Weelde in die skadu van Tafelberg

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Weelde in die skadu van Tafelberg

DEBORAH STEINMAIR sê die Afrikaanse boekepoel is klein maar helder.

Image: ANGELA TUCK

Om op ’n kortlys te wees, is ’n gemengde seën. Dis ’n groot eer, ja. Jou dwase hart maak bokspronge en daardie gevaarlike ding, hoop, meld in jou borskas aan.  

Ek was al op ’n paar kortlyste en het nie altyd die geleenthede bygewoon nie, om nie soos die derde prinses by ’n skoonheidskompetisie deur die trane van teleurstelling te moet glimlag nie. As ’n mens wel ’n wenner is en jy laat weet dat jy nie gaan nie, weet ek reeds, bel die organiseerder jou en vertel jou jy móét daar wees.  

Vanjaar was ek nie ’n onwillige stiefsuster nie. Ons het besluit om te gaan, wen of te not, want ’n nag in die Mount Nelson is nie te versmaai nie. En ’n vlug Kaapstad toe. Ek het my verwagtings bestuur omdat my resensie wat in aanmerking gekom het vir ’n kykNET-Rapport-prys in Vrye Weekblad verskyn het, buite die stal van Rapport en kykNET.  

Ons was glad nie voorbereid op die ouwêreldse weelde van die ou pienk dame in Kaapstad nie. Butlers ontmoet jou by jou voertuig met ’n warm pienk waslappie. Almal is stralend vriendelik. Jou bagasie word geneem en by jou suite afgelewer.  

Ons suite was verbysterend groot en ons het gevoel soos plaasmuise wat niks op aarde gewoond is nie. Darem straatslim genoeg om te weet: Moenie in die minikroeg invaar nie, dit gaan jou duur te staan kom. So ook die neute, tjips en versnaperings. Daar was darem twee komplimentêre botteltjies pienk jenewer met ’n verwelkomingskaartjie, en pienk macaroons. ’n Uitsig op die berg.  

’n Ruim sitkamer, ’n reuseslaapsuite, ’n leeskamer met uitsig, met spoggerige skryfbehoeftes van die hotel. Pantoffels, japonne, kussingsproei, elke luuksheid. ’n Grootskerm-TV wat uit ’n kas aan die voetenent van die bed oprys, om die rugby te kyk voor ons gaan slaap. 

Die geleentheid is in die banketsaal gehou en alles was swierig. Opeens het ek die hele boekewêreld lief, mense teen wie ek al meegeding het, met wie ek al gestry en aanlyn geveggies gevoer het – my trop; mense wat leef vir boeke.  

Daar is aangrypende, beeldskone figure soos Bibi Slippers in ’n warm pienk minirok met pienk hoëhakskoene, woordseker soos altyd. Peter van Noord wat soos 'n Baldwin-broer lyk met lang, reguitgeblaasde hare. Kerneels Breytenbach, flambojant in sultanbroek, veelkleurig. Die sagte glimlag van Anita van Zyl wat agter die skerms woeker, en haar lieflike serp. 

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse (saam met Hettie Scholtz, boekefee, derde van regs) is (van links): Theodore Rossouw (niefiksie-resensent), Deborah Steinmair (fiksie-resensent), Kirby van der Merwe (Jan Rabie-Rapportprys en kykNET-Rapportprys vir fiksie), Eunice Visser (kykNET-Rapportprys vir niefiksie) en Chris Karsten (kykNET-Rapport-Herman Binge-prys vir film).
Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse (saam met Hettie Scholtz, boekefee, derde van regs) is (van links): Theodore Rossouw (niefiksie-resensent), Deborah Steinmair (fiksie-resensent), Kirby van der Merwe (Jan Rabie-Rapportprys en kykNET-Rapportprys vir fiksie), Eunice Visser (kykNET-Rapportprys vir niefiksie) en Chris Karsten (kykNET-Rapport-Herman Binge-prys vir film).
Image: NAOMI MEYER

Daar was net een mens wat ek nie wou sien nie, en hy duik oral by boekgeleenthede op. ’n Eksbaas wat my altyd laat dink aan T.S. Eliot se woorde:  

How unpleasant to meet Mr. Eliot!  
With his features of clerical cut,  
And his brow so grim  
And his mouth so prim.  

Ons het lekker met Thys Human gesels, ’n dromerige man wat die mooiste commendatio oor Kirby van der Merwe se Eugene gelewer het: ’n kunswerk op sigself. Met my oudredakteur, Alida Potgieter, skrander, stralend, tydloos. Tussendeur flonker die goeie fee van boeke, Hettie Scholtz, in 'n eksotiese jassie, vol belofte en goedgunstigheid. Eloise Wessels met sagte, skouerlengte silwer hare en haar hoogs belese Andries. 

Ek het opeens daardie stal vir wie ek eens gewerk het en met wie ek al koppe gestamp het, liefgekry: die groot mediahuis met vele wonings. Hoe ruimhartig dat hulle ’n resensent van Vrye Weekblad laat wen het! Dat hulle my betaal het om in weelde te gaan rondwals. Ek is diep dankbaar.  

Ek het my toekenning opgedra aan Schalk Schoombie, wat self al bekroon is. Ek het Vrye Weekblad bedank vir die lekkerste werk van my lewe. Dit was ’n magiese aand.

Die boekepoel in Afrikaans is maar klein en op ’n aand soos Saterdagaand sien jy dis glad nie modderig nie, maar helder, soos ’n kuil vol maneskyn.  


tyd

mag dit laatmiddag wees
mag jy by die venster sit
wanneer skadu's sag beslag lê op die werf
wanneer hadidas roep oor huis toe gaan
wanneer jy die bries verwelkom
ná die hitte van die dag

wanneer die son ver kyk berge toe
en vir oulaas oor sy gunstelinge streel
die rooi dak oorkant die straat
die hoogste takke van die vlier
jou sake gedaan
jou dun wit haartjies blinkgewas

– Corné Coetzee

(Uit: nou hier)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.