Oor kintsugi en ander gedagtes in die lenteboorde van die Langkloof

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor kintsugi en ander gedagtes in die lenteboorde van die Langkloof

ANNELIESE BURGESS deel ’n paar lukrake gedagtes wat in die stilte van die Langkloof by haar opgekom het. En ’n gedig.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek het gisteraand vir die eerste keer in 'n baie lang tyd deur die nag geslaap en wakker geword tussen berge, bome, beeste en bloeisels.

Twee Riviere is 'n spikkel in die Langkloof. Die huisie het 'n uitsig oor 'n dam met waterlelies. Daar is 'n klavier. En 'n bad. En 'n bed met dik, saggewaste ou linne. Wolke wisteria hang voor die venster. 'n Rottangstoel op die agterste dek kyk af op 'n kabbelende swart-groen stroompie wat deur die kaal populiere kronkel.

Ek het al baie magiese plekke ontdek op my padreise deur die land, maar hierdie is dalk die heel, heel mooiste een tot nog toe. Dis die eenvoud, die afsondering, die bome, riete, water. 

Ek kook water in 'n ketel wat op die stoof sing. Die bottel vars melk in die yskas het 'n dik laag room op. Die weer is snerpend koud. Ek loop op die stoep uit met 'n serp en 'n mus vir hitte. Dis lente in die Langkloof, maar die winter se lang vingers klou nog 'n bietjie vas.

Die wegkruip-huisie.
Die wegkruip-huisie.

Op pad hierheen luister ek in die kar na The Tao of Seneca: Practical Letters from a Stoic Master. Die langpad is 'n goeie plek vir filosofie.

Seneca was 'n Stoïsyn. Een van die groot filosofiese figure in die Romeinse keisertydperk. Die boek bevat briewe aan sy vriend Lucilius met raad oor hoe om 'n beter lewe te lei. Terapie, in moderne terme. 

Ek verstaan nou genoeg om te besef dat ek “Stoïsisme" nog altyd misverstaan het. Dit is allermins 'n filosofie van byt-op-jou-tande-tot-die-bloed-loop-en-toon-geen-emosie-nie.

In eenvoudige terme leer Stoïsisme ons om te fokus op die dinge wat ons kan beheer – ons gedagtes, emosies en aksies – terwyl ons die dinge aanvaar wat ons nie kan nie, soos die optrede van ander of die natuurlike verloop van gebeure wat in die wêreld om ons aangaan.

Stoïsisme en Boeddhisme het merkwaardige ooreenkomste. Aanvaar wat gebeur het en verander jou wens dat dit nie gebeur het nie. Stoïsisme noem dit die “kuns van instemming": om te aanvaar eerder as om te veg teen wat gebeur. En die mees geoefende Stoïsyne neem dit 'n stap verder: In plaas daarvan om bloot te aanvaar wat gebeur, stel hulle voor jy geniet wat gebeur het ... mmm, oukei ... ek luister môre verder.

('n Historiese voetnota: Seneca was die leermeester van die jong keiser Nero, maar hy is later ter dood veroordeel omdat hy na bewering beplan het om die keiser te vermoor. En hier is die morbiede deel: Hy is beveel om homself om die lewe te bring. Vir al die diep filosofie wat uit die antieke Rome gekom, was daar darem ook geweldige wreedheid.)

Lente in die Langkloof.
Lente in die Langkloof.

Gistermiddag nooi die eienaar van die plaas waarop my (nuwe) gunsteling wegkruip-huisie gebou is om saam met hom te gaan stap.

Ek het die man nog nooit tevore ontmoet nie (maar ons besef binne minute ons was min of meer op dieselfde tyd op Stellenbosch).

Binne 'n paar treë kom ons agter ons is albei nie gebou vir small talk nie, en ons verdiep ons vinnig in 'n drie uur lange gesprek oor die lewe en geloof. En verlies en liefde. En genade en welwillendheid. Wat kollega Piet Croucamp ’n “verruimende” gesprek sou noem. Ek word genooi om saam met die familie (sy vier kinders en hulle gades en 11 kleinkinders) aandete te eet. Ons sit aan by ’n lang tafel met kroonkandelare en wonderlike kos.

Toe ek gisteraand in die bed klim, was dit met ’n groot dankbaarheid vir die onverwagse geskenk wat alles omtrent gister vir my was.

Kleindorpiemooi.
Kleindorpiemooi.

Dit bring my by die Zen-Boeddhistiese tradisie van kintsugi, waarvolgens gebreekte keramiek weer heel gemaak met goue laswerk, wat dan ’n nuwe lewe daaraan gee. ’n Nuwe skoonheid wat juis die gebrokenheid daarvan vier. Dit is vir my so ’n metafoor vir hoe ons na ons lewens kan kyk. Hoekom dink ons aan seerkry en verlies en teleurstelling as wonde en “bagasie”? Hoekom sien ons dit nie net as wat dit is nie? Ervaring. Groei. Insig. Die laslapwerk van die lewe.

Veerkragtigheid, in die gees van kintsugi, moedig ons aan om nie net van terugslae te herstel nie, maar om dit te omhels en daaruit te leer (kom in, kom in, meneer Seneca). Wanneer dit op ons eie lewens toegepas word, nooi dié filosofie ons om ons letsels te eer en ons pyn, hartseer, foute en mislukkings te omarm. Nie te sien as wonde nie, maar as integrale, goue drade in ons persoonlike narratief. Wat van ons maak wie ons is.

Op ’n onlangse reis na Italië is ek die laaste dag in die lieflike Middeleeuse stad Ortigia. Ek sien ’n Seletti-blomvaas in ’n winkel wat my hart steel. Dit is keramiek-kintsugi van ’n menslike hart. Dit spreek tot my. Want dit is net ná my pa se dood (min wetende dat my ma ook binne maande sou sterf), en die simboliek van ’n gebroke hart waaruit blomme spruit, voel vir my so reg.

Links: Die Seletti-vaas wat my hart gesteel het. Regs: ’n Illustrasie met ’n kintsugi-hart wat Angela Tuck vir my onlangse storie oor my ma se begrafnis gemaak het.
Links: Die Seletti-vaas wat my hart gesteel het. Regs: ’n Illustrasie met ’n kintsugi-hart wat Angela Tuck vir my onlangse storie oor my ma se begrafnis gemaak het.

My uber-praktiese vriendin oortuig my om dit nie te koop nie. Dis te duur. En met my chaotiese lompheid gaan dit waarskynlik anyway op die vliegtuig breek. Maar ek is elke dag spyt ek het nie. Ek het intussen ’n winkel in Barcelona opgespoor wat dit verkoop, en my vriendin Mia gaan dit vir my van daar af saambring wanneer sy volgende maand soontoe gaan.

Daarmee groet ek. Dit reën saggies in die Langkloof vanoggend.

Salige Sondag
Anneliese


The well or the cup 

How can
you tell
at the start
what you
can give away
and what
you must hold
to your heart.
What is
the well
and what is
a cup. Some 
people get 
drunk up.

Kay Ryan 

(Uit: The Best of It: New and Selected Poems)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.