Die belangrike rol van waagmoedige weerstand

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Die belangrike rol van waagmoedige weerstand

In die Tweede Wêreldoorlog was daar vervalsers wat hulle lewe gewaag het om Nederlanders te red deur Nazi’s om die bos te lei, vertel ANESCA SMITH.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

In die week kyk ons ’n fliek toe my man uit die bloute sê sy oupa was ’n vervalser in die Tweede Wêreldoorlog. Nie ’n vervalser van kuns nie, maar van dokumente om die Nazi’s om die bos te lei.

In die jare voor die oorlog kon jy as Nederlander self kies of jy ’n paspoort of ’n identiteitskaart wou dra. Nadat die Duitsers Nederland in 1940 binnegeval het, het dinge egter drasties verander. Vanaf 1941 was alle Nederlanders ouer as 15 verplig om te alle tye ’n identiteitskaart te dra, of jy nou Joods was of nie. Ál verskil was dat daar op dié van die Jode ’n groot J in swart letters aan albei kante van die kaart gedruk was. ’n Bietjie soos die dompas in Suid-Afrika.

Image: ANGELA TUCK

Die kaarte was die werk van ’n Nederlandse regeringsamptenaar, Jacob Lentz, wat hulle so goed ontwerp het – mét vingerafdrukke en paspoortfoto’s – dat dit een van die moeilikste dokumente was om na te maak in die besette dele van Europa. Boonop het Lentz ’n sentrale register bygehou van alle identiteitskaarte; dus was dit maklik om te sien of ’n kaart eg is of nie.

Tóg was daar iemand wat Lentz se werk perfek kon nadoen. ’n Grafiese kunstenaar van Duitsland, Alice Cohn, wat in 1936 na Nederland gevlug het, het Lentz ore aangesit en sodoende honderde Joodse lewens gered as deel van die weerstandsbeweging.

Daar was ook ander vervalsers, en my man se oupa was een van hulle, alhoewel die werk wat hy gedoen het van ’n ander aard was as dié van Cohn.

Ingevolge die Duitse Arbeitseinsatz – wat gedwonge arbeid van Nederlandse burgers in Duitse fabrieke behels het – is meer as 530 000 Nederlandse mans tussen 18 en 45 weggestuur om in Duitse fabrieke te werk. Dié fabrieke het gereeld onder bomme van die Geallieerdes deurgeloop. My man se oupa het dié arbeidsdokumente in die diepste geheimhouding vervals om te verhinder dat Nederlanders ver weg van hulle families gestuur word.

Image: ANGELA TUCK

Talle mense wat by soortgelyke vervalsings betrokke was, is doodgeskiet. My man se oupa is wel betrap, maar kon gelukkig die dood vryspring. Hy moes wel ’n tyd lank in die gevangenis sit. Hy het homself nie as ’n held gesien nie, maar wou eenvoudig die Nazi’s dwarsboom.

Verhale soos dié van Cohn en my man se oupa wys hoe verskillende mense – selfs dié wat nie regstreeks by die vegtery betrokke was nie – ’n bydrae probeer lewer het om nie net die oorlog te oorleef nie, maar ook om te verhinder dat die oorlog hulle familie, vriende en woonplekke heeltemal verteer. Mense wat nie deur bedreigende omstandighede, boelies en moordenaars afgeskrik is nie. Dit moes moed gekos het.

Mooi week
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.