Sondagblues op ’n Saterdag

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Sondagblues op ’n Saterdag

ANNELIESE BURGESS sê as Sondagblues 'n parfuum was, sou sy dit beskryf as een met topnote van gekneusde aarbei en roos en hartnote van lanolien en stofpad, vloerpolitoer, vuur en verlange.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre vriende

Gister, asof dit Sondag is, kry ek ewe skielik weer die blues. Ek het oor die jare my immuniteit daarteen opgebou met 'n paar slim truuks, maar daar oorkom dit my nou die dag (by 'n verkeerslig in Malmesbury van alle plekke).

Uit die bloute kom lê dit soos 'n kleed oor my. Ek probeer die gevoel ontleed.

Daar is 'n dik laag melankolie. Of is dit hartseer? 'n Dowwe angstigheid. 'n Bietjie hartseer, 'n bietjie uitsigloosheid. Die vae klop van verlies en 'n sin van verganklikheid. En dis ook die kleur van die lig: die waterige, sterwende deurskynendheid van 'n laatmiddagson. Die wind wat rommel in die strate rondstoot.

Die boustene van my Sondagblues, soos seker elkeen van ons s'n, lê in my kinderdae. Dit is skeertyd. En vir dié ses weke kamp ons in die plaashuis op Diepkloof, want dit is waar my my pa se groot skeerskuur is. Ver afgeleë aan die toppunt van die kronkelende grondpad deur Hoggskloof. Wat beteken ons moet Sondae terug koshuis toe.

Ná die piekniek in die kweperboord, met die reuk van vuur op ons vel, pak ons die lang pad dorp toe aan. Stop en ry deur hekke wat oop- en toegemaak moet word. 'n Draai by Vergenoeg om aarbeie te pluk – en vir my, rose vir my koshuiskamer.

Ons was gewoonlik die enigste kinders in die koshuis daardie aand. Ek aan die meisiekant. Alleen. My boeties aan die seunskant. Die gange wat ruik na Cobra-politoer en eensaamheid. Die uitgestelde huiswerk wat op jou gemoed lê. Die verlange huis toe. En dan die sukkel om te slaap met die denneboom en die lig van die straatlamp wat 'n skaduspel op die muur maak.

As Sondagblues 'n parfuum was, sou ek dit beskryf as een met topnote van gekneusde aarbei en roos en hartnote van lanolien en stofpad, vloerpolitoer, vuur en verlange.

“Gylly Sunset”
“Gylly Sunset”
Image: RACHEL PAINTER

Kollega Laureen Rossouw vertel sy kry ook so die blues. Maar hare kom altyd op 'n Saterdag. Dit klop 12:00 aan haar deur, want dit was die tyd wat haar ouers altyd weg is gholfklub toe.

Sy vertel van die middae in die stowwerige agterplaas van hulle huishoudster se huis in die onderdorp. En die klein appeltjies wat hulle van die boom af geëet het. En die wind wat opkom.

Dít is haar blues-sneller: wind en weemoedigheid. “Wind wat rommel in die strate rondwaai, is iets waarvoor ek baie lig loop."

Voordat sy ingetrek het in elke huis waarin sy nog ooit ná haar kinderjare gebly het, sê sy, moes sy haarself eers vooraf vra: “Hoe sal Saterdag hier voel?”

Daar moes troos wees vir Saterdae. En vir die wind.

Vir haar is daardie troos groen bome. Of 'n berg. Of die uitsig oor water.

“Sunset on the Seine in winter”, 1880
“Sunset on the Seine in winter”, 1880
Image: CLAUDE MONET

Hier is my wenke om die Sondagblues op hok te hou:

  • Daar kan geen middel-van-die-dag-ete wees nie. Ooit. Daar is niks soos 'n swaar maag en 'n paar glase wyn om die blues in te nooi nie.
  • Steek die kerse op jou etenstafel (of jou vuur) laatmiddag aan – nog beter, vroegaand.
  • Gebruik die middag om iets fisiek te doen. 'n Rondlêery is moeilikheid soek. 'n Middagslapie is fataal.
  • Die regte musiek kan gebruik word om die eerste gromme van die swart hond te verdryf.
  • Die belangrikste van al hierdie is die geen-wyn-reël. Dagdrink is 'n kortpad tot binne-in die hondehok met die swart hond wat aan jou kuite kou.

Maar teen halfses se kant kan jy maar ietsie skink. Soos ek vandag sal doen. 'n Saronsberg Sauvignon Blanc wat ek by Koos present gekry het.

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese


I Loved My Friend

I loved my friend. 
He went away from me. 
There’s nothing more to say. 
The poem ends, Soft as it began, –
I loved my friend. 

Langston Hughes
(Uit: The Weary Blues)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.