Die reuk van onverspeelde kanse

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Die reuk van onverspeelde kanse

DEBORAH STEINMAIR skryf oor Bibi Slippers en die reuk van onverspeelde kanse.

Image: ANGELA TUCK

Hierdie is dae van mirakels en verwonding. Beelde van onmenslike oorloë ontplof in ons woonkamers. En dan storm Cheslin Kolbe ’n doelskop af. Ons beleef alles, gelyk, ongelooflik luid en uiters naby.

In sodanige dae land daar ’n nuwe digbundel van Bibi Slippers. Soos ’n rooskleurige brief, ’n stapel poskaarte, ’n string intergenerasionele telegramme. Die pienk bladsye is sag op die oog; die boek ruik verruklik, soos skoon papier, ’n nuwe huis, oomblikke vol sonskerm, onverspeelde kanse.

Toe Bibi in ’n onderhoud gevra word of sy nog altyd ’n digter wou wees, antwoord sy sy was van kleins af ’n digter.

Watter gekantelde woord is “soekenjin” nie, met ’n vermenging van die universeel, tydloos menslike, die industriële revolusie en die lewe ná die koms van die wêreldwye web.

Bibi soek. Sy soek alles:

Troukoek en genesing van trauma, suurlemoentert en vuur, baie ure,
al die honde, pleisters en pille en verbande vir my wonde. sit dit in my
mandjie: sjampoe en batterye, vryheid en geborgenheid, sjokoladesous
en seep, ek soek al die bome en die voëls, ek soek miljoene boeke, ek wil
wysheid hê, en oppervlakkigheid, ligsinnigheid en linne, borsbeelde van filosowe,

Onder meer.

T.S. Eliot het geskryf sy Cousin Nancy het gerook en al die moderne danse gedans en die tantes het nie geweet wat om daarvan te dink nie, maar hulle het geweet dis modern.

Image: HANNERI DE WET

Bibi se bundel is ’n tydsdokument, gesetel in die era van oombliklike, vervlietende teksboodskappe en -beelde, Google-soektogte wat uitkring van popkultuurhelde na lewensvrae, maar dis ook so tydloos soos vlugtige hartstog, of liefde wat roes, of oomblikke wat deur die gety weggekalwe word.

In “extremely online” leer dié van ons by wie popkultuur-fandom verbygegaan het, terme ken soos “zoom dick disgrace”, “fake apology fatigue”, “copypasta”, “sincerity sniff test”, “shitposter”, “darkwave-drome” en “snowclones”. En dit is geensins foefierig nie. Bibi is gebore om digter te wees en sy slyp haar beiteltjie daagliks met groot toewyding. Sy kan musiek en begogeling uit enige woord laat opklink.

Sy wonder:

… wat het ek met my dae gemaak?
hoeveel tyd het op my uitgeloop terwyl my vinger
teen ’n skerm op geskuur het, hoeveel ure
het oorryp geraak in die af yskas van my siel?
wat het alles verander terwyl ek afgerol, gekyk en
niks gesien het nie? hoe is dit moontlik dat ek nie
méér het om te wys vir my geskarrel en gescroll nie?

In die soeke na betekenis is haar profete Tori Amos, Anne Michaels, P!nk, Paul Simon en ander. Alles op aarde kan sy tot poësie alchemeer: resensies, teksboodskappe, die name van rose, om ’n paar te noem. My gunsteling is die verskuilde betekenis geleë in tekstypo’s: “letseks” in plaas van “letsels”, “bake danke”, “moenie wakker word as jy al skaap nie”, “mooloop en goedgaar to the one that got awe”.

Daar is liefdesgedigte wat volmaak is in hulle onvoltooidheid:

en my stiltes wat ál groter begin gaap het. Ek wil die lente van ons liaison neer-
skryf: ’n parkeerterrein vol stuifmeel, geel tulpe,
bougainvillea en jasmyn, ek wil jou wang teen my wang vasvang, en jou belowe:
ek sal ons vir altyd in my bloed hou, al vergeet ek amper alles.

Sy skryf oor die somer toe sy everysun everyday kids cream soda milk spray-sonroom by die Spar gekry het, maar die volgende somer het sy  sonroom op haar rug probeer smeer, “maar een strook was altyd skelrooi en teergebrand / want my eie hande aan my eie arms kon nooit bykom / waar jou hande was nie”.

Daar is eggo’s van Gert Vlok Nel, daardie komplekse bondel rou talent. En ander. Sy vereenselwig haar met Hanif Abdurraqib, wat sy eie begeerte aanhou oorleef. Sy ervaar liefde vir hom “wat woorde het vir dieper boor waar ander net oppervlak aanvaar”, wat aandag skenk, wat werklik hoor, wat luister na die hartklop in die brandkluis van die oor.

Dis Bibi: ’n luisteraar na die hartklop in die brandkluis van die oor. Sy laat ons sien en hoor. Sy is filosoof en fluisteraar. Ek merk enorme groei tussen haar twee bundels en dank die sterre vir Afrikaanses soos sy. Koop die boek!


Image: ANGELA TUCK

Louise Glück, wat met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is vir haar lieflike verse, is oorlede. Sy wat gesê het ons kyk een maal na die wêreld, in ons kinderjare. Die res is herinnering. En: “From the beginning of time, in childhood, I thought that pain meant I was not loved. It meant I loved.” Sag slaap in die bed van jou veerligte verse, Louise.


net jou arm

ek was reeds op pad uit toe ek jou arm sien
net jou arm wat uit die mou van ’n swart
t-hemp steek maar beslis joune jou arm
jou volronde bisep jou spesifieke elmboog jou skok-
beentjie en jou tattoos. net jou arm saam met
’n ander vrou aan tafel ek kon die res van jou
autocomplete voordat jy my opmerk.
ek het my gesig beheer my groetende glimlag
in plek geplak die wind wat my seile so skielik
verlaat het het agterna bly waai tot ek alleen
was alleen in my hotel met net jou spook
vir geselskap en die drogbeeld van jou arm
wat maande van stilte aan die muur uitspel.

– Bibi Slippers
(Uit: Soekenjin)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.