Boedapest is magies, maar Duitse treindienste na Hongarye tragies

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Boedapest is magies, maar Duitse treindienste na Hongarye tragies

Duitse doeltreffendheid? Watwou! ANESCA SMITH skryf hoe die onbetroubaarheid en ongeorganiseerdheid van die Duitse treinstelsel haar gefrustreer het op ’n reis van Nederland na Hongarye.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre!

“I never like to leave Canada because I’m disappointed every time. I’ve felt disappointed about places I haven’t even seen.”

Só begin die verteller sy verhaal in een van die Kanadese skrywer Mavis Gallant (1922 – 2014) se briljante kortverhale, “The End of the World”.

Ek moes aan dié woorde dink toe my eie reislus dié week ’n flink skop in die maag gekry het tydens ’n besoek aan Boedapest. Of meer spesifiek, my lus om duursaam op reis te gaan.

Moet my nie verkeerd verstaan nie; Boedapest is magies: die oordaad van die Belle Époque-era, die deprimerende dekades van kommunisme, ’n strewe na die moderne terwyl jy in die greep van ’n regse regering sit, die ouwêreldse badhuise, die Art Nouveau-geboue – jy word gelyktydig deur alles oorrompel.

Ouwêreldse badhuis in Boedapest.
Ouwêreldse badhuis in Boedapest.
Image: ANESCA SMITH

Tydens ons besoek was daar boonop ’n uitstalling van Pierre-Auguste Renoir se kunswerke by die Nasionale Kunsgalery. Tóé was ek eers in vervoering.

Daar word gesê die rolprentvervaardiger Wes Anderson het die inspirasie vir sy fliek The Grand Budapest Hotel uit Boedapest se luukse Corinthia Hotel geput. Hy was in 2012 glo daar om die argiewe van die hotel – wat in die gloriedae van die 1890’s onder ’n ander naam opgerig is – te bestudeer. Anderson sê dit is nie so nie, maar net één besoek aan van die stad se talle badhuise en jy weet dit seker.

Dus nee, Boedapest was nie die probleem nie, maar die reis daarheen en terug – wat ’n ellende! Trouens, die grootste deel van hierdie nuusbrief is om tweeuur Woensdagnag op perron 18 van München se treinstasie geskryf, want dit is waar ek en my reisgenoot ’n paar uur gestrand was.

Om die romanse van Boedapest nog ’n toontjie hoër te voer besluit ek en my man om, in plaas van die vliegtuig, ’n langafstandtrein na Hongarye te haal. Dit lyk minder stresvol en natuurlik, dis beter vir die klimaat. Die grootste deel van die reis is oor Duitse grondgebied: ’n kort rit van Nederland oor die grens na Düsseldorf, dan na München en van daar na Wene en uiteindelik Boedapest.

Renoir se kunswerke by die Nasionale Kunsgalery had Anesca in vervoering.
Renoir se kunswerke by die Nasionale Kunsgalery had Anesca in vervoering.
Image: ANESCA SMITH

Natuurlik verwag jy nie dat iets gaan skeefloop nie, want Duitsers is mos bekend om hul doeltreffendheid, of hoe?

’n Mite. Ten minste wat die land se treinstelsel betref. Glo my nie? Lees gerus hierdie artikel wat die afgelope week in The Guardian verskyn het.

Ons probleme begin al in Nederland toe ons verlede Woensdagaand by die treinstasie kom en hoor dat die trein wat ons na Düsseldorf moet neem, nooit opgedaag het nie. Gewoonlik is Nederlandse treinpersoneel vriendelik en uiters behulpsaam, maar dié keer is die vrou agter die toonbank opvallend bot en gooi haar hande in die lug. Die Duitsers sou ’n bus stuur, maar die hemel weet wanneer dié eendag gaan opdaag.

Eers later sou ek begryp hoekom die dame so boos was. Dié soort kansellasies gebeur glo gereeld. Volgens die artikel weier hulle in Switserland selfs om laat treine uit Duitsland op hulle netwerk toe te laat.

Ons besluit om op ’n taxi te spring, want ons kan dit nie bekostig om ons volgende trein te verpas nie. Meer as ’n uur later en €300 (sowat R6 000) armer is ons in Düsseldorf.

Daar is geen hysbak nie, dus moet ons self ons bagasie flink teen ’n stel trappe uitsleep om by die perron te kom. Net om vyf minute later te hoor die trein vertrek van ’n ander perron. Twee minute op dié perron en nou vertrek die trein weer van die oorspronklike perron. Het ek al genoem daar is geen hysbak nie?

Die volgende middag kom ons uiteindelik in Boedapest aan – ure later as beplan.

Boedapest is magies – jy word gelyktydig deur alles oorrompel.
Boedapest is magies – jy word gelyktydig deur alles oorrompel.
Image: ANESCA SMITH

Op die terugtog ’n week later: dieselfde storie. Die trein moet na München, maar ry nie verder as Wene nie. Van daar moet ons maar op eie houtjie tot in Salzburg aansukkel, wat ’n kettingreaksie veroorsaak: Ons verpas al die ander treine wat ons daarna moes haal en moet ’n nag op ’n verlate stasieperron deurbring.

Europa is besig om sy treinstelsel flink uit te brei, maar as regerings wil hê mense moet meer per trein as per vliegtuig reis, sal hulle eers die bestaande netwerk moet regruk. In Nederland is die treinstelsel beter as die Deutsche Bahn – vertragings en kansellasies word darem vooraf aangekondig – maar as iemand wat byna weekliks die land deurkruis, weet ek vir ’n feit dat daar ook in Nederland behoorlik vertragings en storinge op die treinlyne is.

Dan het die treinbase nog die vermetelheid om die treintariewe vir volgende jaar te verhoog. Gelukkig het die kabinet nou ’n stokkie daarvoor gesteek.

Wat myself betref, ek wonder hoe ek oor my teleurstelling gaan kom vir treine wat ek nog nie gery het nie na plekke wat ek nog nie gesien het nie.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.