Israel en Palestina: haat in die hartland

MAANDAG MET MAX

Israel en Palestina: haat in die hartland

MAX DU PREEZ wens ons kon by die internasionale magspolitiek verby kyk en die Israeli's en Palestyne as mense raaksien.

Ek sit sedert Saterdagoggend vasgenael voor my televisiestel en hop van CNN na BBC World na Sky na Aljazeera om die hartverskeurende verskrikking wat in Israel en Gaza aangaan, te probeer verstaan. En dan gaan soek ek boonop ekstra inligting op YouTube en Telegram.

Na twee dae se kyk en lees en luister het ek een oorweldigende gewaarwording: Die haat wat die meeste Palestyne en Israeli’s vir mekaar voel en die minagting vir menselewens aan albei kante, voel vir my byna primordiaal, primitief.

Terroriste aan albei kante.

Ek is geen ekspert wat die Midde-Ooste betref nie, maar ek was al in Ramallah en Hebron, en in Jerusalem en Tel Aviv, ek volg gebeure daar ten nouste en ek het kennisse aan Palestynse en Israelse kant wat ek oor die jare by internasionale konferensies oor vrede en versoening ontmoet het.

Ek het so 15 jaar gelede by een so ’n konferensie oor Suid-Afrika as gevallestudie van versoening gepraat. My kernpunt was dat ’n deel van die verduideliking hoekom ons hier aan die suidpunt kon slaag, was omdat ons dit sélf gedoen het; dat ons nie nie die vredesproses geïnternasionaliseer het nie; dat ons nie toegelaat het dat moondhede wat mekaar vyandiggesind is, vir ons voorsê wat om te doen en in die proses hulle eie belange dien nie.

Die grootste deel van my gehoor en al my mede-paneellede het my verveeld aangekyk – die Israeli’s, die Palestyne, die Amerikaners, die Europeërs en die Asiërs. Wat ’n simpel idee van ’n dom outjie uit Afrika.

Gister kyk ek weer na al die verklarings en uitsprake oor die nuwe konflik van oraloor: Amerikaanse en Europese leiers noem die invallers in Israel terroriste en blameer Iran; uit Iran en die Arabiese wêreld word die invallers as trotse vryheidsvegters geloof. En almal wonder wat Amerika nou daaraan gaan doen.

Dit pas Israel natuurlik. Sonder Amerika se geldelike en militêre hulp sou sake vandag gans anders gelyk het. Onwrikbare steun vir Israel is al dekades lank ’n verkiesingskwessie in Amerika, deels te danke aan die invloedryke Joodse lobby, deels weens kwalik verskuilde Islamofobie.

Die Palestyne het nie so ’n borg of weldoener nie. Israel se weermag en polisie is ’n formidabele, moderne, internasionaal gerekende gevegsmag (hulle beskik selfs oor kernwapens); die Palestyne het geen lugmag of leër nie, net gevegsgroepe soos Hamas met eenvoudige wapens.

Wanneer ons hier in Suid-Afrika na die konflik tussen Israel en die Palestyne kyk, sien baie van ons dit deur ’n Westerse, ’n Amerikaanse bril:

Die Israeli’s is ’n wonderbaarlike nasie wat ’n moderne modelstaat in die woestyn opgebou het. Dit is die heenkome, die beloning vir Jode ná die Holocaust.

Die Palestyne is militante Moslems met kopdoeke en gewere wat aanmekaar “Allahu Akbar” skreeu. Hamas (en Islamitiese Djihad en Hezbollah) is moorddadige terroriste wat Iran en ander Islamitiese fundamentaliste se vuilwerk vir hulle doen.

Vir baie swart Suid-Afrikaners is blinde lojaliteit jeens die Palestyne ononderhandelbaar, want hulle is Amerika en die Weste se vyande.

Ek wens ons kon almal verby die internasionale magspolitiek en vooroordele kyk en die mense van die streek begin raaksien.

Die Hamas-vegters se doodskiet en ontvoering van Israelse burgerlikes Saterdag is beslis moreel totaal veragtelik.

