Laat die snare jou streel en oprui

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Laat die snare jou streel en oprui

DEBORAH STEINMAIR word geroer deur snare wat meeding op pad wenpaal toe.

Image: ANGELA TUCK

Dit was ’n besige sportnaweek waar Suid-Afrika die Britse Ryk twee maal opgedons het – eers in krieket, oortuigend, en toe in rugby – nie uit verdienste nie, maar suiwer uit genade.

Sondag ry ons Johannesburg toe – voorheen het ’n mens maklik tussen Pretoria en Joburg rondgekuier, maar sedert die inperking het ons wêreld gekrimp – ook omdat daar soveel maniakke op die pad is en sekere dele lewensgevaarlik voel wanneer die son sak en beurtkrag inskop. Dus was dit ’n okkasie: Ons gaan na die Dante-strykkwartet in Wits se Linder-ouditorium luister.

Die lug voel anders in Johannesburg. Langs die ouditorium, ironies, is daar ’n Centre for Deaf Studies. Binne gewaar ek Tobie Cronjé – hom loop ’n mens altyd by musiekuitvoerings raak – en sy suster. Voor ons sit ’n ma en pa met vier klein kindertjies wat mooi soet luister of slaap.

Die kwartet bestaan uit twee mans en twee vroue, twee uit Suid-Afrika: Zoë Beyers en Ian Watson, albei op viool. Dan is daar Richard Atkinson op tjello; hy is lank en lenig met skitterende sneeuwit hare wat hang en bons saam met die note; en Carol Ella op viola.

Hulle speel eers Joseph Haydn se “String Quartet in B Flat Major, Op. 76 nr. 4”. Dit begin teer en vol verwagting en teen die finale is dit asof die snare meeding op pad wenpaal toe.

Dis moeilik om te glo dat daar soveel klankverskeidenheid uit twee viole, ’n viola en ’n tjello getoor word. Dis nog meer verstommend om te weet dat dieselfde lug wat jy op hierdie oomblik inasem deur die vibrasies van hierdie vier stelle snare geroer word. Ons sit redelik voor en ek sit my versienbril op om die musikante se gesigsuitdrukkings dop te hou; hoedat hulle die note en die verskuiwende luime van die musiek ervaar en hoedat hulle lywe saam interpreteer.

Daarna is dit my vriend Louis se gunstelingkomponis: Die jong Amerikaner Caroline Shaw se “Plan and Elevation: The Grounds of Dumbarton Oaks”. Shaw is die jongste Pulitzer-pryswenner vir musiek tot nog toe. Dumbarton Oaks is deur die digter T.S. Eliot verewig in sy “Four Quartets”. Dis ’n historiese woning in Washington DC wat uit 1801 dateer. Die titel is ontleen aan argitektuur – die “plan” is ’n blik van bo en die “elevation” ’n syaansig wat meer detail wys. Zoë Beyers besig ’n paar woorde vooraf en laat ons weet om ons oor te spits vir die “Herbaceous Border”, die “Orangery” en dat die stuk eindig by Shaw se gunstelingplek in die tuin, die “Beech Tree”. Dit was fenomenaal, iets om toe-oog te beleef.

Dan volg ’n stuk van die eerste Afro-Amerikaner wat ’n Pulitzer-prys in musiek gewen het, George Walker se “Lyric for Strings”. Dit wissel ruie harmonieë en sterk solostukke af en wys watter wye verskeidenheid van klanke ’n strykorkes kan voortbring.

Ná pouse was dit Beethoven se beurt en dit was my mins gunstelingdeel van die program. “Wat is dit tog met Beethoven,” sê Louis toe ons uitstap. “Nou gaan sy wysies weer heeldag in my kop vassit.” Die “String Quartet in F, Opus 59 no. 1” eindig triomfantelik op ’n Russiese noot.

Ek het 'n klein bietjie verlang na 'n klavier.

Die lug lyk anders toe ons uitstap: sagter, tydloos, ryk. Wat ’n wonderbaarlike ervaring.


google photos: laaste foto

daar is 'n lig-lek-filter op die laaste foto
waarin ons gelukkig lyk, nagebootste
son, vervalste losloperlig deur 'n onwerklike spleet
ingesluip, vlek wat dreig om ons kuiltjies uit te dof
en jou gesig tot geheim te verbleek

die defek van my blydskap bly op rekord
spook

– Bibi Slippers

(Uit: Soekenjin)

 VWB 


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.