18 koeke later

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

18 koeke later

ANNELIESE BURGESS se dogter word 18, en sy sê alles omtrent die nuwe hoofstuk voel reg.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Om hierdie brief te skryf is elke week vir my 'n vreugde. Dit is vir my die lekkerste werkding van die week. Teen Vrydag het ek gewoonlik 'n idee wat in my kop prut. En 'n stapeltjie aanbevelings wat ek bymekaar gemaak het. En dan bestee ek die grootste deel van my Saterdag aan skryf en skaaf, en ná 'n vroeg-vroeg-Sondagoggend-tjek beland dit in julle inmandjies.

Ek het dié week gesukkel met 'n idee wat ek kon laat vorm aanneem.

Ek kyk na die kriptiese Afrikaans-en-Engels-deurmekaar-lysie van onderwerpe en verwysingsartikels in my notaboek: “Lughawens. Sad Sondagetes. Vergifnis as 'n daad van weerstand. What exactly is theory of mind? Sexual wisdom (The Guardian). Wind, weer en depressie. Bonne Maman-konfyt en die Nazi-resistance. The wisdom of trees. Wanneer liefde sterf."

Mmmm. Daar sal van sommige van daai nog iets kom, maar nie vandag nie.

Vandag is daar eintlik net een gedagte in my kop. 

Ek het Vrydagaand die rooikopdogtertjie wat op die foto van haar eerste verjaarsdag die enkele kers op 'n platterige tuisgebakte sjokoladekoek uitblaas, by haar 18de verjaardagpartytjie gaan aflaai. Daar is dansmusiek en feetjieliggies en bakke tjips en bokse pizza. Van klein is daar nie meer sprake nie. Sy is nou 'n kop langer as ek (en selfs 'n hele paar sentimeter langer as haar pa).

Ek het laat in my lewe 'n ma geword. Ses maande voor my 37ste verjaarsdag. En met dié dat daar toe nie nog een gekom het nie, het ek elke jaar my hart vasgehou wanneer my dogtertjie verjaar het. Elke jaar was sy 'n bietjie groter. En 'n bietjie selfstandiger.

Ek kyk vanoggend na die foto's. 'n String herinneringe – van grootword (sy) en ouer word (ek). En die 15 koeke wat ek oor die jare gebak het (daar was drie gekooptes). 

Haar vierde verjaarsdag met die Barbie-koek in 'n Johannesburgse parkie. Met haar nuwe fiets op haar vyfde. Haar sewende met die plaasdiertjies op Riebeek-Wes. Ons besoek aan die Oos-Londense dieretuin op haar agtste (erg depressing). Haar negende op 'n mat op 'n sementvloer van 'n kombuis in wording. Haar 10de met 'n gekoopte melktert van die kafee in Bettysbaai – ek het wel daarvoor opgemaak, dink ek, met die tuisgemaakte drielaag-konfettikoek vir haar 11de wat ek al die pad Wavecrest toe saamgepiekel het. En dan, natuurlik, die skouspelagtige Harry Potter-koek vir haar 12de ...

En só raak sy groter. En ek, verbasend genoeg, elke jaar minder angstig oor die jare wat aanstap. Gisteraand toe ek terugkyk deur die venster en sien hoe sy uitgelate dans in haar swart rok en Converse-tekkies, het ek nie eens 'n bietjie hartseer gevoel nie. 

Dit voel reg. Asof alles inmekaar pas. Haar ouderdom en myne. En die belofte van nuwe avonture. Hare en myne. En nog baie saam ook.


Om in die oomblik te leef

Ek lees gister iets wat Maria Popova in The Marginalian skryf oor die insigte wat sy in die verloop van 16 jaar se skryf en nadink oor die lewe gekry het. Hier is drie wat vanoggend sterk tot my spreek.

Teenwoordigheid is 'n baie meer ingewikkelde en lonende kuns as produktiwiteit. Ons lewe in 'n kultuur wat ons waarde as mense meet aan hoe doeltreffend ons werk, hoeveel ons verdien, aan ons vermoë om die of daai te verrig. Die kultus van produktiwiteit het sy plek, sê sy, maar die daaglikse aanbidding by dié altaar beroof ons van ons vermoë om die vreugde en verwondering te ervaar wat die lewe die moeite werd maak en betekenis gee.

Veg teen sinisme. Sinisme doen hom dikwels voor as 'n edele vermoë of ingesteldheid, maar as kritiese denke, die nodige kontrapunt tot hoop, is sinisme onkreatief, afbrekend en geestelik aftakelend. Soos alle vorme van afbreking is sinisme oneindig makliker as die teenoorgestelde. Daar is niks moeilikers, en tog meer bevredigends, as om met opregtheid te leef vanuit 'n ingesteldheid van opbouendheid, groothartigheid en 'n rasionele geloof in die menslike gees nie. Om gedurig te probeer buig in die rigting van verbetering en groei. Dít is die teenoorgestelde van sinisme, en in die wêreld van vandag is dit 'n daad van moed en weerstand.

Kies vreugde. Kies dit soos 'n kind die skoen kies vir die regtervoet of die kleur kryt om die lug te teken. Kies vreugde eers bewustelik en druk dit dan teen die gewig van 'n wêreld wat swaar is van redes vir hartseer. Voel die hartseer, maar hou aan terugdruk totdat jy vreugde kies sonder om te dink, soos swaartekrag 'n stroom op sy koers hou. Vreugde is nie 'n funksie van 'n lewe wat vry is van wrywing en frustrasie nie, maar 'n funksie van fokus. Sy verwys na wat Hermann Hesse aan die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog “die klein vreugdes" genoem het – die skraal drade waarvan ons ons reddingsboeie weef.

Vandag is daardie klein vreugdes vir my 'n sjokoladekoek wat ek gister self gebak het. En die presente wat my dogter nou-nou hier gaan oopmaak, nadat ons eers saam in my bed tee gedrink het. Haar rugbyspeler-boyfriend sal aan die voetenent van die bed onder 'n kombers sit. Dan luister ek saam met die kinders musiek en ons gesels geselsies. 

Daarna gaan ek vir hulle hulle gunsteling-ontbyt maak – geroosterde ciabatta met skywe avokado, brosgebraaide eiers en rissievlokkies. En vanmiddag gaan ons saam met die maats op die strand koek eet.

My hart is vandag vol klein vreugdes (wat ek toenemend besef eintlik die groot dinge in die lewe is).

Dit is my meisiekind se laaste verjaardag in die huis. Die groot avontuur van die lewe wink. Maar sy sal altyd my dogtertjie bly. Nes ek my ma s'n was. Tot heel aan die einde.

Daarmee groet ek. Salige Sondag.

Anneliese


OPTIMISM

More and more I have come to admire resilience.
Not the simple resistance of a pillow, whose foam
returns over and over to the same shape, but the sinuous
tenacity of a tree: finding the light newly blocked on one side,
it turns in another. A blind intelligence, true.
But out of such persistence arose turtles, rivers,
mitochondria, figs – all this resinous, unretractable earth.

– Jane Hirshfield

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.