Dinge wat masjiene (nog) nie kan doen nie

WOENSDAG MET WILLEM

Dinge wat masjiene (nog) nie kan doen nie

WILLEM KEMPEN wonder oor masjiene wat hamburgers maak.

Dis al ’n hele klompie jare dat jy nie heeltemal seker kan wees waar sit die mens agter die stem uit die luidspreker as jy ’n bestelling uit jou kar by ’n McDonald’s plaas nie. Teoreties kan daardie mens in ’n inbelsentrum in Indië of iewers anders sit waar die lone dalk laer is vir dieselfde werk as waar jy jou ook al bevind.

Maar dit was darem nog ’n mens van vlees en bloed, een wat iewers ’n werk gekry het wat nie deur ’n masjien gedoen kan word nie. Nou is selfs dié opsie in gevaar, want die groot kitskos-kettinggroepe is besig om baie geld te belê in die gebruik van kunsmatige intelligensie om outomatisering nóg verder te vat.

Twee van die grootste Amerikaanse name in die bedryf, Wendy’s en Carl’s Jr., het onlangs begin toets hoe sogenaamde genererende kunsmatige intelligensie en gevorderde taalmodel-tegnologie ingespan kan word om, in die Amerikaanse parlance, “improving the drive-thru experience”. Die bedryfspublikasie Nation’s Restaurant News sê “AI has become the biggest tech trend in QSR” (quick-service restaurants).

Die eintlike rede het natuurlik meer te doen met groter winste as met klante se “ervaring”, want outomatisering beteken potensieel minder tyd, mense en geld, en ook akkurater produksie en verhoogde verkope. Daarom dat sommige plekke reeds eksperimenteer met robotte wat nie net met klante gesels en hulle vertel wat op die spyskaart is nie, maar ook maaltye en drinkgoed berei en mense bedien. Kletsbotte word ingespan om mense se koopgeskiedenis te gebruik om voorstelle te doen vir bykomende geregte of om nuwe items op die spyskaart aan te beveel. En outomatisering van die toediening van sout en peper en souse soos ketchup beteken dalk die einde van daardie irriterende klein plastieksakkies wat so ’n gesukkel is om oop te kry.

Die eintlike revolusie is nie by die verkoopspunte nie, maar in dinge soos voorraadbestuur, die opstel van werkroosters vir die regte mense wat dalk nog nodig is, en voldoening aan wetgewing en plaaslike regulasies oor dinge soos voedselveiligheid. Daarom dat datareuse soos Google Cloud ook gretig is om in die aksie te deel.

Dinge kan natuurlik skeefloop of kopers juis afsit, en sekere dinge gaan nog altyd deur mense gedoen moet word. Anthony’s Coal Fired Pizza & Wings het byvoorbeeld opgehou om ’n KI-foonbestellingsbot met die naam Becky te gebruik “omdat sy nie die soort hartlike gasvryheid uitstraal wat ons graag met ons handelsmerk geassosieer wil hê nie”.

“The idea of robots and all those things, while it maybe is great for garnering headlines, it’s not practical in the vast majority of restaurants,” het Chris Kempczinski, uitvoerende hoof van McDonald’s, aan Axios gesê. En soos altyd met kunsmatige intelligensie is daar vrese soos dat oorywerige masjiene kan gaan rondsnuffel in kliënte se vertroulike inligting in ’n poging om ’n nuwe soort burger aan hulle te verkoop.

Maar die masjiene raak al hoe slimmer, en om mense in hulle plek te laat werk, raak al hoe duurder. Masjiene behoort (nog nie) tot ’n vakbond nie, hulle hoef nie ’n minimum loon betaal te word nie en hulle bly nie op Maandae van die werk af weg om ’n begrafnis by te woon of van ’n babbelas te herstel nie.

Wat regte mense wél kan doen, ás hulle iewers anders as by ’n geoutomatiseerde eetplek ’n werk kan kry en dit kan bekostig, is om die kos te bestel en te eet.

Kan iemand aan ’n rede dink waarom daai deel nie ook deur masjiene oorgeneem kan word nie?


voortaan

voortaan sal ek winterskemers vleilangs loop
en droë takkies van geraamtestruike stroop

wilgers sal gekruisig aan die hemel hang
en ek sal doodmenslik na jou terugverlang

soos na die somerse rinkink van vinke in palmiet
en die onbeholpe liefde van wildeganse tussen riet

– W.L. van der Merwe

(Uit: Doodmenslik)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.