In die Era van (On)aanspreeklikheid skyn die lig op die...

DONDERDAG MET MERCY

In die Era van (On)aanspreeklikheid skyn die lig op die horison ál dowwer

MERCY KANNEMEYER het 'n nuwe naam vir die tye waarin ons leef.

Image: ANGELA TUCK

Die Verligting (Age of Enlightment) was in die 17de- en 18de-eeuse Wes-Europa ’n tydperk gefokus op rede bo bygelowe. Die Romantiese era, beïnvloed deur die Franse revolusie, is gekenmerk deur ’n fokus op skoonheid, die natuur, die sintuie, emosie bó rede. Die Elisabethaanse era – geïnspireer deur Koningin Elizabeth en wyd en syd gebruik as momentum vir ’n menigte literêre werke wat vandag steeds relevant is.

Só kan ons aan en aangaan en deur die eeue werk ten einde vas te stel wat vir die publiek, sowel as die intelligentsia van die tyd, belangrik was.

In watter era sal julle skat leef ons tans? Veral hier in Suid-Afrika? In ag genome ons gebrekkige demokrasie, swak dienslewering op te veel plekke, werkloosheid, patetiese leierskap, toekomsloosheid, ’n afwesigheid van visie, en min tot geen water en elektrisiteit in groot dele van ons land. Ons sit letterlik en figuurlik in die donker. As ’n mens oor al hierdie dinge gaan nadink – en glo my, ek haat dit om so doemprofeties te wees, maar ons land laat my met geen ander opsie nie – dan is dit veilig om te sê ons leef in die Era van (On)aanspreeklikheid.

Image: ANGELA TUCK

Klein voorbeeld. Vroeër die week het ek ’n fout by een van my werke begaan (ja, ek is ’n onvolmaakte mens, oukei!), en een van my ander kollegas het dit opgemerk. Iemand wou toe weet wie se skuld dit was. Die kollega wat dit opgemerk het, het onmiddellik gesê dis nie hulle skuld nie. Hande in die lug gegooi: “It wasn’t me!” Voordat ek kon weet wat aangaan, het my ander kollega gesê: “Dit was Mercy.” Ek stel ondersoek in en besef toe ja, dit was ek. Vra om verskoning. Neem aanspreeklikheid vir my fout. En dis toe verby.

In 2016 kla oudpresident Jacob Zuma in die parlement oor hoedat elke keer wanneer hy in parlement kom, hy mishandel word. Askies, my guy, maar jy was in daardie stadium letterlik die president van die flippen land! Nou moan jy oor hoe jy mishandel word, terwyl ons almal weet jy’t selde jou werk gedoen.

Mense wat aanspreeklikheid wil vryspring, speel te dikwels die slagoffer.

Het president Cyril Ramaphosa al aanspreekliheid gevat vir daai geld wat in sy bank was?! Gaan Zuma ooit tronk toe?

Hier om die draai van my in Tshwane met die voortslepende staking staan dienslewering vir weke al stil. Die munisipale werkersvakbond Samwu sê dis nie hulle lede wat geweld in die metro pleeg nie, en dit terwyl hulle die mense is wat die hele flippen staking begin het. Weereens, geen aanspreeklikheid nie.

In die Era van Aanspreeklikheid is die doel nie om skuld uit te deel en mense kak oor hulleself te laat voel nie. Die doel hier moet bloot wees om verantwoordelikheid vir ons besluite en ons dade te neem.

Ongelukkig leef ons in onaanspreeklikheidstye. En begin die lig wat eens op die horison geskyn het, al hoe dowwer word.


gedig vir Jien

niemand kan teen die nag in
praat nie,
                    al het jy die hóé lief

lampe gaan lateraan dood, soos rose
– ek sien dit – as ek die bewende lig in die nag maak
grrts-grrts met 'n vuurhoutjie
                                          wat nie wil vat nie
die nag is 'n vrou soos ons
vroom van klank en betroubaar

sy sê vir my: wees nie bevrees nie
ek antwoord haar nie

ons verkies dit so,
ons twee

– Petra Müller

(Uit: om die gedagte van geel)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.