Gesoek: Ons eie Clara en Mauricio om SA toerisme vir die...

WOENSDAG MET WILLEM

Gesoek: Ons eie Clara en Mauricio om SA toerisme vir die sterre te laat mik

WILLEM KEMPEN wonder of besoekers van elders in die veelal dalk ingespan kan word om SA toerisme 'n hupstoot te gee.

Hulle is gedoop Clara en Mauricio – dis nou daardie twee mummie-agtige oorblyfsels wat verlede week in die Mexikaanse kongres aan die wêreld voorgehou is as wesens van iewers anders as die planeet aarde. Die tweetjies se oorskot is in 2017 in Peru gevind, sê die “UFO-entoesias" Jaime Maussan, wat ook aan die LP's vertel het Clara en Mauricio het 'n duisend jaar tevore daar iewers omgekom.

Die storie het nogal wyd aandag gekry; selfs Forbes het daaroor berig. Die meeste van dié berigte is versigtig en noem dat Maussan se aansprake nie sommer net geglo kan word nie: Hy het al minstens een keer tevore ook opgewonde geraak oor iets wat later geblyk het baie ordinêr te wees.

Prof. Brian Cox
Prof. Brian Cox

Iemand wou ook by die Britse astronoom en fisikus prof. Brian Cox weet wat hy van die storie dink. Sy kommentaar, bloot op grond van wat hy in die media oor Clara en Mauricio gesien het, is dat dit hoogs onwaarskynlik is dat 'n intelligente lewensvorm wat elders in die veelal onder ander toestande onafhanklik ontstaan en ontwikkel het, so naby aan mense kan wees soos dié twee, wat opvallend baie soos die outjie in die fliek ET lyk.

Maar die punt waarby ek eintlik wil uitkom, is dat Mexiko en Peru in die proses heerlike reklame vir hulle toerismebedryf gekry het. UFO's is deesdae groot besigheid, en dit sal my nie verbaas as die hele affêre meer mense na daardie lande gaan lok as wat óns byvoorbeeld sou regkry deur 'n Engelse sokkerklub te betaal sodat hulle die woorde “Visit South Africa" op hulle truie vertoon nie.

Ek dink wel ons behoort nie ons plaaslike LP's by so 'n poging te betrek soos Mexiko gedoen het nie. Dit gaan voornemende UFO-toeriste net afskrik. Mens moet hulle meer geleidelik aan alternatiewe werklikhede blootstel.

Om so 'n bedryf aan die gang te skop, meen ek, moet daar goeie rapporteringskanale wees sodat mense weet waar om enige vreemde vlieënde verskynsels aan te meld. Dit kan nie sommer net jou plaaslike koerant of radiostasie wees nie. Sommige van laasgenoemdes, soos Metro FM eergister op X, is net 'n bietjie te ver agter die kurwe van nuwe wetenskaplike kennis, met 'n peiling soos dié:

The debate has been on-going for decades now and still no consensus. Is the earth a round ball in space or just a large flat mass?

Die luisteraars, daarenteen, is op die bôl, as t ware, want só het die uitslag teen gister gelyk:

  • Obviously it is round: 65.7%
  • Come now, it’s flat! 21.1%
  • I’m on the sidelines: 13.2%

Daar het ons dit: Per (amperse) tweederde-meerderheid is die aarde rond en nie plat nie; in Suid-Afrika in elk geval.

Die enigste plek wat ek op die internet kon vind waar Suid-Afrikaners buiteruimtelike besoekers sou kon gaan aanmeld, is by https://uforsa.co.za, maar hulle het nog Silent disc-shaped UFO seen over Underberg in December 1971 onder “Recent Posts", wat nou nie juis die indruk skep dat Suid-Afrika wemel van besoekers van elders in die uitspansel nie (Nigerië en Zimbabwe tel nie).

Ons sal beter as dit moet doen, en bemarking behoort altyd die werklikheid 'n paar treë voor wees. Ons eie Clara en Mauricio is iewers daar buite – ons moet hulle net vind ...


Lemoen

Ek verdeel die lemoen in vier seisoene
Die huisies lê blink in my oop palm
Ek proe die onweer, die soet son
die herfs, die botsels
en die rou, rou grond
My lyf word vol van die wonder van die aarde
die droewe aarde
brak gelek deur treurige diere

- Jeanne Goosen

(Uit: Elders aan diens)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.