Hallo, ek is Anesca. Ek is nie ’n reeksmoordenaar nie

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Hallo, ek is Anesca. Ek is nie ’n reeksmoordenaar nie

Dit raak algaande meer aanvaarbaar vir mense om te erken dat hulle nie kinders wil hê nie, skryf ANESCA SMITH, maar noem nou net dat jy nie ’n dieremens is nie en die gort is gaar.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

“Leef die katte nog?”

Dit is my standaardvraag aan ’n goeie vriendin by wie ek elke jaar ’n paar dae gaan kuier wanneer ek in Suid-Afrika is.

Ek besef dit is wat hulle ’n (deeply) unpopular opinion noem, maar ek is nie ’n dieremens nie. Veral nie ’n kattemens nie. En my vriendin het twee: Thelma en Louise.

Natuurlik het ek nie ’n doodswens vir die katte nie, maar kom ek stel dit só: As ek eers daar is, duur dit ’n paar dae voor ons nie meer wye draaie om mekaar loop nie. Teen die tyd dat ek weggaan, het ek myself al sover gekry om hulle selfs op ’n robotagtige manier te streel.

As ek eenmaal by my vriendin is, is slapenstyd my grootste vrees, want ek weet iewers in die nag gaan Thelma op die bed spring en my die skrik op die lyf jaag.

Nie almal oe en aa oor babas nie en dit raak algaande meer aanvaarbaar vir mense om te erken dat hulle nie kinders wil hê nie, maar noem nou net dat jy nie ’n dieremens is nie en die gort is gaar. Jy word aangekyk of jy ’n reeksmoordenaar is.

Waarom is mense so in hulle wese aangetas as iemand nie ’n uitgesproke diereliefhebber is nie? Dan hoor jy ongevraagde kommentaar soos “ek vertrou nie mense wat nie van honde hou nie”.

Image: ANGELA TUCK

As ek byvoorbeeld in die park loop, is daar altyd mense wie se honde los loop en dink dis skattig as hulle jou ongevraag loop en besnuffel of teen jou opspring. My hele liggaam verstyf in daardie oomblik.

Ek haat nie diere nie, maar ek is doodbang vir die meeste van hulle: koeie, honde, katte, voëls. O, my goeiste: voëls!

Ek moet erken toe ek verlede jaar in die woestyn was en vir die eerste keer op ’n kameel geklim het, was daar geen sprake van vrees nie. Behalwe die enkele kere toe die dier duinaf gewaggel het agter ’n graspol aan. Met al die ander kamele in ’n tou.

Ek weet nie waar die vrees vir diere vandaan kom nie. As kind het ek die skattigste swart hondjie, Pepi, gehad oor wie ek selfs vandag nog ’n traan stort. En as plattelandse kind groei jy op met diere as maats.

Die enigste traumatiese ervaringe met diere wat ek onthou, was ’n hoenderhaan wat my as kleuter altyd om die huis gejaag het en natuurlik, gedurende apartheid, is honde dikwels teen swart Suid-Afrikaners gebruik. Veral polisiehonde. Daarom sal jy tot vandag nog hoor: “Tot die honde is rassisties.”

As mense my dus vra of ek ’n kat- of hondliefhebber is, antwoord ek eerlik: “Wel, eintlik is ek nie veel van ’n dieremens nie ...”

Haat my maar as jy moet.

Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.