Stuur die bomb squad op

MAANDAG MET MAX

Stuur die bomb squad op

Soos baie ander Suid-Afrikaners wonder MAX DU PREEZ onwillekeurig: Hoe kan ons die no. 1-rugbyspan in die wêreld wees, dalk selfs wéér die wêreldkampioene, en ons sukkel so met die res van ons sake as ’n nasie?

Ekskuus, ek is ’n bietjie rugby-bedonnerd op die oomblik. Ek was Saterdagnag uit my vel uit toe die Springbokke die Engelse in die halfeindstryd van die Wêreldbeker geklop het, al het die Engelse in die eerste 50 minute baie beter rugby as ons manne gespeel.

En soos baie ander Suid-Afrikaners wonder ek onwillekeurig: Hoe kan ons die no. 1-rugbyspan in die wêreld wees, dalk selfs wéér die wêreldkampioene, en ons sukkel so met die res van ons sake as ’n nasie?

Rugby as metafoor, weereens. Lesse om te leer.

Die eerste gedagtes wat by my opkom, is leierskap en bestuur.

Die span wat die komende naweek in die eindstryd teen die All Blacks gaan speel, lyk heeltemal, gans anders as die span van Francois Pienaar wat in 1995 die beker gelig het. Soos in velkleur.

Daar is dié keer vele swart en bruin supersterre. Siya Kolisi, Damian Willemse, Cheslin Kolbe, Bongi Mbonambi, Ox Nché, Manie Libbok, Kurt-Lee Arendse. In die groter Bok-span is daar ook Canan Moodie, Lukhanyo Am, Marvin Orie en Trevor Nyakane. En Makazole Mapimpi wat met ’n besering huis toe moes kom.

Maar ons sien hulle nie juis as swart of bruin spelers nie, nes ons nie vir bleker helde soos Eben Etzebeth, Handré Pollard, Kwagga Smith, RG Snyman, Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, Jesse Kriel of Willie le Roux juis as wit spelers identifiseer nie.

Better together. Widen the circle, soos die whiskey-advertensie sê.

Ons het dus fundamenteel “getransformeer” sonder om talent mis te kyk, sonder om die basis wat Afrikaner-oorheersde rugby oor geslagte heen gelê het, heeltemal af te breek. ’n Bietjie van “vat uit die verlede wat goed is en bou die toekoms daarop”.

Soos ek hier skryf, loop Springbokkoors landwyd en in die meeste gemeenskappe hoog. Gaan kyk maar na sosiale media.

In ’n groot mate moet ons vir kaptein Siya Kolisi, seun van Zwide, hiervoor bedank. Hy verstaan deeglik hoe belangrik sy rol as nasionale, verenigende simbool is en alles wat hy sê en doen, versterk dit. (Jammer Siyia, maar jou game teen die Engelse was nie jou beste nie. Ons sien uit na groter energie volgende Saterdag.)

Rugby word duidelik goed bestuur. Rugby op skoolvlak is gesond, hoewel daar nog baie te doene is met armer plattelandse en township-skole. Die Varsity Cup is ’n opwindende kompetisie wat vorentoe nog vele Bokke gaan oplewer. In veral die Boland is klubrugby gesond en gewild.

As ons van die Bokke van 2023 praat, dan staan een naam uit: Rassie Erasmus.

Dié Boerseun van Despatch is ’n onkonvensionele, eksperimenterende, waaghalsige rugbydenker, maar hy is ook ’n mensch; ’n inspirerende, emosionele mens wat na aan sy spelers en die mense van sy land beweeg.

Rassie vir president.

Vang tips, Cyril.

Maar dis nie Rassie op sy eie nie. Hy steun op die talentvolle Jacques Nienaber, Deon Davids en Mzwandile Stick om die bestuurspan ’n gedugte een te maak.

Lesse.

Ek is ’n totale Manie Libbok-fan. Le Bok. Maar hy was nie Saterdag op sy beste nie en ná ’n halfuur se spel sê ek vir my vrou: Rassie moet maar vir Handré opstuur. ’n Paar minute later gebeur dit toe.

’n Leier moet vinnig harde besluite kan neem.

Die Bokke was totaal sonder fut in die eerste helfte. Ek het 19 ongedwonge foute teenoor die Engelse se twee getel. Ons manne was dalk sielkundig moeg ná die titaniese stryd teen die Franse die vorige naweek.

En toe stuur Rasnaber die bomb squad op. Kwagga, RG, Willie, Deon Fourie, Vincent Koch, Faf de Klerk.

En Retshegofaditswe Nché. Hy’s g’n “Ox” nie, hy is ’n superbul. Hy het die Engelse pap geskrum en die wedstryd help omdraai.

Formidabel.

Nick Mallett en Schalk Burger het Saterdagaand ná die wedstryd die punt gemaak dat waar ander spanne ná ’n verloorslag in die kleedkamer gesels en planne vir die naweek maak, die Springbokke se kleedkamer ná ’n nederlaag doodstil is, soos ’n begraafplaas.

Elkeen van die Bokke, met Siya en Rassie vooraan, weet hulle speel vir hulle land en sy mense.

Dís wat ons spesiaal maak.

In ons nasionale lewe het ons Siyas en Rassies nodig. Ox Nchés. Kwaggas en RG’s. Handrés.

Ons is ’n bietjie futloos ná Jacob Zuma se nege jaar en Cyril se vyf.

Ons het die bomb squad nou nodig. En die Bok-houding van weiering om te gaan lê.

Lank lewe die gees van amaBokoboko.

Max

Naskrif: As jy nog nie uitgerugby is nie, hier is ’n paar goedjies waarna jy gerus kan kyk:

@shaun_veldgids_etsebeth #stitch with @Kieran Williams Gaan huil nou maar by Farrel🤣🤣🤣🤣#bokke #finals #worldcup #rugbyworldcup2023 @Rugby World Cup @Springboks.rugby ♬ original sound - 🐆Shaun Etsebeth🐆

The Orchids

Freaks of bright crystal, airy beauties fair,
Whose enigmatic forms amaze the eye—
Crowns fit to deck Apollo’s brows on high,
Adornments meet for halls of splendor rare!
They spring from knots in tree-trunks, rising there
In sweet gradation; winding wondrously,
They twist their serpent stems, and far and nigh
Hang overhead like wingless birds in air.

Lonely, like pensive heads, all fetterless,
Lofty and free they bloom; by no dull chain
Their flowers to any tyrant root are bound;
Because they too, at war with pettiness,
Desire to live, like souls that know no stain,
Without one touch of contact with the ground.

– José Santos Chocano

(Uit Spaans vertaal deur Alice Stone Blackwell)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.