Sondagoggend kry ek ’n WhatsApp van Elmari Rautenbach:
Miskien weet jy: Schalk Schoombie is vanoggend dood nadat breinvliesontsteking maande gelede by hom gediagnoseer is en toe TB van die ingewande ontwikkel het wat te laat opgetel is. Was in ’n koma af en aan vir die afgelope paar weke. ’n Verskriklike lyding gehad.
Verdwaas plaas ek haar woorde op Facebook. Ek het nie eens geweet hy was so siek nie.
Eens, nie lank gelede nie, voor Covid, was ons, soos my ouma sou sê, so dik soos diewe. Close.
Hy het vir my geskryf om dankie te sê vir ’n positiewe resensie oor sy boek Rooi haring. Ons het oor boeke begin gesels. Ons het ontmoet en redelik gereeld begin lunch en nooit ophou praat oor boeke nie. Hy het deel van my Pretoriase skrywersvriendekring geword. ’n Dromerige, sensitiewe man, uiters begaafd in vele rigtings. Hy het as akteur begin en het selfspottend vertel dat Franz Marx hom “jazz-voetjies” genoem het omdat hy met sy voete na buite stap, soos tien voor twee.
Hy het dramas geskryf en bekroonde romans. Hy het nooit gemansplain of gemanspread nie. Hy kon nie reverse nie – dit weet ek omdat hy die kantspieëltjie van sy vrou se nuwe oranje vuurwa morsaf gery het by Protea Boekhuis in Minnistraat waar ek gewerk het. Ons het graag ’n paar glase wyn gedrink, maar daardie dag was hy klipnugter; hy het my op kantoor kom besoek om oor sy manuskrip te praat.
Ons het saam die kunswebwerf Skrop begin. Dit was sy idee en sy entoesiasme het my ingekatrol. Daar het ek my een keer opgeruk toe hy streng gebied dat ek minder oor Protea se boeke en skrywers skryf. Ek het gevoel hy kan nie kla oor gratis arbeid nie; dit het my Sondae in beslag geneem. Maar hy was natuurlik reg. Ek het later onttrek, want my dae het te dol geword. Toe het ons nie meer elke dag gepraat nie.
Ná die inperking het ons minder kontak gehad. My wêreld het kleiner geword, met minder skrywerslunches en groot kuiers. Johannesburg het ver begin voel. Ek weet hy het gesukkel met sy oë, wat rooi was en getraan het. Hy het gesukkel om te lees. Die dokters het gesê hy gaan blind word, dis onomkeerbare sonskade of iets.
Hy was een van die mense by wie ek tuis gevoel het; onder sy sagte blik kon ek ontspan. Hy was ’n ruimhartige skrywer met immer iets goeds te sê oor ander skrywers. So ’n mooi man met 'n radiostem, maar koddig, met ’n sekere weerloosheid in die wêreld, Jazz-voetjies, met sy bles wat maklik brand, sy deurskynende wimpers en snorklag. ’n Liewe, liewe mens. Nou het die wêreld ’n Schalk-vormige gat. Ons het al soveel verloor.
Hier is wat twee vriende op Facebook oor hom gesê het:
Jan Barend Wolmarans:
Schalk is een van die heel beste en mees versorgende, skadelose mense wat ek ooit leer ken het. In ’n tyd vol roemhoere en sluwe prestasiekonkelaars was hy God Weet ’n Engel.
Martie Swanepoel:
En sagtheid. Schalk sal als omring met sagtheid.
Slaap sag, Schalk, jammer ek het nie saam met jou huis toe gestap nie.
’n Dromer en ’n gentleman
Die nag ruik na spoed
het jy geskryf
en geruisloos
tussen die reëls verdwyn
met jou koordferweelstem
Jou laaste manuskrip
sit nog in my inboks
Jou pet het hier bly lê
soos iets wat jy wou sê
Ons drink lou rooiwyn
In 'n lente vol stuifmeel
Snorklag tot ons oë traan
Ons het die pes oorleef
Jou sig is aan die krimp
Die lig is te skerp
Jou hug is warm
jou hart is sag
jou oë bleekblou
'n yssplinter hang
aan jou neuspunt
Watter boek gaan jy lees
Schalk, voor jy gaan slaap
Op bladsy hoevil was ons
Die boekmerk het uitgeval
– Deborah Steinmair
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.