Stories oor mense soos sy word gewoonlik vertel met ’n...

WOENSDAG MET WILLEM

Stories oor mense soos sy word gewoonlik vertel met ’n asterisk agterna: Khanyi*

WILLEM KEMPEN vertel ’n asterisk-verhaal.

Ons het vroegoggend vir Khanyi gaan oplaai naby die kamer wat sy vir R1 500 'n maand in die middedorp huur. Sodat sy saam met haar ernstig siek ma by die kliniek vir dié se pille kan gaan wag. Haar ma bly by ander familie, want haar eie sinkhuisie is leeggedra terwyl sy 'n ruk terug weer vir die dag by die hospitaal moes wees vir toetse. Haar ma kan in elk geval nie meer sonder hulp eet of aantrek nie, en haar kop is deurmekaar.

Khanyi wag op die hoek van haar straat vir ons, want iemand het oornag 'n hele bakkievrag vol vullis in die middel van die pad voor haar gebou se ingang gestort en mens kan nie met 'n kar daar verbykom nie. Dis net langs die historiese gebou waar daar 'n week of wat tevore 'n brand was.

Om haar ma te kon bystaan moes Khanyi die dag afvat by die pizzaplek waar sy deesdae werk. Die eienaar was nie lekker oor sy weer wou afvat nie, want sy kan alles doen van deeg uitrol tot by die kasregister bedryf, en sy het matriek en is welsprekend en slim en die klante hou van haar. Sy word nie vir oortyd betaal nie, maar dis darem 'n verbetering op haar vorige werk by die taxi-staanplek.

Khanyi sê daar is elke nou en dan iemand van die departement van arbeid daar by die pizzaplek as iemand oor iets gekla het, maar dit maak nooit 'n verskil nie. Daar is altyd iemand anders wat bereid is om dieselfde werk vir minder geld te doen, so dis makliker om 'n klakous te vervang as om almal beter te behandel.

Khanyi klim langs haar ma in en ons ry verder tot by die kliniek, waar 'n mens versigtig by die ingang moet inry omdat die mankolieke hek net gedeeltelik oop staan.

Oral teen die paalheining om die kliniek kleef die plastieksakke en plastiekbottels en polistireenhouers en smerige stukke papier vas wat lyk of die wind dit oor lang jare tot daar gewaai het.

Ons hou buite die kliniek se ingang stil waar 'n lang tou mense al wag. Van hulle sit op ou plastiekstoele; ander staan of sit sommer op die randsteen.

Khanyi help haar ma uit die kar, en saam gaan staan hulle agter in die tou. Khanyi haal haar foon uit, seker sodat sy weer op Google kan gaan oplees oor wat die dokters oor haar ma sê, soos haar gewoonte is.

Laat weet as julle klaar is, sê ons vir hulle voor ons wegry, dan kom haal ons julle weer.

Met 'n bietjie geluk sal dit so teen middagete se kant wees.


skietgebed

my broer se plaas krimp
soos breiwerk in water
kinders met douwurm
dolf kluite op die broodlyn
maandeind is agthonderd rand
en 'n sak meel

in die rivierloop
vreet likkewane 'n slagos skoon
en die maan verbleek tot 'n sekel
in die laksman se hand

hier is niemand vet nie

mag die loon van hoop
opsyfer deur driesland
soos 'n bevrugting woorde
'n bladspieël verskimmel
soos bome met lym ingesmeer
op seisoene vol trekvoëls wag

- Dominique Botha

Uit: Donkerberg

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.