Dagsê
Suid-Afrika en Nederland skud al twee hul vere reg vir ’n verkiesing. Maar waar armoedebestryding dié tema is van die verkiesing in Nederland en “bestaansekerheid” die nuwe buzzword, smeer die Suid-Afrikaanse regering sy gat af aan die armes. Soos onlangs weer te sien was met die chaos rondom die uitbetaling van toelaes.
En dis nie net die regering nie. Net so vieslik om te lees in ’n Nederlandse koerant verlede naweek was ’n exposé oor watter uitvoerende bestuurshoofde verlede jaar die grootste salarispakket verdien het. En wie pryk bo-aan die lys? Naspers en Prosus se uitvoerende hoof, Bob van Dijk – hy het verlede jaar 1 133 keer meer verdien as die gemiddelde werknemer by die maatskappy. Twee dae later word vriend en vyand verras met die aankondiging dat Van Dijk uit sy pos vertrek.
Hoe voel dit om arm te wees? ’n Kort skets, want ons wil mos nie beskuldig word van armoede-porno nie.
Eerstens, jy skrik omtrent elke oggend wakker met ’n brandende knop op jou maag. Wat gewoonlik erger word hoe nader dit kom aan die einde van die maand. Gaan jy genoeg geld het om die huur te betaal? Wat gaan julle vandag eet? En as jy nie genoeg geld het vir die huur nie, hoe lank voor die huisbaas jou op straat sit?
Soms kan jy jou wend tot familielede (wat dit dikwels ook nie breed het nie), maar soms staan jy dan daar op die sypaadjie met julle skamele besittings om jou heen gestrooi, die kinders se klere in plastieksakke.
Waarom dié voorbeeld oor die gebrek aan ’n woning – of grond – van jou eie? Omdat geografie ’n belangrike rol speel as jy praat van armoede in Suid-Afrika. Waar jy woon, bepaal jou toegang tot goeie skole, ’n veilige omgewing, ordentlike behuising, vervoeropsies om by jou werk te kom – as jy hoegenaamd ’n werk het.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste verslag was toelaes vir 50% van Suid-Afrikaanse huishoudings die tweede belangrikste bron van inkomste. Vir ’n kwart was dit dié belangrikste bron van inkomste. In die Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo en die Vrystaat was daar selfs meer huishoudings afhanklik van toelaes as van ’n salaris.
Met ander woorde, daardie toelaag – selfs die skamele R350 – is soms ál wat staan tussen baie Suid-Afrikaners en doodgaan van die honger. Dink jy ook maar daaraan, liewe leser, as jy volgende keer R379 betaal vir ’n vaas by Woolworths. Of wat van daardie wit orgidee van R999? In wie se sak beland die meeste van die wins uit dié soort produkte?
In Nederland is die debat oor die begrotingsrede Donderdag gehou. Vir die eerste keer het ek gesien hoe politieke partye – vir ’n wyle vry van die ooreenkomste wat hulle noodgedwonge met koalisievennote moet sluit, omdat dit so moeilik is om ’n volslae meerderheidstem te behaal in Nederland – heeltemal die begroting waarmee die regering vorendag gekom het, aanpas.
Só gaan die regering nou geld uithaal om die minimumloon volgende jaar te verhoog, kindersorg goedkoper maak en afsien van die beplande prysverhoging van brandstof en openbare vervoer. Al dié en ander maatreëls word ingevoer om nie net armoede te bestry nie, maar ook die middelklas ’n helpende hand te bied.
Waar kom die geld vandaan? Wel, onder meer om die belasting wat banke betaal te verhoog en om groot ondernemings wat hul wins gebruik om eie aandele te koop meer belasting te laat betaal.
Soos een politikus dit gestel het: “Vandag het ons (as politieke partye) laat sien dat ondanks verskille, as ons saamwerk, kan ons mense wat al ’n lang tyd sukkel om kop bó water te hou, op ’n betekenisvolle manier tegemoet kom.”
Met ander woorde: as die politieke wil daar is. Iets wat, hartseer genoeg, in Suid-Afrika ontbreek.
Mooi naweek
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.