Die klank van stilte

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die klank van stilte

ANNELIESE BURGESS vertel van twee wonderlike boeke oor stilte. En onthou die heiligheid van 'n berghut in die berge van Barkly-Oos.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Bête noire. Die uitdrukking geval my. Elegant. Effe misterieus. 'n Bietjie eksoties. Die direkte vertaling uit Frans is “swart dier" en dit verwys natuurlik na 'n hewige afkeer van iets of iemand hê.

Ek het 'n baie lang lys bêtes noires, maar heel bo-aan is geraas. 

Raserige musiek. Raserige kroeë. Nagklubs. Biertente. Musiekkonserte. Motorfietse wat jaag.

Dit is alles my idee van absolute nagmerrie-hel. 

Gee my die luuksheid van stilte. En van afgeleë wees.

Berge. Vlaktes en verlate strande. Eilande en ligtorings en woude en bosveld en woestyne.


Die klank van stilte

In die fotograaf en Emmy-genomineerde filmmaker Pete McBride se verruklike boek Seeing Silence: The Beauty of the World’s Most Quiet Places sê hy dat “ons geneig is om aan stilte te dink as die afwesigheid van klank, maar dat dit eintlik die leemte is waarin ons die geesverheffende note van die natuur kan hoor".

Hy praat van “quietude" en “hushed places". Sy boek is beide 'n viering en 'n weeklaag. Dit is 'n viering van die rou skoonheid van die natuur. En dit is 'n uitnodiging om te luister na wat die natuur in sy manjifieke stilte vir ons sê. Maar dit is ook 'n klaaglied oor die verlies van die natuur en van stilte soos wat die mensdom groei en meer spasie vir die masjinerie van “vooruitgang" nodig het.

Image: INSTAGRAM | @pedromcbride

Die ekwilibrium van die gees

Erling Kagge is 'n befaamde Noorweegse verkenner.  Hy was die eerste mens wat die suidpool op sy eie bereik het, asook die eerste wat die wêreld se drie pole bereik het – noord, suid en die berg Everest. 

Hy het 'n absoluut wonderbaarlike boek oor stilte geskryf. Oor hoe dit belangrik is vir die ekwilibrium van ons gees, vir geluk en hoe dit vensters na verwondering en dankbaarheid kan oopstoot.

In Silence: In the Age of Noise ondersoek hy die stilte om ons, die stilte in ons en die stilte wat ons vir onsself kan skep. “Silence is about rediscovering, through pausing, the things that bring us joy.”

En in die lig van wat hy doen, wéét die man 'n ding of twee oor stilte.

“Silence in itself is rich. It is exclusive and luxurious. A key to unlocking new ways of thinking. I don’t regard it as a renunciation or something spiritual, but rather as a practical resource for living a richer life.

“It’s about getting inside what you are doing. Experiencing rather than overthinking. Allowing each moment to be big enough. Not living through other people and other things. Shutting out the world and fashioning your own silence whenever you run, cook food, have sex, study, chat, work, think of a new idea, read or dance.”


Stilte in die berge ...

Op 'n besoek aan Indië 'n paar jaar gelede doen ek en 'n vriendin 'n kookkursus. Die vrou wat die kursus aanbied, vertel ons met groot verwondering van 'n besoek wat sy aan Suid-Afrika gebring het.

Indië is die wêreld se digs bevolkte land; 'n konstante kakofonie van klanke en mense.

Die vrou vertel ons van die diep indruk wat die ooptes van Suid-Afrika op haar gemaak het. Van 'n staptoer in die Drakensberge waar sy dae lank in stilte was sonder om ander mense te sien. Ek onthou die ontsag waarmee sy dit vertel het, en dat sy gesê het dit was vir haar 'n heilige ervaring.

Ek ervaar stilte ook as heilig. En een van die heiligste plekke van stilte wat ek ken, is 'n afgeleë berghut diep in die berge van Barkly-Oos, op die plaas Birdstone. Net die klank van wind en skape. En berge wat met jou siel praat. 


Die Birdstone-berghut in die berge van Barkly-Oos.
Die Birdstone-berghut in die berge van Barkly-Oos.

Ek laat julle met 'n insig oor die liefde waartoe Erling Kagge in sy stilte gekom het.

“Most people think climbing Everest is very risky, but things usually work out. However, taking reciprocal love for granted – I would never dare do that."

Daarmee groet ek.

Salige Sondag
Anneliese 


Short Talk on Major and Minor

Major things are wind, evil, a good fighting horse,
prepositions, inexhaustible love, the way people
choose their king. Minor things include dirt,
the names of schools of philosophy, mood and
not having a mood, the correct time. There
are more major things than minor things
overall, yet there are more minor things
than I have written here, but it is
disheartening to list them. When I
think of you reading this I do not
want you to be taken captive,
separated by a wire mesh lined with glass
from your life itself, like some Elektra.

– Anne Carson

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.