Allan Boesak: die koning van comebacks

DONDERDAG MET MERCY

Allan Boesak: die koning van comebacks

MERCY KANNEMEYER skryf oor die eenmanvertoning Boesak, wat by die Woordfees op Stellenbosch te sien is.

Image: ANGELA TUCK

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dr. Allan Boesak die koning van comebacks is. Maar kom ek verduidelik hoekom ek so sê.

Ek en ’n vriend praat onlangs oor die omstredenheid rondom Boesak. En my vriend merk op dat Boesak met sy nalatenskap, die presidensiële kwytskelding wat hy ontvang het nadat hy weens geldverduistering in die tronk was, die werk waarop hy voortgebou het nadat hy vrygelaat is, alle omstredenheid wat met hom geassosieer word, doodleef.

Ek moes ’n paar dae aan dié gedagte kou. Hoeveel van ons land se leiers het ook nie hulle eie geraamtes in die kas nie, maar bitter min van hulle kry dit reg om ’n befokte comeback te maak. Boesak is die koning van comebacks.

My en Marlo Minnaar se eenmanvertoning, Boesak, open vandag by die Woordfees op Stellenbosch. Dit fokus op sleuteloomblikke in Boesak se lewe, of altans dit wat ons as sleuteloomblikke beskou.

Natuurlik, want dit is immers teater, raak ons aan die ongemaklikhede en omstredenhede in Boesak se lewe ook, maar ons wou nie ’n sensasionele stuk op die verhoog gaan sit nie. Lees gerus ’n poniekoerant as jy op soek is na sensasie.

Hoe vat ’n mens iemand soos Boesak se lewe saam? Dit is geen geheim dat hy ’n ryk en vol lewe gelei het en steeds lei nie. Om dit in ’n toneelstuk van 60 minute te doen moet ’n mens jou kreatiwiteit vrye teuels gee en maar net hoop en vertrou dat jou vrye teuels nie te veel van ’n kreatiewe risiko word nie.

Allan Boesak is op 23 Februarie 1946 in Kakamas in die Noord-Kaap gebore. As die naasjongste van agt kinders het hy swaar groot geword. Nadat sy pa vroeg dood is, het die gesin van Kakamas na Somerset-Wes getrek, en later na Eersterivier in Kaapstad.

Boesak was 22 toe hy as dominee van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in die Paarl beëdig is. ’n Verfrissende punt wat ek uit my navorsing geleer het, is dat Boesak gevoel het sy teologiese opleiding in Suid-Afrika was nie voldoende nie. Hy het later sy PhD aan die Kampen Teologiese Instituut in Nederland behaal.

Weens die destydse politieke uitdagings in die land het Boesak hom genoodsaak gevoel om tot die politiek toe te tree. Hy was deel van ’n klein groepie swart teoloë wat die kerk aan ’n politieke front begin uitdaag het.

In 1983 was hy een van die stigterslede van die United Democratic Front (UDF), waarvan hy tot 1991 ’n lid was.

Van 1982 tot 1991 was hy die voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke. Hy het wyd gepubliseer en daar is ook wyd oor hom geskryf.

Toe kom die aanklagte van bedrog teen hom in 1999 en hy gaan tronk toe. Maar, en dis ’n groot maar – beeldmateriaal van die struggle-jare in Suid-Afrika sal hiervan getuig – sy ondersteuners het bankvas agter hom bly staan. Hy was byna die bruin man se Messias. Uiteindelik is hy kwytgeskeld en in 2004 weer tot die bediening toegelaat.

Deur die loop van die repetisieproses het ek en Marlo gereeld gesels oor watter soort leier Boesak is. Vreesloos. Onbeskaamd. Gretig om sy kennis en opinies te deel. Oop. Toeganklik. Dit het ons laat wonder: Waar gaan ons weer so ’n leier kry? Iemand wat nie die politiek betree het vir faam of finansies nie, maar omdat hy glo dat God hom gestuur het.

Boesak se toetrede tot die politiek was volgens my groter as hy self. En ek dink nie jy hoef in God te glo om te kan erken dat dit geweldig onselfsugtig is om ’n opdrag van hoër magte te gehoorsaam en sodoende jou lewe in diens van ander te lei nie.

Een van die belangrikste lesse wat ek uit hierdie proses geleer het, is dat dit NB NB NB NB NB is om die geskiedenis te ken. En nie net te ken nie, maar te verstáán. Ons geskiedenis het tog, en dit klink nou voor die hand liggend, maar ons geskiedenis het gemaak dat ons nou in hierdie situasie (slapgat politici, moedelose mense, afwesigheid van hoop) sit.

Ek verstaan nie rêrig mense wat geen agting vir die geskiedenis het nie. Geskiedenis fassineer my, want ek hou daarvan om te weet waar ’n ding begin het; hoe dinge gekom het soos dit is. As jy die hede wil verstaan, moet jy in die geskiedenis gaan soek.

Ek moet nou verder gaan repeteer. Kom kyk asseblief die produksie. Donderdag 12 Oktober om 14:00. Vrydag 13 Oktober om 13:30, en Sondag 15 Oktober om 17:00. Ons speel by kykNET HS Stellenbosch.


Let No Charitable Hope

Now let no charitable hope
Confuse my mind with images
Of eagle and of antelope:
I am by nature none of these.

I was, being human, born alone;
I am, being woman, hard beset;
I live by squeezing from a stone
The little nourishment I get.

In masks outrageous and austere
The years go by in single file;
But none has merited my fear,
And none has quite escaped my smile.

– Elinor Wylie

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.