Wat het die Franse wat ander nasies nie het nie?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Wat het die Franse wat ander nasies nie het nie?

ANESCA SMITH sê sy verstaan nie hoe die Franse manier van lewe so ’n houvas op almal gekry het nie, en dis nie waar dat Franse vroue nie vet word nie.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Eendag rondom die middaguur slenter ek van die parlement na die stasie in Kaapstad. Verby die vis-en-tjips-winkels en daardie stalletjies waar alles van pruike tot nagemaakte Louis Vuitton-sakke en gesigroom waarvan die gebruiksdatum lankal verval het, verkoop word.

Op een van die tafels trek iets my aandag: ’n boek getiteld French Women Don’t Get Fat deur die Franse skrywer Mireille Guiliano. Ek koop dit onmiddellik. Want ja, selfs hier aan die verste punt van Afrika het die mite van die Franse vrou ons bereik: altyd slank – skynbaar sonder al die dieetdrama – altyd sjiek en omgewe met daardie fel begeerde je ne sais quoi.

Toe ek Nederland toe trek, het ek selfs die boek saamgebring. En ek moet erken dat van die advies wat Guiliano in die boek uitdeel inderdaad behulpsaam is. Ek pas dit tot vandag nog toe.

Bo van links: House of Dior, Catherine Deneuve. Onder van links: Brigitte Bardot, Tina Kunakey, Vanessa Paradis.
Bo van links: House of Dior, Catherine Deneuve. Onder van links: Brigitte Bardot, Tina Kunakey, Vanessa Paradis.

Neem byvoorbeeld oefening. Soos die skrywer is ek ’n gym-hater – ek hou nie van sweet nie – maar sy stel voor dat jy oefening (of beweging) op ’n natuurlike manier deel van jou dag maak. As ek byvoorbeeld met die bus huis toe reis, sal ek een of twee haltes vroeër afklim en die res van die afstand stap. En aangesien ons op die vierde verdieping woon, neem ek dikwels die trappe in plaas van die hysbak na bo en doen dieselfde op stasieperronne.

Danksy haar het ook my gedrag rondom die drink van water verander. As jy nie van die smaak hou nie, begin deur soggens as jy opstaan eers twee glase water te drink. Jy lê ure en slaap, so natuurlik gaan jou liggaam gedurende die nag uitdroog. Sy stel ook voor dat jy om dieselfde rede voor bedtyd water drink.

Nou ja, danksy dié raad het ek in ’n ommesientjie ’n smaak vir water ontwikkel en drink dit nou al jare die hele dag deur in plaas van koeldrank of sap. My “waterverslawing” is so erg dat ek selfs ’n paar glase saans drink al weet ek ek gaan in die nag moet opstaan om toilet toe te gaan.

Maar van die idees wat Guiliano in die boek verkondig, is ook problematies. Ek was al ’n paar keer in Frankryk en weet vir ’n feit dat nie alle Franse vroue slank of sjiek is nie. Jy hoef net die metro te ry om dít te besef.

Nee, die Franse vrou oor wie Guiliano skryf, verteenwoordig ’n sekere tipe – waarskynlik ’n Parysenaar, ryk en meestal wit. In die boek noem sy dat sy lank as hoof van kommunikasie vir die Franse sjampanjehandelsmerk Veuve Clicquot gewerk het. Die boek bevat selfs ’n resep vir hoender in sjampanje gekook!

Die eerste Parys Modeweek is deur die Franse Modefederasie (Fédération Française de la Couture) gereël in 1973.
Die eerste Parys Modeweek is deur die Franse Modefederasie (Fédération Française de la Couture) gereël in 1973.

In die boek word slankheid ook meermale met gesondheid vereenselwig. Problematies, want soos ons weet, rook Paryse vroue soos skoorstene (last time I checked). Miskien help dít om maer te bly. Ek glo ook nie die storie dat die vrou oor wie Guiliano skryf, haar slanke lyf altyd moeiteloos behou nie.

En tog, byna 20 jaar nadat haar boek verskyn het, sit die mite van die Franse vrou nog stewig in ons kollektiewe bewussyn. Toe ek in Londen as buitelandse korrespondent gewerk het en elke oggend ’n pak koerante afgelewer gekry het, was die Britse pers vol berigte oor hoe om jou soos ’n Franse vrou te gedra en soos hulle te eet en aan te trek. Dieselfde geld hier in Nederland en, ek glo, in ander Europese lande.

Nou het die sogenaamde influencers oorgeneem, en TV-programme soos Emily in Paris.

Hoe het die Franse manier van lewe so ’n houvas op ons gekry? Eerlikwaar, daar is tog ander lande – soos Suid-Afrika – waar vroue ook mooi aantrek en waar mense lekker kos maak?

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.