huwelik wees, of dat jy as kind geboelie is of liefdeloos grootgeword het, ’n ervaring van geweld of verlies, ’n ongeluk, gesondheidsprobleem, geldelike probleme of ’n kind wat die pad byster geraak het, probleme by jou werk, gedurige vreesagtigheid as jy in ’n gevaarlike woonbuurt of dalk op ’n plaas woon.

Moet dié trauma asseblief nie opkrop nie.

Geestesgesondheid was ook ’n tema in dié week se Vrye Weekblad, met Neil Sonnekus se prikkelende artikel uit Nieu-Seeland oor Lauren Dickason, die Suid-Afrikaanse dokter wat haar drie dogtertjies doodgemaak het. Dit het ontsettend baie reaksie ontlok, met vele wat meen Sonnekus was onnodig onsimpatiek. Verskeie het gesê Sonnekus verstaan nie depressie nie. (Lees dit hier.)

Dit laat die vraag by my ontstaan: Het alle ernstige misdadigers nie per definisie ’n probleem met geestesgesondheid nie? Dis mos nie “normale” gedrag om iemand te verkrag, te vermoor, te martel of aan te rand nie? En as dit waar is, hoe moet ons strafregstelsel dit hanteer?

Is dit so eenvoudig dat Lauren Dickason se geestesongesteldheid haar tot haar aaklige daad gedryf het, en indien wel, moet sy dan sagkens behandel word?

Cecilia Steyn
Cecilia Steyn

Wat van Cecilia Steyn, die hoof van die Krugersdorpse moordkultus wat 11 moorde georkestreer het? Daar is mos baie duidelik ’n ernstige probleem met haar geestesgesondheid?

Wat van Moses Sithole, wat tussen 1994 en 1995 minstens 37 vroue vermoor het? Die berugte reeksmoordenaar Jeffrey Dahmer met 17 moorde op sy kerfstok, Aileen Wuornos met sewe, selfs Charles Manson, die hoof van ’n moordkultus in die laat 1960’s?

Terug na Rwanda. Ek het met mense gesels wat erken dat hulle hulle bure en vriende vermoor het omdat hulle Tutsi’s was. Ek het ’n Katolieke priester ontmoet wat sy gemeentelede laat uitmoor het, ’n man wat sy eie vrou vermoor het omdat sy ’n Tutsi was. Al die geweldenaars wat ek ontmoet het, het na doodgewone mense gelyk.

Psigopate het nie gekies om psigopate te wees nie. Hulle kan dit nie help nie. Dit is amptelik ’n “mental health condition”.

Wanneer is ’n wandaad suiwer boosheid, en wanneer is dit die gevolg van ’n probleem met geestesgesondheid?

Hoekom pleeg die meeste mense met ernstige geestesongesteldhede nooit enige misdade nie?

Wanneer moet ons as gemeenskap eis dat selfs mense met ernstige geestesprobleme die regte keuses maak, en wanneer moet ons verstaan as hulle dit nie doen nie?

Ek het nie maklike antwoorde op dié vrae nie.

Al wat ek wel weet, is dat ons bedag daarop moet wees dat almal van ons in Suid-Afrika ’n voortdurende aanslag op ons geestesgesondheid beleef; dat ons almal na die mense om ons moet kyk en trauma raaksien waar dit manifesteer.

Elke erkende godsdiens in die wêreld het dié opdrag: Gee om vir jou medemens.

Groetnis
Max


serp

die rooi serp rek lank en dun
soos 'n naelstring om my nek

jy het dit self gebrei, soms gedra

tasbaar is jou dood vandag
'n vlegsel bloed oor my bors

verlies is 'n smal landskap
sonder gras, sonder skede

– Marlise Joubert

(Uit: Grondwater)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.