Die probleem is nie dat die ANC nie kán nie, maar dat hulle...

DONDERDAG MET MERCY

Die probleem is nie dat die ANC nie kán nie, maar dat hulle nie wíl nie

MERCY KANNEMEYER worstel tussen fight en flight.

Image: ANGELA TUCK

Wanneer ons Sondag Erfenisdag vier, is daar ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou. Saam met die rykheid, die omvang, die glorie, the good, the bad and the ugly van ons komvandaan as ’n diverse land, is daar natuurlik die hier en die nou wat ’n netelige vlek op ons bestaan plaas. Ons land is verdeeld, daar is mense na wie se basiese menseregte nie omgesien word nie, en sommige van ons (veral hier in Johannesburg, voel ek) leef met ’n tipe ongemak wat die flight-or-fight instinkte byna daagliks aanwakker.

Met die opbou tot volgende jaar se verkiesing voel dit asof die verdeeldheid in ons land nou onder ’n vergrootglas geplaas is. Politieke partye ruk hase uit hoede uit om kiesers se stemme en harte te wen. Die veelbesproke en veelberigte koalisiepakt, dié pakt wat kwansuis die ANC se gat gaan skop in volgende jaar se verkiesing, verskaf genoeg besinning vir die stand en toekoms van ons land se demokrasie. Die ANC maak nog nie benoude spronge nie, want hulle narsisme, ego en regeringsgeskiedenis van die afgelope 30 jaar hou hulle nog warm. Maar in die lig van al die uitdagings wat ons land se mense tans in die gesig staar, uitdagings waarvoor die ANC oplossings kán bied, is daar ’n groeiende ontnugtering wat my opgewonde maak. As regerende party is die ANC nie nié daartoe in staat om verandering te bewerkstellig nie, hulle is onwillig. En daai onwilligheid gaan hulle nie die verkiesing kos nie, maar hulle gaan seerkry.

Image: ANGELA TUCK

Dit is daardie einste onwilligheid (en astrantheid, en dan natuurlik korrupsie; duh, hoe kan ons vergeet) wat bydra tot mense wie se basiese menseregte nie geëer word nie. Die vreemdste van alles is dat mense nie vra vir Maserati’s en krane wat roomys drup nie; mense vra vir kos, water, behuising en elektrisiteit. Mense vra vir dinge om net te werk. Die selfdoeners, mense wat inspring en besef dat daar g’n Messias op ons horison lê nie, hou die land aan die gang. Hulle hou mense wat die regering miskyk, aan die gang. Politieke partye gaan inzoem op ons diversiteit – ons erfenis – en ons wil oorreed om vir hulle te stem omdat hulle ons raaksien. Bly wakker.

Fight or flight. Ja. My erfenis lê hier. My wortels, my grond, my Genesis. Die gras is dalk nie altyd groener aan die ander kant nie, maar my fok. Dinge sal nie só kan aangaan soos dit nou aangaan nie. Van my kant af is daar niks om môre te vier nie. Wag. Dis dalk te sinies. Besluit vir jouself. Of soos Vrye Weekblad sê: Dink vir jouself.


If I have to get along without friendship
– the toad-mellow courtesy that passes for it –
then I choose this: rectangular solitude
I will fill out myself with a circle full
of the softness of my love for you.

– Wilma Stockenström, vertaal deur Johann de Lange

(Uit: The Wisdom of Water)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.