’n Moeilike gesprek oor teleurstellende rolmodelle soos...

DONDERDAG MET MERCY

’n Moeilike gesprek oor teleurstellende rolmodelle soos Mamokgethi Phakeng

MERCY KANNEMEYER sê Mamokgethi Phakeng se ondersteuners moes nie hulle vertroue in haar gestel het net omdat sy swart en ’n vrou is nie.

Something is rotten in the state of our universities …

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vroeër vanjaar onder administrasie geplaas. Wanadministrasie, korrupsie en allerlei bestuursuitdagings word as van die redes voorgehou. Unisa het dié besluit egter in die hooggeregshof beveg, en Nzimande het bloedneus in die hof gekry.

Nefie-gate aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n stille dood gesterf, want as daar nou een ding is wat die Afrikaner goed kan doen, is dit om dinge onder die mat in te vee.

Aan die Universiteit van Kaapstad (UK) is ’n verdoemende verslag uitgereik ná ’n ondersoek na die leierskapskrisis aan dié instansie ná die drama met prof. Mamokgethi Phakeng wat daartoe gelei het dat sy ’n vroeë aftreepakket moes vat; sowel as die ongerymdhede rondom senior akademici wat op ’n streep bedank het.

Bogenoemde drie instellings is natuurlik nie die enigstes wat kommer wek oor die toestand van hoër onderwys in ons land nie. Vervalste grade, nepotisme, magsmisbruik, boeliegedrag, rassisme, seksisme, korrupsie en dies meer plaag ons kampusse. En terwyl akademici en senior bestuur aan die baklei is, kry die studente swaar.

Vir my is die toppunt in die universiteitsirkus op die oomblik egter die Phakeng-sage. Fab Academic. Deputy Mother. Black Girl Magic. Sommige se eie Beyoncé Queen B (as Beyoncé ’n hele klompie grade en ’n haelgeweer gehad het).

Die raad van die UK het ’n onafhanklike paneel gekry om ondersoek in te stel na die bestuur van die universiteit, en in kommunikasie aan die universiteitsgemeenskap en belanghebbendes vra die universiteit om verskoning dat hulle dié soort ondersoek nie vroeër al gedoen het nie.

“Council acknowledges the past governance failures. We regret not acting sooner and apologise unreservedly,” skryf die nuwe raadsvoorsitter, Norman Arendse, op die UK se webtuiste.

Die raad is so spyt dat hulle nie vroeër die saak probeer beredder het nie, maar kón hulle? Sou hulle iets kon doen met Phakeng en die gewese raadsvoorsitter, Babalwa Ngonyama, aan die stuur van daai skip? Nope. Titanic (metafoor, met respek aan almal wat hulle lewe op die skip verloor het).

So kom ons staan vir ’n wyle stil by Phakeng. Vir my was dit moeilik om die positiewe prentjie wat ek in my kop van haar gevorm het, soos ek haar leer ken het, te konsolideer met die beeld wat na vore gekom het tydens haar problematiese gedrag by die UK. En die manier waarop sy haarself handhaaf nou dat sy by die UK weg is.

Aanvanklik was ek ’n “yaaaaas queen” vir Phakeng. Sy het gelyk soos hierdie in-touch-met-die-studente-tipe-VC: Sy’t vir studente KitKats uitgedeel tydens hulle eksamens, sy het selfies saam met hulle geneem, sy het op sosiale media gereageer op studente wat haar aandag wou hê, en sy het haarself werklik immerse in die studente se ervaringe. Sy was konstant teenwoordig. Die meeste wat ek al vir Wim de Villiers van die US gesien het, was tydens my gradeplegtighede.

Toe Phakeng se boeliegedrag aan die lig begin kom het, en inligting oor hoe sy en Ngonyama glo senior kollegas tot stilte geboelie het, het my en menige van haar voormalige ondersteuners se gevoel oor haar begin verander.

Maar wag gou! Voor ek daaroor praat! Nadat die verslag uitgereik is, het Phakeng op Twitter aangedui dat sy die verslag saam met haar regspan sal deurwerk en die nodige stappe doen. ’n Paar tweets daarna kondig sy aan dat sy binnekort ’n opwindende aankondiging gaan doen … Die aankondiging sou Dinsdag om 13:00 gedoen word. Ek was op die punt van my stoel om te kyk wat die aankondiging sou wees … en julle, dit was die grootste let-down van die afgelope eeu! Die aankondiging was bloot dat sy nou tot die handelsbedryf toetree in vennootskap met Exness Trading Company… En hier dag ek die opwindende aankondiging sou wees dat almal reg was oor haar, en dat sy bietjie introspeksie gaan doen en daarna na die akademie sal terugkeer. Of ten minste dat sy die UK hof toe gaan vat, of so iets! Nou nie dat sy ’n voet sou hê om op te staan nie, maar ja. Let down.

Iedergeval. Waar was ek?

Phakeng en Ngonyama het mense stief behandel, en hulle is al twee weg by die UK. En nou is Phakeng se gedrag op sosiale media totaal en al unhinged.

Iets wat my dwars in die krop steek, is hoe sy rassekwessies hanteer het. Deur dinge te sê soos dat sy die enigste regte swart persoon in die universiteit se uitvoerende bestuur is, onder meer omdat haar hare kroeser is as dié van haar destydse kollega prof. Loretta Feris, wat ook as swart identifiseer. En dat daar te veel bruin en Indiër-personeel in topposisies sit. Dit is nie net uiters teleurstellend nie; dit is ook geweldig fucked up.

Bottom line is this: Phakeng was nie geskik om die visekanselier van die UK te wees nie. Ja, sy is geleerd; sy is slim; sy is miskien moerse toeganklik vir party mense, maar ’n leier is sy gewis nie.

En, hier’s my finale punt, om iemand op te hemel omdat hulle iets verteenwoordig wat jy graag in ’n sekere ruimte wil sien, moet maar sterk heroorweeg word. Vir baie mense het Phakeng transformasie en ’n gedekoloniseerde figuur binne die ivoortorings van stokou, wit universiteite verteenwoordig. Ons wat haar ondersteun het, het misluk deur ons vertroue in haar te stel net omdat sy swart en ’n vrou is. Ons moes haar kwalifikasies en haar vermoë om die job gedoen te kry as kriteria gebruik het.

Dis ’n moeilike gesprek, want representation matters! Maar, eish, ek weet nie hoeveel keer ek nog teleurgestel kan word en dit omdat ek aan ideologie vashou nie. Ek het my teleurstellingskwota vir die jaar bereik. Let’s circle back in the new year.


The Arid Land

There will be willows plunging
Their bloodless roots in air
And the hard crooked flying
Of buzzards circled there.

About the treeless wastes
No sand may ever heap
With water, nothing will run
And nothing creep.

Arid, desolate, defiant
Under its iron band
Of sky, we yet may love
This so sunny land.

- Lynn Riggs

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.