Van draakbloedboom tot peuselverske

WOENSDAG MET WILLEM

Van draakbloedboom tot peuselverske

WILLEM KEMPEN fantaseer oor 'n besoek aan die Galápagos van Afrika.

Ek wil iewers op 'n eiland gaan bly. 'n Afgeleë fantasiewêreld, soos Walter Battiss se Fook Island, waar die vrugte wild groei aan bome met name soos peuselverske en mamaja en kiesang. Waar mense van wolkbrode leef wat saans op oop vure gebak word. 'n Plek waar die reënwater nooit meer of minder is as wat die landerye nodig het nie.

'n Plek sonder kerke of barakke of grensposte of presidensiële paleise. En ook sommer sonder goud of diamante of steenkool of enigiets anders wat van diep onder die grond uitgegrawe hoef te word. Ditto kragsentrales, hoewel ek die internet nogal sal mis.

Natuurlik is daar nie so 'n plek nie, in elk geval nie op enige van die huidige lys van bewoonbare planete in die omte nie, maar wat is die naaste wat mens daaraan kan kom?

So af en toe gaan soek ek op Google Earth na plekke wat dalk 'n paar van die boksies tiek, of sommer net omdat mens so min hoor van wat daar aangaan, of wat besonder moeilik is om by uit te kom.

Soos Mongolië, byvoorbeeld. Is daar 'n ander land wat so selde die internasionale nuus haal? Toegegee, dit lyk van ver af nie of daar baie redes is om Mongolië te besoek nie. Hulle het wel so 'n klompie jare gelede 'n baie imposante standbeeld van Genghis Khan op sy perd daar iewers opgerig, wat half sin maak as jy daaraan dink dat 'n stewige proporsie van die wêreld se mans hulle Y-chromosoom na dié besige knaap kan terugspoor.

Ander moontlikhede op my lys is Bora Bora (idillies, maar te veel toeriste en nog steeds te naby aan Australië), en Andorra, 'n piepklein Europese landjie ('n prinsipaliteit, as jy wil) tussen Frankryk en Spanje wat omtrent net per helikopter uit die buitewêreld bereik kan word. 

Maar Bora Bora en Andorra is eintlik maar speeloorde vir die rykes; iets wat mens nie kan sê van die nuutste plek op my fantasielys nie: Sokotra, 'n eilandgroep oos van die Horing van Afrika wat soos alles in daai geweste die bron van hewige twiste is. Minstens Jemen, Somalië, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië het een of ander aanspraak op Sokotra, sover ek kan agterkom.

Draakbloedbome.
Draakbloedbome.
Image: FOTO REGS: @TJEERD001

Daar bly maar iets soos 60 000 mense, en Sokotra is al beskryf as “the most alien-looking place on Earth”. Die landskappe lyk inderdaad soos iets uit 'n ander wêreld, met spierwit sandduine en 'n hele rits plante wat danksy die geografiese isolasie nêrens anders ter wêreld voorkom nie. Soos die draakbloedboom, wat sy naam kry van die besonderse kleur van sy sap, en wat lyk of daar iewers 'n pterodaktiel tussen sy takke kan skuil.

Vir 'n rukkie was Sokotra – “die ander Galápagos" – op pad om die volgende droombestemming vir nuuskierige toeriste te word, maar die politieke onstuimigheid het vir eers 'n einde aan sulke planne gemaak. Dalk is dit beter so, want daardie ongeskondenheid sal waarskynlik nie busvragte vol besoekers oorleef nie.

Helaas beteken dit ook ek sal nooit self kan gaan kyk of daar peuselverskes en mamajas en kiesangs tussen die draakbloedbome groei nie.


Decolonialish Self-Portrait

I remember myself;
—a chair, turning—
a desperate blue tunnel
crossing the mirror
in the lavender hour.
I remember myself;
a corner of sunlight
on the bed sheet rotating
a violence, words that die
before meaning:
relentless shredded threads.
I remember myself;
sky chained to torture,
futurity chokes:
an ancient throat melts
in my posing.
I remember myself;
a swipe in the dust
on my dresser, a drawer full
of rotten Christian teeth.

– Sara Borjas

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.