Jy kan nie jou brood alkant gebotter hê nie

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Jy kan nie jou brood alkant gebotter hê nie

Nederland gaan oor minder as drie weke na die stembus, en migrasie is ’n groot kwessie. ANESCA SMITH meen burgers moet ophou kla daaroor – of bereid wees om self die hande uit die mou steek, selfs vir minder aangename werke.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

By haar verjaarsdagete verlede naweek kla skoonmoeder oor Nederlandse bedrywe wat te naïef omgaan met Chinese werknemers wat hier gereeld in die nuus is weens die diefstal van intellektuele eiendom. Sy meen dit word te gelate aanvaar as die prys wat maar betaal moet word vir ’n wêreldekonomie en die stryd om die mees talentvolle werkers.

So het ’n rapport deur die Britse parlementêre veiligheidskommissie nog in Julie gewaarsku dat China nie net sy eie inligtingsdienste gebruik om kennis van Westerse lande te steel nie, maar eintlik iedereen wat by die land hoort gebruik: staatsbedrywe, kommersiële bedrywe, wetenskaplikes, kulturele instellinge en natuurlike gewone Chinese burgers in Europa.

Ek sê as die Nederlandse regering nou slim is, moet hy hom daarop toespits om Indiese studente en werknemers in tegnologie na Nederland te lok. Dié mense het immers nog onlangs ’n maanlanding gemaak.

“Hulle steel net so kennis,” sê skoonmoeder bot.

Sy bedoel oorlede Abdul Qadeer Khan, die Pakistani wat jare gelede Nederlandse kennis oor die verryking van uraan gebruik het om die atoombom vir Pakistan te ontwikkel.

In sy eie land word Khan as ’n volksheld beskou omdat hy van Pakistan ’n atoommag gemaak het en sodoende die magsbalans met Indië herstel het. In 2004 is Khan ook deur Amerika beskuldig dat hy atoominligting aan regimes in Noord-Korea, Iran en Libië deurgegee het.

Ek sê maar niks oor die feit dat Pakistan en Indië nie dieselfde land is nie. Om die vrede en harmonie van die verjaarsdagfees te bewaar.

(Suid-Afrika sou trouens ook groot baat vind by nouer samewerking met Indië – wat immers ook in Brics sit – op die gebied van tegnologie.)

Waarom so ’n swaar onderwerp by ’n verjaarsdag? Wel, Nederland gaan oor minder as drie weke na die stembus en soos altyd in Europa is die hooftema migrasie. Kiesers wil weet wat politieke partye gaan doen om ’n greep te kry op die stroom mense uit ander lande. Of dit nou gaan om bootvlugtelinge, arbeidsmigrante of internasionale studente.

Al was ek self ’n internasionale student is ek nie gekant teen een politieke party se voorstel dat daar ’n beperking gestel moet word op die getal internasionale studente hier nie. Dis ten minste ’n begin. Nederland is nou eenmaal ’n piepklein landjie en die woningkrisis het so erg geword dat gewone Nederlanders byna nie meer ’n blyplek kan vind om te huur nie, wat nog te sê koop. Waar moet al die mense heen?

Wat die deursnee-Nederlander skynbaar ook nie weet nie, is dat die meeste buitelandse studente hier nie van buite die Europese Unie kom soos dikwels gekla word nie, maar uit buurlande soos Duitsland. En sodra hulle hul diploma in die sak het, verkas hulle weer. En sodoende vind die Nederlandse ekonomie weinig baat by hul talent.

Maar saam met die vraag oor hoe om ’n greep te kry op migrante, hang natuurlik die vraag oor hoe die plaaslike ekonomie sonder arbeidsmigrante daar gaan uitsien.

Net die afgelope week het inwoners van nóg ’n dorp hier nog geprotesteer oor die bou van 400 wooneenhede vir arbeidsmigrante uit Pole en ander Oos-Europese lande wat by slagterye en in ander sektors werk waarvoor gewone Nederlanders hul neus optrek. Dié mense woon in haglike omstandighede.

Ook die afgelope week het die minister van onderwys ook ’n beroep gedoen op voornemende Nederlandse studente om meer te kies vir ’n praktiese of tegniese studierigting – werktuigkundiges, haarkappers, verwers en mense wat in die landbou of in die sorg werk – omdat daar ’n groot tekort in dié sektors is. Die probleem is egter dat die kans op welvaart hoër is as jy ’n universiteitsopleiding het en daarom kies heelwat studente om eerder universiteit toe te gaan.

Jy kan nie jou brood alkant gebotter hê nie: goedkoop arbeid of self die hande uit die mou steek – selfs vir die minder aangename werke soos trein skoonmaak of 12 uur per dag staan en tamaties pluk.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.