Die probleem met ‘gods-diens’

MAANDAG MET MAX

Die probleem met ‘gods-diens’

Ons spesie boer agteruit met spiritualiteit, skryf MAX DU PREEZ.

Een van die grootste waarhede wat ’n filosoof in die laaste paar eeue gekonstateer het, was myns insiens Voltaire se stelling in 1768: Si Dieu n'existait pas, il faudrait l'inventer: As God nie bestaan het nie, sou dit nodig gewees het om hom op te maak.

Ek sê dit nie omdat ek wil verkondig dat daar nie ’n Opperwese is nie – hoe sal ek dit kon weet? – maar uit my frustrasie met die rol van georganiseerde religie in die wêreld waarin ek leef.

Elkeen van die groot gelowe vandag – die Christendom, Islam, Hindoeïsme, Boeddhisme, Judaïsme, Sikhisme – predik liefde vir die naaste, barmhartigheid en ’n skoon, eerlike lewe.

Ons sien maar min daarvan in die praktyk. Ons sien wel oorloë, haat, onverdraagsaamheid, vooroordeel en magsug wat in die naam van godsdienste, omtrent almal van hulle, gepleeg word.

(En ons sien hoe die evangeliese Christene in Amerika ’n diep onetiese skelm as leier aanhang.)

Ons sien ook ’n noue koppeling tussen godsdiens, etnisiteit en nasionalisme en ’n wedywering tussen gelowe wat mekaar as boos uitmaak.

Toe ek ’n kind was, het ons dominees van die NG Kerk gedurig teen die Roomse Gevaar gepreek. Ons moes die Heidelbergse Kategismus van 1536, die handboek van die Hervorming, bestudeer voor ons as lidmate van die kerk aangeneem kon word.

Later het die houding teenoor die Katolieke Kerk versag – hulle is dalk nie inherent boos nie, dalk selfs tweedeklas-Christene, hulle dwaal net. (Ek het baie jare later die haat tussen Protestante en Katolieke in Noord-Ierland persoonlik ervaar.)

Die Jode het nou wel met die Romeine saamgesweer om Jesus te kruisig, maar miskien was dit net ’n ligte mistykie, want hulle is darem die mense van Israel. Die Moslems, daarenteen, was Satan se mense, saam met kommuniste en ateïste die Antichris.

(Indiërs is nie in my jeugjare in die Vrystaat toegelaat nie, so die dominees het nie gebodder om teen Hindoeïsme te waarsku nie.)

Ek hoop nie ek gee enigiemand aanstoot nie, maar kom ons wees eerlik: Daar is darem vreeslike absurditeite in van die groot gelowe waarin mense as feit en waarheid glo, eerder as simboliek. Soos ’n maagdelike geboorte, die opvaart van Jesus as ’n menslike liggaam na die hemel, brood en wyn by nagmaal wat die liggaam en bloed van Christus is.

Soos die profeet Mohammed wat op die hings Buraq deur die lug gevlieg en selfs die hemele in is vir ’n ontmoeting met Moses, Abraham en God self. Soos Hindoes en Sikhs wat glo koeie is goddelike wesens/simbole.

Image: ANGELA TUCK

Al die monoteïstiese gelowe glo die Skepper weet alles en beplan alles, maar as iets verskrikliks jou oorkom, sê jy dankie dat God sy hand oor jou gehou en jou ten minste laat lewe het. En as jou broer langs jou wel dood is, sê jy dankie dat God hom kom haal het. As ’n onskuldige baba sterf, sê mense dankie dat Jesus hom/haar so vroeg hemel toe gevat het. (Ons bid selfs voor en ná ’n rugbywedstryd.)

God, in al sy gedaantes (en dit is altyd ’n ‘hy') is terselfdertyd ’n wese van liefde én van toorn en wraak, en het die vreemde obsessie dat mense hom alewig moet aanprys.

Ons Kroonstadse dominee het hom ernstig oor my sieleheil bekommer omdat ek vir hom gevra het of, as dit waar is dat jy hel toe gaan as jy Christus nie plegtig as jou verlosser aanvaar nie, wat het geword van al die mense wat op aarde gelewe het voor Christus net meer as 2 000 jaar gelede gebore is? Is hulle in die hel? Saam met dié wat nooit in hulle lewe van Jesus gehoor het nie?

Ek is seker ’n kind uit ’n Moslemhuis het ook al vir sy imam uitgevra oor die status van mense wat voor Mohammed gelewe het, so 600 jaar ná Jesus se tyd.

Ek het die dominee ook gevra hoe hy dit verklaar dat verskillende gelowe in verskillende lande domineer – die Christendom in die Amerikas, Europa en Afrika suid van die Sahara, Hindoeïsme in Indië, Islam in die Midde-Ooste en Asië. Toeval? So ons moet kinders verdoem wat in Pakistan, Saoedi-Arabië of Indonesië as Moslems grootgemaak is?

Maar die feit bly staan dat die meeste mense in die wêreld die een of ander godsdiens aanhang. Die mens het duidelik iets bonatuurliks nodig, soos Voltaire gesê het.

Ek vind dit vreemd dat die ganse mensdom vandag via die internet met mekaar verbind is, dat die mediese wetenskap só gevorder het dat die eerste mens wat 150 jaar oud gaan word, glo reeds gebore is (dis nou buiten die Bybelse Metusalem wat 800 jaar lank gelewe het), dat ons al mense op die maan laat land het en op die punt staan om hulle Mars toe te stuur, maar die meeste van ons kan nie insien dat ons deur die leiers en strukture van georganiseerde godsdiensgroepe mislei en misbruik word nie.

Hamas noem sy bloedige inval in Israel en moord van meer as ’n duisend burgerlikes die “Al Aqsa-vloed", omdat die Israeli’s kwansuis die Al Aqsa- moskee ontheilig het. Die Jode en die Christene haat al wat Moslem is. Die Hindoes en die Boeddhiste en die Moslems roei mekaar ook van tyd tot tyd uit.

Die oudste mense, die San/Boesmans en die Khoekhoen, het duisende jare gelede ook in ’n godheid geglo en het ook stories en rituele opgemaak. Spiritualiteit is so oud soos Homo sapiens.

Maar hulle sjamaans was nie onverdraagsame, magshonger ideoloë nie, en in die era van jagters en versamelaars, wat al ons voorsate eens was, is geen oorloë in die naam van godsdiens gevoer nie.

Ons boer agteruit as ’n spesie.

Salaam. Shalom.

Max


Fragments on Naturalization    

My father’s name, my mother’s name
I dream the line of letters

I came not before an apple tree
Malus Sieversii, seeing the faces of silk

The road before this of blood
The apples tumid with grief

Ad domestica
A veil of home; a state

A whole life of waiting
& before that:

– Snigdha Koirala

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.