Hoe slaap mens, asseblief?
In die donkerste hoek van die nag bly slaap my ontglip soos ’n skadu oor die werf. Ons speel wegkruipertjie en ek weet ek moenie loer nie; hou jou ongeërg, sien haar gestalte net uit die hoek van jou oog, terloops. As jy maak of jy nie omgee nie, gaan sy jou uit die bloute oorrompel. Hopelik.
Maar daar is te veel woorde, ná ’n dag van lees. Beelde dring hulle op. Herinneringe is prente.
In die ou huis in Brixton waar ek en Jeanne Goosen gewoon het, was die badkamer ver, anderkant die kombuis. Sy het in die nag ’n piepot gebruik. Ek het een keer daaroor geskryf: At night she squats over a chamber pot / A stone idol in the full moon / that pales in the light of her ample backside.
Die herinnering bring ’n stortvloed woorde:
hurk jurk kurk skurk
koos boos broos doos
pie knie vlie sie tjierie
papier nier vlier wier
skirt flirt nerd dirt turd
Ek roer die loom leemgrond van vaak. My hand hang oor die afgrond. My wyswinger skryf patrone in ’n Koi-dam êrens in ’n tuin in Japan, waar haikoes sidder soos vlinders. My kop swetterjoel; ’n boom vol vinke. Ek dink aan stilte.
Buitelyne begin vervaag, woorde los op – alfabetsop. Beelde doem op, my bewussyn gee skiet. Aan die buitewyke van slaap gewaar ek die wese van my geliefde: ’n hoë huis op ’n heuwel. Vele wonings en wolke wat stapel.
Dan: ’n Sarsie geweerskote knal deur die nag. Niks klink soos skote nie. Beelde vervaag, woorde tree weer aan. Gedagtes groei soos selle in ’n byekorf. Hoe verdwyn ek onder die oppervlak? Slaap verdwyn skalks agter ’n struik. Ek begin weer tel.
’n Herinnering meld aan. Ek is bitter jonk, in Potchefstroom. Platsak. In die mik van ’n groot vyeboom in die Totius-museum se tuin smul ek aan die vrugte. Opeens hoor ek hoëhakskoene oor plaveisel: tip-tip-tip. Iemand praat onder my: “Totius het hierdie boom nog sélf geplant.” (Tóó-tie-jus.) Hoe gaaf, dink ek, ’n toergids boonop. Ek eet verder. Weer die stem: “Ons wil nie hê mense moet in die boom klim nie, want dis so oud.” O, oukei. Ek spring af, staan, pluk en eet verder. Agter my die stem, nou met ’n soom van desperaatheid: “Dis verbóde vir die publiek om die vye te eet.” O, oukei, sê dan so. So clueless was ek, so verlore in die wêreld, eens.
***
Trienke Laurie is verlede week oorlede. Ongelukkig is die eerste ding wat mense oor haar sê dat sy D.J. Opperman se dogter was. Ek het haar een keer ontmoet, saam met Reinet Kemp, N.P. van Wyk Louw se dogter. Ons verloor ons pa’s se vanne. Mooi vroue vol lig. Laurie het gedig:
Ek het die duisendpoot opgetel
en kyk, dit was lank uitgestrek
- ’n naelstring om ’n stok of fallus.
Toe rol hy op in ’n naeltjie, word vrou en vagina.
Slaap sag, Trienke Laurie; jy het ’n feetjienaam, jou naam is ’n klingel, ’n ringtone, en jou woorde is speels. Jy was ’n sonskyf.
***
Die Nobelprys vir Letterkunde is aan die veelsydige Noorweegse skrywer Jon Olav Fosse toegeken vir sy innoverende dramas en romans wat die onsegbare verwoord. Hy skryf ook gedigte, essays en kinderstories en is in meer as 50 tale vertaal. Ek sal gaan soek na hom.
Seekat op Minoaanse amphora
(Die kus van Zakros)
Haar oë is twee swart eilande
wat diepkyk in jou hart
Haar arms amper swagtelende sluiers.
Suiers stippel die ranke pote
– vrolike staccato’s voortgesit in borrels.
Sy is ’n sierlike Minoaanse prinses
met perdebymiddeltjie en golwende lyf.
Twee arms omlyn haar grootoogkop
terwyl die ander pote ’n ritmiese dans uitklop
Hierdie ongewone ongrillige seekat op die amfora,
prikkel die sintuie – sy wikkel jou tone; die seekatjie dans
sy dans ’n Salome sekskat-riel, sowaar!
– Trienke Laurie
(Van: www.versindaba.com)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.