Maar Benjamin Netanyahu se bloedstollende dreigemente dat sy weermag Gaza tot ’n “deserted island”, tot “rubble” gaan reduseer, is ewe onaanvaarbaar. Dit ruik na volksmoord. Hy het die mense van Gaza, die digs bevolkte plek op aarde, gewaarsku om pad te gee of te sterf – maar waarheen? Hulle is al dekades lank die toegekampte gevangenes van Israel.

(Lees hier vir meer agtergrond oor Gaza: Gaza Strip: A beginner’s guide to an enclave under blockade)

Image: ANGELA TUCK

Een ontleder op Aljazeera het gister iets gesê wat by my ingesink het. Vuurpylaanvalle en straatskietery kan deur televisiekameras vasgevang en die wêreld oor gebeeldsend word, maar die “slow violence” wat al dekades lank teen die Palestyne in Gaza en die besette Wesoewer gepleeg word, kan nie visueel so vasgevang word nie. 

Dié “slow violence” manifesteer deurdat die Palestyne al dekades lank as onwelkome indringers in hulle eie land behandel word.

Dat hulle op ’n daaglikse basis verneder en aggressief deur soldate behandel word – meer as 200 Palestyne is al vanjaar só in Gaza doodgeskiet.

Dat duisende Palestyne in haglike omstandighede in tronke in Israel aangehou word.

Dat setlaars van onwettige nedersettings op Palestynse grond beskerm en toegelaat word om Palestyne aan te val en hulle huise af te brand, soos onlangs weer gebeur het.

Die moord op die Aljazeera-joernalis Shireen Abu Akleh deur Israelse soldate op 11 Mei verlede jaar, wat Israel weier om te laat ondersoek, is deel van die “slow violence”.

Die herhaaldelike ontheiliging van die Al Aqsa-moskee in Jerusalem deur Israelse soldate is deel van dieselfde verskynsel.

(Tamir Pardo, gewese hoof van die befaamde intelligensie-agentskap Mossad, het hom onlangs by diegene gevoeg wat sê Israel se behandeling van die Palestyne is vergelykbaar met apartheid. Lees hier meer: Israel imposing apartheid on Palestinians, says former Mossad chief | Palestinian territories | The Guardian)

Netanyahu is sleg vir Israel. Sy korrupsie-hofsaak sloer nou al lank. Hy is in ’n koalisie met ekstreem regse politici wat wil hê net Jode moet regte in Israel hê en hulle ten gunste van die “uitwissing” van die Palestyne uitspreek. Netanyahu steun die oprigting van nóg onwettige nedersettings op Palestynse grond. Meer onlangs het hy probeer om die status van die regbank en die oppergesag van die reg te ondermyn.

Dit is in dié atmosfeer wat iets moontlik is soos die spektakel op televisie verlede week toe Ortodokse Jode gespoeg het op Christen-pelgrims wat ’n kruis op die Via Dolorosa in ou Jerusalem gedra het.

Ek ys om te dink hoeveel mense in die komende dae in Gaza gaan sterf, en dalk elders, want die konflik kan dalk net na die Wesoewer en die noordgrens met Libanon uitbrei.

Israel is korrek as hulle aan die Palestyne verklaar: Ons kan meer van julle doodmaak as julle van ons.

Die apartheidbase het ná Sharpeville in 1960 die ANC, PAC en SAKP verban, vele leiers in die tronk gesmyt en verklaar die revolusie is verby. En toe kom 1976, en die turbulente 1980’s. En toe 1994.

Die geskiedenis van die laaste halfeeu leer ons dat Israel duisende Palestyne kan doodmaak en hulle huise en geboue die een ná die ander kan platvee, maar die Palestynse weerstand teen onderdrukking en ontheemding gaan nooit gebreek word nie.

Die mense van albei nasies verdien vrede en sekuriteit.


Daagliks bestap ek die grysblou strate
verweerd
verwaarloos
Wat is daar om voor bang te wees?
Ek sien 'n mooi vrou
Bettie Lou, I lost my heart
Ek begin sing:
the nearer your destination
the more you slip sliding away

– Jeanne Goosen

(Uit: Het jy geweet ek kan toor?)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.