Goeiemôre
In Nederland maak ek vir die eerste keer kennis met die sogenaamde stiltecoupé. Dis ’n spesiale kompartement in die trein vir mense wat in stilte wil reis. En nee, daar is nie ’n lawaai-coupé waar jy gesellig uit jou naat kan gaan nie.
Maar jare gelede toe ek hier aankom, weet ek natuurlik niks van die stiltereël nie, want as nuweling of toeris is jy al verlig as jy op die regte trein klim en jy let miskien minder goed op na aanwysings binne die trein.
Trouens, ek was nie eens bewus dat ek in ’n stiltesone sit toe my selfoon skielik op ’n dag begin lui nie.
Ek – met my harde Suid-Afrikaanse stem – wil nog aan die beller verduidelik dat ek op die trein sit en dat dit nie ’n ideale tyd is om te praat nie. Maar voor ek my kom kry, hang die man voor my al oor sy sitplek en vra kliphard of ek my gesprek êrens anders kon gaan voer.
En dis hoe ek geleer het dat die stiltecoupé heilige grond is vir die Nederlander. ’n Plek waar mense jou sal uittrap as jy selfs te hard op jou telefoon tik. In Nederland laat die diensverskaffer dit aan die passasiers oor om mekaar se gedrag te polisieer, maar ek hoor in sommige Europese lande kan jy selfs ’n boete kry as jy te veel lawaai maak.
Aan die begin vind ek dit ’n bietjie belaglik. Die trein rammel en piep en kreun in die meeste gevalle self so erg dat dit ’n bietjie sinneloos is om te dink dat jy werklik heeltemal in stilte kan ry. Miskien is dit beter om oordoppies te kry. Buitendien het dit ’n mode in Nederland geword om te sê jy is “overprikkel” – bedoelend, jy kry te veel geluide en inligting en goeters van buite en moet dan kwansuis gaan rus.
Meestal beland ek per ongeluk in die stiltesone, want ek steur my nie soveel aan mense wat geraas maak nie en gaan sit op enige plek wat beskikbaar is.
Tog, wanneer ek wel daar sit, let ek op dat mense deesdae versigtiger geword het om ander te vermaan wat geraas maak. Hulle kyk eers die kat uit die boom uit: As ek die persoon konfronteer, hoe gaan hy of sy reageer? Want die Nederlandse samelewing het nou eenmaal meer aggressief geword.
As jy iemand vra om sagter te praat, is daar deesdae ’n realistiese kans dat jy toegesnou word om self jou bek te hou. Of op sy minste dat die persoon jou ignoreer en voortgaan met sy harde musiek of om sy hele familie te video-bel.
En dit is jammer, want is dit so erg vir mense om te smag na rus en vrede? ’n Bietjie stilte midde al die konflik in die wêreld en in jou hoof?
Mooi naweek
Anesca
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.